My vriend Willem vertel my Tukkies was ‘n spookdorp verlede week. In Kaapstad is klasse gestaak, en Wits ontwrig. Op Stellenbosch, waar ek klasgee, het akademiese aktiwiteite voortgegaan, alhoewel privaatsekuriteitsbeamptes se teenwoordigheid opvallend was. Die rede is dat studente ongelukkig is met die koste van universiteitstoegang. Dis bitter duur om te studeer – ongeveer R90 000 per jaar as mens klasgeld, handboeke, verblyf en lewenskoste inreken – en vir baie studente is dit bloot onmoontlik om hierdie bedrag by te bring. Vir ’n student met geen hoop om hierdie uitgawes te finansier nie, is die rasionaal as volg: ek gaan elkgeval nie kan aanhou swot nie, so as ek miskien genoeg druk op universiteitsbesture sit, sal die rektor of die regering ingryp en fooie skrap. Hierdie rasionaal is telkens geklee in die ideologiese retoriek van dekolonisasie en swartbewussyn, en daar is sterk ondertone van nasionalisme, fascisme en xenofobie. Maar moenie daarin vaskyk nie. Dis die fooie wat die groot issue is.

Die standaardreaksie van die ouer geslag is: Ons het self hard gewerk vir ons studiegeld, hoekom kan hierdie generasie dit nie ook doen nie? Die antwoord is eenvoudig: dit is nou baie duurder om te studeer as wat dit ‘n generasie of twee terug was. Ek en Estian Calitz het hierdie somme gedoen: ’n BA-graad op Stellenbosch in 2015 was 2.7 keer duurder in reële terme in vergelyking met ’n BA-graad in 1961. Die rede hiervoor is dat die owerheid se bydrae tot universiteite in relatiewe terme gekrimp het, wat beteken dat universiteite die addisionele fondse wat hul benodig nou van studente moet verhaal.

Nog ’n reaksie van die ouer geslag is dat dit nodig is om te betaal vir jou studies omdat dit ’n insentief is om hard te werk. Dit is inderdaad so dat mens harder werk as jy vir iets betaal. Maar meeste van hierdie studente het geen verdere insentief nodig om hard te werk nie: hulle weet, ’n graad, veral by a topuniversiteit, is hul kaartjie uit armoede uit.

Studente het dus ’n punt: fooie is te hoog vir nie net arm studente nie, maar ook dié van die opkomende middelklas wat hoop op ’n beter lewe as hul ouers. Die kwessie is dus: wie moet betaal vir die laer fooie (of selfs gratis hoër onderwys) waarop die studente aandring?

Dis duidelik dat universiteite nie die vermoë het nie. Universiteite maak nie ’n wins nie, so elke addisionele uitgawe (soos laer fooie) moet van elders in die universiteit befonds word. En universiteitsbegrotings landswyd knor reeds: sommige universiteite se akademiese personeel se salarisse alreeds afwaarts aangepas. By ander universiteite is poste gesny of word net nie weer gevul wanneer akademici aftree nie. Uitgawes nodig vir navorsing en ontwikkeling is ook erg ingekort. Punt is: studente kan betoog tot hul blou is, maar daar ís nie geld binne universiteitsbegrotings nie.

Die geld moet dus van die staat kom, maar in die huidige ekonomiese klimaat, met ’n ekonomie wat raak-raak aan negatiewe ekonomiese groei, is dit haas onmoontlik om sulke fondse oornag te vind. En nee, dit is nie net vir korrupsie uitroei en voila nie; daardie geld wat verdwyn in korrupsieskandale is reeds begroot om elders spandeer te word.

Maar kom ons aanvaar Minister Gordhan doen die onmoontlike en vind iewers addisionele bronne. Selfs dan, moet ons eers die moeilikste vraag van almal beantwoord, een wat die stakende studente soos die dood vermy: is dit regverdig om hoër onderwys gratis te maak?

’n Nuwe studie deur Hendrik van Broekhuizen, Servaas van der Berg en Heleen Hofmeyr volg die 2008 matriekklas oor ’n tydperk van ses jaar. Hulle bevindinge is skokkend: vir elke 100 kinders wat skool begin het (rondom 1997), het slegs 60 matriek geskryf in 2008. Van daardie 60, het net 37 geslaag. Uit daardie 37, het net 14 universiteitstoelating. Dus: van die 100 Graad 1’s wat in 1997 begin het, het net 14 universiteitstoelating gekry aan die einde van matriek!

Van daardie 14 wat wel universiteitstoelating het (met nog 12 wat toelating vir diplomas het), gaan 12 studeer (9 dadelik na skool, en 3 later). Slegs 4 kry ’n graad binne 6 jaar. En dan die meer verpletterende nuus: Van daardie 4, kom 3 uit die rykste 20% van die samelewing.

Die grootste probleem, soos uit hierdie syfers blyk, is dat finansies nie die grootste struikelblok is vir arm studente nie, maar eerder hul matriekpunte. En hul matriekpunte is die gevolg van ’n patetiese onderwysstelsel wat nie net 40% van kinders uitspoeg voordat hulle matriek kan skryf nie, maar aan dié wat wel matriek haal, nie die kennis oordra wat hulle toelaat om universiteit toe te gaan nie.

Gratis hoër onderwys gaan die rykes baat, want, relatief gesproke, is dit die rykes se kinders wat op universiteit opeindig. Die gemiddelde arm skolier in Suid-Afrika is gelukkig as hulle dit tot by matriek maak, en veral as hulle deurkom.

Stakende studente het rede om ongelukkig te wees. Maar as hulle die groter prentjie raaksien, sal hulle besef die ware onregverdigheid in Suid-Afrika kan gevind word in ’n skoolstelsel wat eenvoudig nie die armes toerus om uit hul armoede te ontsnap nie. Geen rektor of bestuurspan kan hierdie probleem oplos nie.