My vriend Willem kla altyd dat ekonome akademiese imperialiste is. Die bekende ekonoom Alfred Marshall het sy vakgebied reeds ‘n eeu gelede omskryf as die ‘studie van die mens in sy daaglikse leefwêreld’. En sedertdien het ekonome al byna elke faset van die mens se leefwêreld analiseer, van hul huwelikskeuses tot wêreldwye resessies, van die redes hoekom mense rook tot die internasionale handelsnetwerke van globale firmas. Dit is dus geen verrassing dat ekonome ook begin het om hul tegnieke op ‘n ander aspek van ons daaglikse leefwêreld begin toepas het nie: sport.

Sport is by uitstek die studie van insentiewe. So, byvoorbeeld, wonder een studie in die Journal of Sport Economics hoekom die wedstrydtellings van manstennis so naby aan mekaar is (7-6 7-5, 6-4, byvoorbeeld), terwyl die tellings in vrouetennis soveel verskil (6-2, 6-1). Hul antwoord: die dimensies van ‘n tennisbaan is ontwerp vir mans. Die fisiese karaktereienskappe van mans het geen effek op die eindtelling nie. Dit is nie waar vir vroue nie: langer vroue, vind hulle, het ‘n groot voordeel, selfs al kontroleer mens vir baie ander faktore. Hul oplossing om vrouetennis meer mededingend te maak: maak die baan kleiner vir vroue, of verander die bal se gewig. As ons dit vir hekkies, of basketbal, kan doen, hoekom nie ook vir tennis nie?

Nog ‘n studie in dieselfde joernaal kyk na watter tipe basketbalspelers meer geneigd is om in die laaste paar sekondes van ‘n wedstryd te ‘choke’. (Ek het gehoop ek leer iets wat dalk vir die Proteas van waarde kan wees.) Die antwoord is dat die spelers met meer op die spel – die beste spelers, wat dalk ‘n aanbod van ‘n hoër liga kan kry – meer geneig is om te ‘choke’. (Dit is nie baie gerusstellend om te weet dat ons Wêreldbekerkatastrofes eintlik maar net was omdat ons die beste span op die veld was nie.)

Nog ‘n studie in die joernaal, waaraan ek en ‘n Spaanse kollega gewerk het, het die impak van die 2009 Wêreldbeker-kwalifiserende sokkerwedstryd tussen Frankryk en Ierland op die Suid-Afrikaanse ekonomie ontleed. Thierry Henry, die Franse doelskieter, het sy hand gebruik om Frankryk te help ‘n doel aanteken, waarmee hulle eerder as Ierland vir die toernooi in Suid-Afrika kon kwalifiseer. Daardie doel, bereken ons, het amper R1 biljoen tot die Suid-Afrikaanse ekonomie toegevoeg, in die vorm van meer buitelandse toeriste wat tydens en na die toernooi na Suid-Afrika gekom het. Henry verdien beslis ‘n beloning van ons Minister van Toerisme.

Maar dit is rugbyseisoen, en daarom het ek en ‘n student, David Stephens, ‘n bietjie data bymekaargemaak om te kyk hoe rugby se spelstyl oor tyd verander het. Hiervoor het ons die lengtes en gewigte van al die spelers wat al ooit ‘n Springboktrui oor hul kop getrek het ingesamel. Dit het ons toegelaat om die lengtes van byvoorbeeld hakers en slotte oor tyd met mekaar te vergelyk.

Dit is interessant om te sien dat hakers en slotte baie min van mekaar verskil het toe die Springbokke die eerste keer in die vroeë twintigste eeu op die veld gedraf het. Hakers se lengte het weinig verander oor ‘n eeu. (Hulle het wel meer as 20kg swaarder geraak.) Maar slotte se lengte het skerp toegeneem, met amper 20cm oor ‘n eeu. Rugbyposisies het duidelik al hoe meer gespesialiseerd geraak.

Nog iets wat hierdie data kan aanspreek is die stadige spoed van transformasie wat vir almal ‘n ernstige kwessie is. Vyftienmanrugby vereis groot en sterk spelers, ten minste die styl wat die Springbokke tans speel. Dit beteken net lank en swaar spelers gaan vir die Bokke gekies word. Die gemiddelde wit Suid-Afrikaner is vandag ongeveer 10cm korter as die gemiddelde wit Springbokspeler; die gemiddelde swart Suid-Afrikaner is ongeveer 16cm korter as die gemiddelde swart Springbokspeler, en 18cm korter as hul wit Springbok eweknie. Die poel van swart spelers, gegewe die huidige behoefte aan groot en sterk spelers, is dus baie beperk.

Die Springbok sewesspan het natuurlik hierdie probleem omseil deur hul spelstyl te verander. New Zealand se sewespan is gemiddeld 3cm per speler langer as ons s’n, maar tog het ons ‘n styl gevind wat ons fisiese eienskappe pas. Miskien is so ‘n suksesresep beperk tot sewemanrugby. Maar miskien sal die volgende Springbokafrigter effens meer innoverend moet dink oor die tipe rugby wat die Springbokke opdis, ‘n spelstyl wat pas by die beskikbare spelers eerder as om die spelers te vind wat moet pas by die spelstyl.

Miskien moet die volgende Springbokafrigter ‘n ekonoom wees. Dít sal Willem veral ontstel.