Hoekom neem ons altyd ‘n tuisgemaakte lasagna na ons buurman as sy vrou in die hospitaal is, eerder as om een by Woollies te gaan koop? Hoekom skryf ons ten duurste in vir ‘n universiteitsgraad, terwyl mens dieselfde kennis kan opdoen deur net die klasse (gratis) by te woon? Hoekom betaal maatskappye so baie vir advertensies tydens groot sportgeleenthede?
Die sleutel tot al hierdie antwoorde lê in die mens se behoefte, skryf Kevin Simler en Robin Hanson in ‘n nuwe boek Elephant in the Brain: Hidden Motives of Everyday Life, om ander mense te beïndruk, ‘n behoefte waarvan ons meestal nie direk van bewus is nie. Ons is sosiale diere. Ons breine is daarom nie net ontwerp om te jag en versamel nie, maar ook om sosiaal uit te styg in ons groep, selfs al is dit op ‘n onderduimse manier en ten koste van ander. En as jy dadelik dink – maar ek is nie só nie! – dan het Simler en Hanson ‘n antwoord: jy doen dit sonder dat jy daarvan bewus is. Ons selfsugtige aksies is eintlik suksesvol juis omdat ons nie heeltemal besef (en aan onsself erken) hoekom ons sekere besluite neem nie.
Dink aan die lasagna vir die buurman. Hoekom is daar hierdie ongeskrewe reël dat dit tuisgebak moet wees, eerder as winkelkos? Dit is omdat ons nie net omgee oor die welstand van ons buurman nie (want hy sou dalk Woollies verkies), maar ook oor wat hy (en sy famillie en ons ander bure) van ons dink. Ons wil wys dat ons goeie bure is, en deur ons (duur) tyd op te offer om self lasagna te maak, toon ons dat ons goeie ‘alliansievennote’ is. Ons is dus gewikkel in ‘n geheime politieke spel wat ons gedrag dryf sonder dat ons daarvan bewus is.
Ons liggame het so ontwikkel dat ons eintlik onbewus is van hierdie spel. Hoekom lag ons? Dit is ‘n sein om vir ons alliansievennote te sê dat ons aan hulle kant is. Dink mooi oor wanneer ons lag in vreemde geselskap: dit is meestal ‘n effe-ongemaklike spanningspunt. Ons lag om die situasie te ontlond, om vir die spreker te wys dat ons deel van hulle span is.
Dit is hoekom baie van hierdie onderliggende politieke spel in ons liggaamstaal ‘gelees’ kan word en nie in wat ons werklik sê nie. Liggaamstaal is die universele taal wat almal verstaan, en dit oorkruis kontinente en kulture. Ons verstaan selfs die liggaamstaal van ander primate redelik goed, al kan ons nie ‘n woord met hulle praat nie. Dit is omdat liggaamstaal vroeg in die ewolusionêre tydlyn reeds ontwikkel het. Die volgende keer as jy Boer Soek ‘n Vrou kyk, byvoorbeeld, sit die klank af. Mens kan dadelik sien watter verhouding ‘werk’, sonder om na die nietighede te luister wat die deelnemers kwytraak (terwyl hulle weet daar is ‘n mikrofoon wat luister). Hulle liggaamstaal verklap wat hulself nie eens van bewus is nie, Simler en Hanson se olifant in die brein.
Hierdie ‘olifant’ kan mens nogal ontstel. Dit verduidelik hoekom ons meer praat as luister, hoekom ons geneig is om oneerlik ons belasting te rapporteer, hoekom ons kunstenaars sexy vind (antwoord: omdat hulle hul tyd mors), en hoekom ons horlosies koop wat heeltemal te duur is.
Maar selfs meer bisar, Simler en Hanson verduidelik ook hoekom die groot, sosiale instellings wat ons geskep het, soos die skoolstelsel, eintlik ons politieke doelwitte nastreef eerder as die edele intensies wat ons voorgee as rede vir hul bestaan. Is die skoolstelsel regtig daar om kennis oor te dra, of is dit eintlik maar net ‘n manier om ons kinders teen ander s’n te meet en te gradeer? Simler en Hanson takel gróót onderwerpe: Is ons mediese stelsel nie heeltemal te groot nie? Hoekom gaan ons elke Sondag kerk toe? Hoekom gee ons geld vir liefdadigheid?
As ons bewus word van ons geheimde motiewe, ons politieke wedywering om ons groep, netwerk en klub te versterk, dan kan mens nogals sinies na die wêreld begin kyk. Is ons nie almal maar net deel van ‘n uitvoerige borsslanery om te wys wie’s baas nie? Dit is inderdaad een interpretasie van die boek.
Maar om bewus te wees van hierdie motiewe kan ook baie waardevol wees. Miskien hoef ons nie só onsteld te wees oor ‘n onderwysstelsel wat patetiese resultate jaar-op-jaar lewer nie: al wat dit beteken, is dat Suid-Afrika se skoolpunte ‘n slegte maatstaf is om jongmense aan te meet.
‘n Boek wat jou beslis sal uitdaag, maar ‘n boek wat jou ook sal help verstaan hoekom mense somtyds teenstrydig optree. Lees dit vir ‘n lekker gesprek om ‘n braaivleisvuur. Al is dit net om, onbewustelik, vir jou vriende te wys hoe slim jy is…