Ek en my vrou loop onlangs deur die binnestad van Boston opsoek na aandete. ‘n Klein plekkie in ‘n systraat – Spyce – trek ons aandag. Die fotos op die spyskaart lyk aptytwekkend: ‘n bord gerookte hoender met soetpatat en kerriesous, of kekerertjies met olywe, tamaties, krulkool en komkommerslaai. Geregte uit Marokko, Thailand, Indië en Lebanon, en ‘n verskeidenheid ander. Dit lyk lekker, en ons stap in.
Maar ons besef vinnig hierdie is geen gewone restaurant nie. ‘n Vriendelike man wys ons na ‘n rekenaarskerm. Jy tik jou naam in, plaas jou bestelling, betaal, en dan draai jy na die voorkant van die restaurant waar jou kos vervaardig word. Sien, Spyce het geen kok nie. Al die bestanddele word deur ‘n gesofistikeerde stel robotte in ‘n aluminiumpot gegooi – een van sewe wat agter die toonbank vertoon word en my herinner aan ‘n reeks perm-masjiene in ‘n haarsalon. Wanneer al die bestanddele in is, sak die pot op ‘n 45-grade hoek na voor, en begin tol. Só sien jy jou kos gaarword. Daar is selfs ‘n skermpie bo elke draaiende pot wat jou laat weet: ‘We are now preparing your Thai meal, Johan’.
Welkom in die toekoms van kitskos. Of, soos ‘n resensent oor hierdie restaurant wat in Mei oopgemaak het sou skryf: ‘ ‘n Robot het my kos gemaak, en dit was baie lekker’. Want dit was. Vars bestandele, perfek voorberei met net die regte hoeveelheid sous, hitte en speserye. En die wonderlike is: ek weet dat ek elke keer presies dieselfde hoë kwaliteit sal kry.
Spyce het steeds werknemers. Daar was ‘n baie vriendelike ou by die deur om ons welkom te heet en te verduidelik hoe die proses werk. Daar was ‘n meisie agter die toonbank wat die warm bord uit die masjien gehaal het, ‘n bietjie jogurt bygevoeg het, en ons bedien het. Tussendeur kon ons lekker met haar gesels, en het sy tyd gehad om koeldranke te bedien. En ons kon een persoon in die ‘kombuis’ sien (die spasie agter die masjien), wat seker maak die bestanddele word opgevul.
Spyce is die eerste van sy soort, maar sal beslis nie die laaste wees nie. Kitskosrestaurante soos McDonalds is reeds besig om sekere dele van hulle diens te outomatiseer. Daar is ander entrepreneurs, veral in lande waar arbeid baie duur is, wat probeer om robotte te ontwerp wat burgers, pizzas, pastas en vele ander tipe geregte kan vervaardig.
Outomatisering is natuurlik niks nuuts nie. James Hargreaves se Spinning Jenny het reeds in die agtiende eeu gehelp om die vervaardiging van klere te versnel. Dit het aanvanklik talle tekstielwewers sonder werk gelaat, maar het ‘n transformasie van die ekonomie teweeggebring wat ons later die nywerheidsomwenteling sou noem, met lewensstandaarde wat dramaties verbeter het. Vandag het ons masjiene wat byna elke huishoudelike taak, soos wasgoed was en kos warm maak, vergemaklik. Hierdie innovasies sou veral vroue meer vryheid gee om toe te tree tot die arbeidsmark.
Gaan die nuwe kosrewolusie (‘n ander een as Tim Noakes s’n!) dieselfde impak hê? Indien hierdie tipe restaurante skielik posvak – en dit is nie ‘n gegewe in Suid-Afrika nie, gegewe die relatiewe goedkoop koste van ongeskoolde arbeid – gaan minder personeel per restaurant natuurlik nodig wees. Daar kan werksverliese wees. Maar dit gaan nie noodwendig beteken dat minder werk in totaal beskikbaar gaan wees nie. Miskien raak kitskos so goedkoop dat daar baie meer restaurante oopmaak. Nie net sal hierdie nuwe restaurante werk skep nie, maar dit sal veral mense toelaat om self minder tyd aan kosmaak te spandeer. Só kan mense dus meer tyd spandeer om te doen waarin hulle goed is (en waarvoor hul betaal word) – of kies om meer tyd saam met hulle families en vriende te spandeer. Dit kan ook beteken dat arm mense dalk toegang kry tot gesonder geregte, wat ook vir die res van die samelewing positief sal wees.
Soos kos goedkoper raak, sal ons reële inkomste toeneem. In ander woorde, al bly ons salarisse dieselfde, sal ons ‘n groter mandjie goedere kan koop as voorheen. Minder geld op gesonde kitskos beteken meer geld vir al die ander goed wat ons graag wil hê.
Wat my laat wonder: wie gaan die eerste robotbraaimasjien bou?