These are dark times. Responses to covid-19, require informed opinions from a variety of scholars, not just epidemiological models. The insights from behavioural scientists, in particular, can help us to balance the difficult trade-offs between lockdown and opening the economy. Given the precarious living standards of many South Africans, we should caution against a too conservative approach – one that focuses only on what we measure (mortality and morbidity from disease) and ignores what we don’t (mortality and morbidity from malnutrition). We have to choose between a rock and a hard place, a choice that we can only make if we listen to the voices from several scientific fields.
*This article was published as an Afrikaans opinion piece in Die Burger of 21 April 2020. The full transcript is reprinted below.
***
Die virus en die meegaande grendelstaat het ons in ‘n donker tyd gedompel. Alle aanduidings is dat ‘n selfs donkerder tyd voorlê. Dit is dus belangrik om te vra: na wie luister die leiers wanneer hulle besluite moet neem? Wie is die stemme in hierdie donker tyd?
Die goeie nuus is dat wetenskaplikes, anders as in baie ander lande, ‘n belangrike rol in Suid-Afrika speel. Prof Salim Karim se aanbieding verlede Maandagaand was insiggewend, oortuigend en verantwoordelik. So ook die paneellede wat saamgesels het.
Maar die virus en die teenreaksie vereis meer as net een tipe kennis. Veral as mens die gevolge van die grendelstaat begin bereken, moet die epidemiologiese vooruitskappings geweeg word teen ander vooruitskattings, soos die invloed op armoede en hongersnood, en die moontlikheid van sosiale onrus. Hierdie resultate moet natuurlik weer inspeel om die epidemioloë se modelle: mense wat in groepe plunder en betoog verhoog die waarskynlikheid dat die siekte vinniger versprei. Ons grootste uitdaging is nie meer biologie nie; dis gedrag.
Daarom sou ek graag wou sien dat ons leiers meer met gedragswetenskaplikes gesels. In die epidemiologiese modelle wat die rondte doen, word aannames gebaseer op slegs virologiese eienskappe. So, byvoorbeeld, is ‘n algemene aanname tans dat een persoon die virus na 3 ander mense versprei (die R0). Maar hierdie syfer word oor lande en bevolkingsgroepe herhaal, en neem geensins in ag die geweldige gedragsverskille tussen mense nie. Om een ligsinnige voorbeeld te gee: Nigeriërs is die wêreldbevolking met die grootste WhatsApp groepe – daar is gemiddeld meer as 50 mense in elke Nigeriese Whatsapp groep. Daarenteen ken ek skaars 50 mense! In kort, die aard van sosiale interaksies verskil geweldig oor groepe heen – nie net in die hoeveelheid kontak wat mense het nie, maar in die tipe netwerke wat hulle vorm. Hier kan wiskundiges geskoold in netwerk analise ons baie help: kan ons nie aan innoverende beleid dink wat mense se tussenliggingsentraliteit verminder sonder om hul vryhede veel in te perk nie?
Die werk wat epidemioloë doen is uiters belangrik en hul insette is noodsaaklik. Maar dit kan nie die enigste insette wees nie. Daar is ‘n legio van vakdissiplines wat waardevolle insette kan en moet lewer, van ekonome met hulle makro-modelle, filosowe met hul verstaan van etiek, wiskundiges met netwerk analises, datawetenskaplikes met masjienleer, historici met hul lesse uit die verlede, en ingenieurs wat ons help om nuwe tegnologieë te ontwikkel om pandemieprobleme die hoof te bied.
Hierdie kennis gaan nodig wees omdat ons binnekort ‘n tyd betree waar ons komplekse keuses gaan moet neem, keuses wat ons voor gruwelike afruilings gaan plaas. As ons na net een vakdissipline gaan luister, gaan ons verkeerde besluite neem. Hoekom? Die gedragsekonoom, Dan Ariely, verduidelik in ‘n 2010 Harvard Business Review: ‘Mense pas hul gedrag aan op grond van die maatstawwe waarteen hulle gemeet word. As jy iets meet gaan die persoon eenvoudig als anders los en fokus op daardie een maatstaf. Wat jy meet is wat jy kry. Punt.’
Daagliks word die hoeveel covid-19 gevalle en sterftes gemeet en gerapporteer. Dit is waarteen ons leiers, veral president Ramaphosa, Zwedi Mkhize en Prof Karim, tans gemeet word. Wat ons nie meet nie is die hoeveelheid sterfgevalle weens hongersnood of sosiale onrus. As Ariely reg is, beteken dit ons leiers sal (onbewustelik) sydig wees in hulle keuses: hulle sal die hoeveelheid sterfgevalle van covid-19 so laag as moontlik wil hou en die ander (ongemete) sterfgevalle minder swaar sweeg. Hierdie keuse het natuurlik ook verdelingsgevolge, met ryker mense wat meer geneig sal wees om van Covid as van hongersnood te sterf.
Ek weet die president en sy span ministers is bewus van die nodigheid om uiteenlopende stemme te hoor en dat hulle reeds met ‘n verskeidenheid kenners gesels. Gisteraand se aankondigings van ekonomiese ondersteuning getuig hiervan. Maar dit sal goed wees as hierdie stemme ook met die res van Suid-Afrika gedeel word. Op die oomblik sien ons net Prof Karim met sy epidemiologiese model en meet die staat se reaksie teen die getal covid-19 sterftes – net die een kant van ‘n veelvoudige probleem.