Wie het nie al gedagdroom dat hul die Lotto wen nie? Dink net: jy’s ses nommers weg van ’n luukse oorsese vakansie, ’n wildsplaas (die Lotto gaan waarskynlik nie genoeg wees nie), of vir die meer omsigtiges onder ons, ’n spaarrekening vir kleinsus se Harvard universiteitsstudies.
Die gelukkige wenner van verlede week se Powerball boerpot, wat die wenkaartjie by ’n vulstasie in Mokopane gekoop het, se lewe sal nooit weer dieselfde wees nie: R87 miljoen kan meeste mense se drome waar maak.
Maar bring só ’n boerpotmeevaller wel ’n beter lewe?
Dít is die vraag wat twee onlangse studies in die gesaghebbende Quarterly Journal of Economics probeer beantwoord. Die eerste, geskryf deur ’n span van vier outeurs, volg Sweedse loterywenners om die impak van hierdie kapitaalskok op hulle lewenswel en -weë en dié van hulle kinders te ondersoek. Die wonderlike ding van loterye is dat die wenners heeltemal lukraak bepaal word, en daarom kan die resultate soos ’n laboratoriumeskperiment interpreteer word.
Vir die wenners is daar verrassend genoeg geen verandering in lewensverwagting of hul gebruik van gesondheidsorg nie. Die wenners het dus nie meer medikasie of beter behandeling met hulle kapitaalinspuitings gekoop nie, en het dus ook nie langer geleef nie. Die Lotto kan dalk jou drome waarmaak, behalwe as daardie drome onsterflikheid is. Die navorsers vind wel ’n klein maar beduidende afname in die gebruik van medikasie vir geestesgesondheid.
Vir die kinders van die loterywenners is daar wel ’n paar veranderinge: daar is ’n toename in die gebruik van mediese dienste en ’n afname in vetsug. Maar die meerderheid van uitkomste, soos dwelmgebruik, skoolpunte, en praktiese vermoëns, toon geen veranderinge nie.
Die gevolgtrekking is dat, in ryk lande met ’n goeie maatskaplike veiligheidsnet, ’n skielike toename in kapitaal nie veel aan die lewensuitkomste van wenners en hul kinders maak nie. Dit beteken daar is ander faktore wat verantwoordelik is hoekom sommige mense ryker is, of langer leef, as ander, en dat dit nie ’n geldtekort is wat hulle keer om uit te styg nie.
Maar nie almal van ons leef natuurlik in ’n ryk land met ’n goeie maatskaplike veiligheidsnet nie. Die tweede studie is daarom relevant. Twee Amerikaanse ekonome, Hoyt Bleakley en Joseph Ferrie, ondersoek die impak van die Cherokee Land Lottery van 1832 in die Amerikaanse staat van Georgia. Byna alle wit mans het vir dié grondlotery ingeskryf – en die wenners het grond ontvang wat van die Cherokee Indiaanstam ontneem is. Weereens, omdat dit ’n lotery was, was die allokasie heeltemal lukraak. Bleakley en Ferrie kan dus die wenners en ‘verloorders’ van die lotery met mekaar vergelyk, om te sien of dié wat grond gratis ontvang het, en hul kinders, enigsins beter af was as dié wat niks ontvang het nie.
Die resultate is niks minder as verrassend nie. Hoewel grondontvangers effe meer kinders as die nie-grondontvangers gehad het, het hulle kinders nie beter op skool gedoen, of meer jare van onderwys ontvang nie. Teen die tyd dat hulle volwassenes was, was die kinders van grondontvangers ook nie ryker of meer geletterd as hul eweknieë van grondlose ouers nie, en was húlle kinders (dus die kleinkinders van die grondontvangers) ook nie meer geletterd nie.
Die punt is: selfs in ’n arm land soos in Amerika in die vroeë neëntiende eeu (in 1830 was die gemiddelde Amerikaner ongeveer so ryk soos die gemiddelde Nigeriër vandag) was kapitaal nie wat die suksesvolles teruggehou het nie. Jy kon mense grond of ander vorm van kapitaal gee – gratis – maar dit sou byna geen effek op hulle langtermyn welvaartsvlakke hê nie.
Sulke studies beklemtoon weereens hoekom Thomas Piketty se oortuiging dat kapitaal die bron van welvaart is met ’n groot sak sout geëet moet word. En hoekom grondhervorming in Suid-Afrika waarskynlik nie die uitwerking gaan hê waarop die begunstigdes hoop nie.
So lekker dit is om te dagdroom oor wat jy gaan doen met daai miljoene wanneer jou skip eendag inkom (’n seiljag, soos Maree sou sing, al is dit net ’n kleintjie), is die harde realiteit dat ’n boerpot jou en jou kinders in die langtermyn weinig gaan baat. Dis ander faktore wat sukses bepaal.