Ek is op daardie ouderdom wat my vriende begin huise bou. Dis moeilike besluite wat hulle laatnag wakkerhou: watter styl, grootte, boumateriaal en tegnologie gaan pas binne die begroting? Huisbou, soos ek begin leer, is meer as net perde koop, want die tipe huis wat jy bou sê iets oor die lewe wat jy jouself (moontlik saam met ‘n geliefde) sien leef. Twee of drie kamers? (Wil ons kinders hê, en indien wel, hoeveel?) Gas- of elektriese stoof? (Hoe omgewingsbewus is ons? Gaan sonkrag dalk binnekort Eskom vervang?) Een of twee motorhuise? (Gaan ons twee motors onderhou, of eerder Uber of ‘n fiets gebruik?)
Wat my opval is hoe hierdie planne (of toekomsdrome) verskil tussen streke, dorpe en selfs tussen woonbuurte. In Pretoria bou jy natuurlik ‘n lapa; iets wat ons nie in die Kaap ken nie. En in sommige van die nuwe sekuriteitsbuurte is daar streng bouregulasies sodat ‘n huis wat jy vir een buurt ontwerp nie net automaties elders kan pas nie. Mens sou dink dat argitekte teen die tyd ‘n templaat van byna elke huistipe het; en tog kan hulle nie voorbly om unieke ontwerpe vir hul kliente te skep nie.
Die nuwe bouplanne wat my vriende optrek laat wonder my hoekom beleidsmakers so gretig is om ander lande se ‘bouplanne’ – hul bloudruk vir ekonomiese ontwikkeling – na te boots sonder om dit aan te pas vir plaaslike omstandighede. ‘n Nuwe verslag van die Verenigde Nasies se Ekonomiese Kommissie vir Afrika is ‘n klassieke voorbeeld van hoe adviseurs suksesverhale van ander wêrelddele wil naboots, sonder om die geografie, geskiedenis en institusies van Afrika in ag te neem. Die Kommissie maak die geldige punt dat Afrika se groei nie bloot op hoë kommoditeitspryse gebou kan word nie – die insinking in byvoorbeeld die prys van ystererts het geweldige gevolge vir gemeenskappe wat op dié bedryf staatmaak.
Maar wat is die alternatief? Nywerheidsbeleid om die vervaardigingsektor te vergroot, skryf die Kommissie. Hulle verwys veral na die suksesverhale in die Ooste waar nywerheidsbeleid gebruik is om werk vir ongeskoolde werkers in enorme fabrieke te skep. Dit is die toekoms wat hulle vir Afrikalande toewens.
Ongelukkig sit hulle die pot mis. Die wêreld is besig om vinnig te verander, en die fabrieke van ouds met duisende ongeskoolde werkers is nie hoe produkte in die toekoms vervaardig gaan word nie. Lees gerus Elon Musk, die Suid-Afrikaner wat SpaceX, Tesla en SolarCity begin het, se biografie: die grootskaalse verberging van elektrisiteit in batterye, gaan die tradisionele model van elektristeitsopwekking deur enorme kragsentrales binnekort verouderd maak (waarskynlik net mooi wanneer Medupi en haar sussie Kusile volledig aanlyn kom). Die enorme Tesla Gigafabriek wat hy in Nevada bou gaan net ‘n paar hoogsgekwalifiseerde ingenieurs benodig. Vervaardiging in die toekoms – met 3D-drukkers en robotte – gaan beslis anders lyk as die Chinese fabrieke van ‘n dekade gelede. (Die Chinese besef dit self, en is besig om baie te belê in kapitaal-intensiewe produksie.)
So watter bloudruk moet Suid-Afrika dan volg? Dis bitter moeilik om te beantwoord juis omdat die toekoms so onseker is, en moontlik ook omdat Suid-Afrikaners verskillende toekomsdrome het. Maar die antwoord, sou ek dink, lê in toegang tot tegnologie. Dis nie nodig om vervaardiging heeltemal by die venster uit te gooi nie, maar invoertariewe om maatskappye te beskerm, soos tans voorgestel word, kom altyd ten koste van iemand anders – en dit is gewoonlilk arm verbruikers. Dink dus eerder aan watter vervaardiging ‘n nismark in die toekoms gaan vul: Suid-Afrika het uitstekende wind- en sonkragpotensiaal, byvoorbeeld, en daarom sou dit sin maak vir die regering om die ontwikkeling van vervaardigingskapasiteit in hierdie sektore te ondersteun.
Tegnologie help nie net werk skep in nuwe industrie nie. Meer en meer navorsing toon ook dat toegang tot breëbandtegnologie ‘n belangrike rol speel in armoedeverligtingsstrategieë: dit gee arm huishoudings toegang tot dienste wat voorheen uiters duur of heeltemal ontoeganglik was. Dink maar net hoe moeilik dit is om inligting oor studiemoontlikhede en werksgeleenthede te bekom sonder die internet, en die geleenthede wat gratis toegang tot inligting oor treinskedules, mediese sorg of munisipale dienste moontlik maak.
Bouplanne soos deur ‘n argitek opgetrek is natuurlik een deel van huisbou. Die tweede deel is die bou self. En bou, het ons die afgelope twee dekades in Suid-Afrika geleer, is waarskynlik die moeilikste deel: koördinasie tussen die verskillende bouspanne is moeilik, sommige verkies om stadig te bou en so hul werk te beskerm, en ander besluit dis makliker om van die boumateriaal vir eiegewin te neem. Suid-Afrika se ekonomiese beleidmaking kan hoe goed wees, as ons nie die staatsamptenare het wat moeilike vakbonde en korruptes kan vasvat nie, gaan ons nie veel kan uitrig nie.
Suid-Afrika kan nie in die huidige klimaat, waar rantsoenering die wagwoord is, uitspattige bouplanne bekostig nie. Maar dit beteken nie ons moet lae-gehalte boumateriaal kies wat ons in die langtermyn duur te staan gaan kom nie. Kom ons bou eerder ‘n klein huisie met ‘n sterk fundament (en dalk ‘n paar sonpanele). Daar sal eendag kans wees vir ‘n tweede en derde vloer, en selfs ‘n lapa as jy in Pretoria bly.