Wie onthou nog die Kennis-reeks wat byna in elke Afrikaanse huis ‘n prominente plek op die boekrak ingeneem het? Sewentien volumes van als wat jy nog ooit oor die wêreld wou weet, nou vervang met die druk van ‘n soekenjinknoppie op Google of die tik van ‘n woord op Wikipedia.
Ek het hierdie week aan die Kennis-reeks gedink met die lees van ‘n artikel in die Quarterly Journal of Economics, een van die mees gesaghebbende joernale in Ekonomie. Die outers, Mara Squicciarini en Nico Voigtlander (kom ons noem hulle maar net Mara en Nico), stel belang in die effek van menslike kapitaal (ekonome se manier om na onderwys en opleiding te verwys) op ekonomiese groei. Nou ja, enige regdenkende persoon sal tog weet dat onderwys waarskynlik die mees belangrike faktor is vir ‘n groeiende ekonomie. Ons weet tog dat baie van Suid-Afrika se probleme toegeskryf kan word aan ons lendelam skoolstelsel wat ‘n groot deel van ons bevolking verdoem tot ‘n lewe sonder basiese syfer- en leesvaardighede. En kyk, die statistiek toon dat ryk lande ook die beste onderwysstelsels het. So hoekom moet ons verder hieroor wonder, sou jy kon vra.
Maar Mara en Nico beklemtoon iets wat ekonomiese geskiedkundiges al ‘n lang tyd weet maar katvoet vermy: die nywerheidsomwenteling wat in Europa in die middel van die agtiende eeu begin het, het plaasgevind voor die ontwikkeling van ‘n groot, publieke skoolstelsel. In kort: die dramatiese toename in lewensstandaarde het die ontwikkeling van ‘n skoolstelsel veroorsaak, eerder as wat die skoolstelsel tot beter lewensstandaarde aanleiding gegee het. In ekonomie-terme: die oorsaaklikheid loop van ekonomiese groei na onderwys, en nie andersom nie.
Dit sê natuurlik nie dat massa-onderwys onbelangrik is nie, maar net dat dit nie noodwendig die sleutel is wat ekonomiese transformasie noodwendig gaan ontsluit nie. So wat is hierdie sleutel dan? Mara en Nico kom met ‘n blink idee vorendag: dit is nie soseer dat almal in ‘n samelewing moet kan lees en skryf nie; wat meer belangrik is, is dat daar ‘n groepie individue is wat hoogs-tegniese kennis het wat hulle toelaat om nuwe tegnologie te ontwikkel en innovasies elders na te boots. Sodoende word nuwe produkte ontwikkel wat werkers (selfs ongeskoolde werkers) meer produktief maak, en so word die lewensstandaarde van ‘n groter poel mense verhoog.
Nou maar goed, dink ek. Hoe bewys hulle dat hierdie idee geldig is? Slim: hulle gebruik lidmaatskap aan die Encyclopédie, ‘n wetenskapstydskrif wat in die agtiende eeu in Frankryk versprei is, en korreleer die hoeveelheid intekenaars per stad met die ekonomiese groei van daardie stad. Mara en Nico vind dat hoe meer Encyclopédie intekenaars in ‘n stad was, hoe vinniger het daardie stad gegroei na die ontdekking van innovasies soos die Spinning Jenny en die stoomenjin. (Daar was geen korrelasie voor die ontdekking van hierdie innovasies.) En dis nie net omdat hierdie stede meer mense, of meer skole gehad het nie. Inteendeel, groot stede het nie noodwendig baie intekenaars gehad nie. Dit was eerder die teenwoordigheid van mense wat die wetenskapstydskrif Encyclopédie kon lees, wat die innovasies van die nywerheidsomwenteling kon naboots en as entrepreneurs besighede kon begin wat daaruit voordeel kon trek.
Ek dink oor die toepaslikhied hiervan vir Suid-Afrika. Miskien is ons nie verdoem tot ellende weens ons swak (en skynbaar onveranderbare) skoolstelsel nie. Miskien is wat nodig is eerder ‘n konsentrasie van hoogs-tegniese ingenieurs en sakelui wat innovasies elders kan raaksien en naboots vir die Suid-Afrikaanse konteks. Miskien selfs nuwe tegnologieë ontwikkel wat die gemiddelde werker meer produktief maak (of kostes spaar). Dink aan innovasie-spilpunte in Afrika: Nairobi in Kenya, Accra in Ghana, Lagos in Nigerië, Addis Ababa in Ethiopië. Hierdie lande het beslis nie hoë kwaliteit massa-onderwys nie, maar daar is innovasie, en snelle ekonomiese groei.
Die geheim is natuurlik om dit vir hierdie hoogs-tegniese entrepreneurs so maklik as moontlik te maak om te innoveer. Die Franse Revolusie (1789) het geweldige ellende gebring, maar dit het ook beteken dat die koninklikes nie meer in die pad kon staan van die entrepreneurs om die ekonomie te ontwikkel nie. Net so moet die Suid-Afrikaanse owerheid nie in die pad staan van entrepreneurs nie: verminder administratiewe rompslomp, maak dit makliker om geskoolde buitelanders aan te stel, verbeter die land se pad-, hawe- en spoor-infrastruktuur, en omdat alles omtrent deesdae elektronies plaasvind, prioritiseer hoë-spoed internettoegang.
‘n Swak onderwysstelsel is hartseer en onregverdig, en dit beteken dat daar minder hoë-tegniese entrepreneurs gaan wees. Maar dis nie opgsigself ‘n verdoemenis nie; ‘n land kan steeds vinnig groei al is sy onderwysstelsel nie op wêreldstandaard nie. Soos ekonome se kennis van die verlede verbreed, so verstaan ons beter wat die mees dringende beleidsveranderinge moet wees om die ekonomie te help groei. Daar is baie goed wat die regering kan en moet doen om die ekonomie aan te hits. Maar as ons vir al daai goed wag om gelyk te gebeur, dan gaan ons lank wag. Maak eerder dit vir daardie entrepreneurs met die hoogs-gespesialiseerde kennis dit so aanloklik as moontlik om hul eie ondernemings te begin. Lê klem op die opleiding van ingenieurs, wetenskaplikes en rekenaarprogrammeerders om die kennis-elite te vergroot, en stel grense oop vir buitelanders met opleiding in hierdie rigtings. Laat stede en dorpe meëding om hierdie mense te huisves; burgemeesters weet dat hoe groter die poel van superslim spesialiste, hoe meer werk gaan geskep word (vra maar vir Stellenbosch se Conrad Sidego).
Daar is ‘n lang pad wat vir Suid-Afrika voorlê om van sy huidige ekonomiese sluimer te ontwaak. Maar slim, strategiese beleidsbesluite kan geweldig baie doen, selfs in die teenwoordigheid van enorme strukturele uitdagings. Kennis is mag, selfs vir burokrate.