In September 1683 plaas ‘n Londonse koerant die berig van ‘n insident uit die Franse provinsie Dauphine. Dáár, so lui die berig, het ‘n groep Protestante bymekaargekom om te aanbid. ‘n Troep dragonders (dragoons – die naam kom van die draakvormige loop van die Franse musket) onder bewind van Lodewyk die Veertiende, het die kerkgebou omring en 200 van die aanbidders afgemaai. Nog ‘n 100 is in ‘n nabye skuur gejaag wat toe aan die brand gesteek is.

Die vervolging van die Hugenote in Frankryk teen die einde van die sewentiende eeu was nie oral so geweldadig nie, maar dat sulke voorvalle plaasgevind het verduidelik hoekom honderdduisende Hugenote besluit het om hul tasse te pak en nuwe weivelde te soek. Meeste het na Geneva of Rotterdam of London uitgewyk, stede waar hulle (aanvanklik) verwelkom is. Van daar is sommige verder, na die Amerikaanse kolonies en selfs na die suidpunt van Afrika, waar hulle by die VOC se verversingsstasie aan die Kaap ‘n nuwe tuiste sou bou.

Die storie van die Hugenote kry ‘n wonderlike vertelling in Owen Stanwood se nuwe boek, The Global Refuge. Stanwood lê veral klem op hoe die Hugenote die ekonomiese en geopolitiese drukpunte van die dag tot hul voordeel gebruik het: so, byvoorbeeld, is die Hugenote se wynverbouing en sy-vervaardiging vermoëns gereeld beklemtoon om grondgebied vir hulle te bekom. Dit was dan ook hul wynverbouingsvermoëns wat die VOC oortuig het om ongeveer 150 van hulle na die Kaap te stuur.

Wat my veral van die boek opval – asook die indrukwekkende opgeknapte Hugenotemuseum in Franschhoek, wat ‘n besoek werd is – is die ooreenkomste met die retoriek rondom immigrasie vandag. Ten spyte van die ekonomiese inspuiting wat die Hugenote se koms in telke lande gehad het, is hulle nie oral verwelkom nie. Hul Fransheid is soms teen hulle gehou: daar is gesê dat hulle spioene vir die Franse koning was (ten spyte van die gruweldade wat Lodewyk gepleeg het). Hulle is soms misdadigers genoem, veral wanneer daar inderdaad enkeles was wat opportunistiese misdade gepleeg het. En hulle is soms van luiheid aangekla; in die Kaap het Simon van der Stel, byvoorbeeld, die volgende oor die Hugenootsetlaars te sê gehad: Hulle het hier aangekom ‘onder die dekmantel van ywerige ondersteuners van die Protestantse geloof, maar nou is hulle lui en traag’.

Die Kaap, so blyk dit uit die boek, was een van die min suksesvolle Hugenote-hervestigings. (Daar is fassinerende maar ook tragiese stories oor pogings om ‘n Hugenote Utopia in die Indiese Oseaan – vandag Reunion Eiland – te vestig.) Die rede vir hul sukses hier en op enkele ander plekke, volgens Sherwood, was integrasie. Op te veel plekke het die Hugenote hul eie gemeenskap probeer vorm, geisoleerd van ander, maar het onvermydelik teen ander se belang gebots, of dit nou die plaaslike bewindhebber of ekonomiese elite of selfs die Franse koning was. Aan die Kaap het Van der Stel ‘n doelgerigte integrasieplan gevolg; Hugenote is plase tussen dié van Hollandse boere gegee.

Vyf dekades na die Hugenote aan die Kaap gevestig het, het ‘n Franse besoeker opgemerk dat net enkele ou mense nog die Franse taal kan praat. Meeste Hugenote-kinders en -kleinkinders kon hul sukses toeskryf aan die opofferinge van hul ouers, om hul Hugenote identiteit te laat vaar en deel te word van ‘n nuwe identiteit: Kaapse setlaars aan die voetpunt van Afrika.

Verlede Vrydag verskyn ‘n verslag van die Ouditeur-Generaal oor ongedokumenteerde immigrante in Suid-Afrika. Dit spel uit hoe wanfunksioneel die Departement van Binnelandse Sake is: daar is onsekerheid oor byna een miljoen asielsoekers in Suid-Afrika, mense wat tipies moes vlug uit gruwelike omstandighede in hul land van herkoms. Hierdie mense kry nie die nodige dokumentasie of behandeling wat hulle ‘n geleentheid gee om ‘n nuwe lewe te bou nie. Dis juis in sulke wanhopige omstandighede, vermoed ek, wanneer die enigste alternatief misdaad is.

Die gruverhale wat immigrante soms vertel – van die Kongolees wat ‘n oorlog moes ontsnap tot die Zimbabweër wat hongersnood en ander ontberinge moes oorkom – herinner my dat ons soms nader aan mekaar is as wat ons dink. My stamvader, Louis Fourie, het hierheen geseil op die Wapen van Alkmaar, ‘n plaas net buite vandag se Wellington ontvang, en daar vir 51 jaar geboer. Hy was dalk nie die mees welvarende boer nie, maar het 21 kinders gehad en 99 kleinkinders, waarvan byna almal ooswaarts getrek het, in Swellendam en die Langkloof se rigting. Statisties behoort meeste Afrikaners vandag iewers ‘n Fourie voorsaat te hê.

En tog, dit kon so anders gewees het, want Louis Fourie, so vind ek uit, was afkomstig uit Dauphine in Frankryk, die eintste provinsie waar die Hugenote meëdoenloos deur Lodewyk afgemaai is. Die jonge Louis kon net so maklik een van die 300 Hugenote gewees het wat in 1683 deur Lodewyk se dragonders vermoor is.

Daar is geen manier die Hugenote sou suksesvol wees sonder die ondersteuning (grond!) van die VOC nie. Die minimum wat ons kan doen vir vlugtelinge vandag is om hulle te bemagtig met die nodige dokumentasie. Dit sal makliker wees as ons besef dat ons eintlik almal immigrante is, oud en nuut, en ons toekomstige sukses, of dit nou maklik is of nie, hang daarvan af om rondom ‘n nuwe identiteit hier aan die suidpunt van Afrika te integreer.

* ‘n Verkorte weergawe van hierdie skrywe het op 16 Februarie in Rapport verskyn.