Verlede Maandagaand lewer Tito Mboweni sy jaarlikse toespraak as Buitengewone Professor in die Departement Ekonomie by Stellenbosch Universiteit. Hy is geensins optimisties oor die toekoms van die Suid-Afrikaanse ekonomie nie, en sê dit in soveel woorde: “We might be looking at a recession in South Africa very soon”. Maar hy bly ‘n knap spreker, sy pittige sê-goed wat die gehoor telkemale lekker laat lag. Hy kla byvoorbeeld oor die onvermoë van die regering om uit een mond te praat. Toe Mbeki in beheer was, vertel hy, mog net Trevor Manuel of hyself iets oor die wisselkoers te sê gehad het. Nou het almal ‘n eier te lê, wat internasionale beleggers tot groot onsekerheid stem. Dis veral Min. Rob Davies wat deurloop: “One of the first things Min Davies must do is to visit a salon, and cut his beard. He needs to be friendly to business.”
Hoewel Mboweni steeds in die ANC-binnekring is, lê sy lojaliteit ál meer by die privaatsektor (waarskynlik ook omdat hulle hom daarvoor vergoed). En hy’s nie skaam om te erken dat hy iets leer nie: “Now that I’m in the private sector I understand capital much better than Karl Marx, and Sampie Terreblanche.”
Maar ook in die privaatsektor is als nie pluis nie. Hy is besorgd oor die toegangklikheid van die privaatsektor – en spesifiek finansiële instellings – vir swart entrepreneurs. Hy vertel van hoe hy en sy broer, Alto, gaan soek het na kapitaal om hulle bemagtigingstransaksies te finansier, sonder sukses. Toegang tot kapitaal, seg hy, is noodsaaklik vir die opkoms van swart nywerheidsmagnate, opsigself noodsaaklik vir ‘n suksesvolle Suid-Afrika. Sy voorstel? ‘n Staatsbank – SBOSA – wat hom sal beywer tot die befondsing van die volgende generasie swart entrepreneurs. Natuurlik is daar gevare, erken hy. Staatsamptenare (en familie van hulle, vermoedelik) sal verbied word van transaksies met só ‘n bank. Maar die voordele sal beslis die nadele oorskadu, aldus Mboweni.
Ek is nie heeltemal so hoopvol nie. Staatsinstellings in Suid-Afrika, ten minste in die laaste dekade, het ‘n swak rekord van prestasie. Die African Bank-ervaring het gewys dat die finansiële dienste-sektor nie ‘n uitsondering is nie. Selfs al word bedrog en korrupsie in só ‘n instelling tot ‘n minimum beperk, is sukses nie noodwendig verseker nie: die feit dat hierdie entrepreneurs nie befondsing van privaatbanke kon vind nie, moet mens laat wonder of hulle sakeplanne weldeurdink is.
Maar kom ons aanvaar dat die privaat banksektor té konserwatief is met die toestaning van lenings. Swart Suid-Afrikaners het, weens die ongelykhede van die verlede, minder toegang tot bates wat hulle as versekering vir lenings kan aanbied. Maar daar is ‘n ander model wat Mboweni en sy broer kan volg, ‘n model wat al met sukses in ons eie verlede toegepas is.
Na die Groot Depressie van die 1930s het die getalle wit armes in Suid-Afrikaanse stede geweldig toegeneem. Dít, tesame met gebeure soos die Groot Trek eeufees en die oprigting van die Voortrekkermonument, het Afrikaner nasionalisme aangevuur. Op ekonomiese terrein was daar die persepsie dat jong, Afrikaanse entrepreneurs teruggehou word deur Joodse en Engelse kapitaliste, en verskeie kongresse is gehou om die probleme van ekonomiese agterstand aan te spreek.
Een oplossing was die reddingsdaadbond, ‘n spaarfonds (met die leuse: ‘n volk red homself) waarin Afrikaner huishoudings ses pennies elke maand kon belê. Sewentig-duisend huishoudings het binne vyf jaar by die skema aangesluit. ‘n Deel van hierdie fonds het Federale Volksbeleggings, ‘n belegginskorporasie, help stig, wat belê het in nuwe besighede soos Federale Mynbou wat later die mynreus Gencor sou word.
Tito Mboweni identifiseer ‘n geldige probleem: die gebrek aan kapitaal vir entrepreneuriese swart Suid-Afrikaners. Sy plan van ‘n staatsbank skep egter meer probleme as oplossings. ‘n Reinkarnasie van Federale Volksbeleggings bied ‘n beter alternatief: Wat keer Mboweni, een van ons skerpste sakeleiers, om nie dieselfde te doen vir swart huishoudings vandag nie? Stig ‘n maatskappy wat elke maand R50 van 700 000 huishoudings invorder. (Met deesdae se mobiele betalings sal dit baie minder administratiewe kostes vereis as voorheen.) Hierdie maandelikse R35 miljoen kan dan gebruik word om in swart entrepreneurs te belê. Só skep mens welvaart aan die bo- en onderkant van die inkomsteverdeling. Só skep mens werk én rykdom. Só red ‘n volk homself.