Die ekonoom Gary Fields het Suid-Afrika se hoë werkloosheidskoers in die vroeë 2000s ondersoek. In sy verslag skryf hy die volgende: ‘Wat vir Asië gewerk het, kan ook werk vir Suid-Afrika: vervaardig die dinge wat mense met geld elders in die wêreld wil koop. ‘n Fundamentele waarheid word soms vergeet: as jy arm is, kan jy nie ryk word deur aan jouself te verkoop nie.’

Fields verduidelik dan verder. ‘Die uitdaging vir Suid-Afrika is om produkte to vind waarin Suid-Afrikaanse vervaardigers kan uitblink.’ Hoe meer ons kan uitvoer, hoe meer sal ons vervaardig, en hoe meer mense sal werk hê. Dís hoe werkloosheid hokgeslaan word.

Hoe kry ons meer uitvoere? Fields is reguit: dis nie die staat se rol om te besluit wat vervaardig moet word nie. Dis eerder entrepreneurs wat geleenthede raaksien om geld te maak. Wat maak dit makliker vir entrepreneurs om dit te doen? Werknemers wat produktief is, toegang tot ondersteunende dienste verskaf deur bankiers, versekeringsmaatskappye, ontwerpers, rekenkundiges en vervoeroperateurs, en ‘n belastingstelsel wat nie alle wins wegbelas nie. Wat inhibeer entrepreneurs? Verlammende arbeidswetgewing, ‘n onveilige werks- en leefomgewing, hoë rentekoerse en korrupsie.

Fields se argumente is net so relevant vandag as wat dit twintig jaar gelede was, indien nie meer nie. Suid-Afrika se werkloosheidskoers is hoër as toe. Belastingkoerse is vandag hoër, asook die minimumlone. Misdaad en korrupsie gedy steeds, en onderwysuitkomste bly power. In kort, die faktore wat Fields in die jaar 2000 identifiseer het as belangrik om aan te spreek het weinig verander. Dit is dus geen verrassing dat Suid-Afrikaanse entrepreneurs steeds sukkel om suksesvolle firmas op die been te bring nie.

Dit is in dié konteks interessant om na die verkiesingmanifeste van die verskillende politieke partye te kyk. Die ANC noem die woord ‘uitvoere’ slegs vier keer in hul manifes. Een daarvan is ‘n plan om ‘n uitvoerbelasting op grondstowwe in te stel. Die idee werk só: ‘n uitvoerbelasting op grondstowwe ontmoedig die uitvoere daarvan, wat dit oënskynlik makliker vir plaaslike produsente maak om die grondstowwe te bekom, waarde toe te voeg en dan hierdie meer waardevolle produkte uit te voer.

Dit geld dalk op papier, maar selde in die praktyk. Soos Fields noem, is die uitdaging vir plaaslike vervaardigers nie toegang tot goedkoop grondstowwe nie, maar ander faktore wat die koste van produksie duurder maak. Anders gestel: jy kan ystererts so goedkoop maak vir motorvervaardigers as wat jy wil, maar as lone duur, die dorpe waar ingenieurs woon onveilig, elektrisiteit onbetroubaar, en toegang tot buitelandse markte traag en duur bly, gaan geen uitvoerbelasting help om motors te vervaardig nie. Inteendel, ‘n belasting op uitvoere gaan bloot bestaande uitvoere beperk, wat tot verdere werksverlies gaan aanleiding gee. Mens wonder eintlik hardlop of geen ekonoom die ANC adviseer nie?

Hoe minder gesê oor die EFF se verkiesingsmanifes, hoe beter. Een voorstel is ‘n kwota op uitvoere. ‘n Kwota het nog erger negatiewe gevolge as ‘n belasting, en is ‘n administratiewe nagmerrie. Nog ‘n voorstel is dat ‘n nuwe mynmaatskappy in staatsbesit gestig word om surplus steenkool uit te voer. Nie net het staatsbeheerde maatskappye ‘n bedenklike rekord nie, maar die twee beleide weerspreek mekaar natuurlik direk: jy kan nie ‘n kwota op die uitvoere van grondstowwe hê en die uitvoer van grondstowwe aanmoedig nie. Ai.

Die DA het baie meer konkrete voorstelle om uitvoere aan te moedig. Dit sluit in ‘n standardisering van dokumentasie om uitvoere te vergemaklik en die verslapping van invoertariewe sodat insetprodukte goedkoper bekom kan word. Hulle voorsien ook die stigting van ‘n nasionale vervaardigingsinnovasie en -uitvoer taakspan om, soos die baie suksesvolle Wesgro in die Wes-Kaap, nuwe markte vir vervaardigers te ontgin en beleggers na Suid-Afrika te lok.

Maar soos Fields verduidelik, hang suksesvolle uitvoere van meer as net uitvoerbeleid af. Die politieke party wat dit makliker vir entrepreneurs maak om werkers aan te stel en af te lê, wat entrepreneurs toelaat om af te wyk van duur minimum-loon kostes, en wat entrepreneurs nie penaliseer as hulle nie ‘n swart of Suid-Afrikaanse werknemer kan vind teen die markprys nie, is die enigste hoop om Suid-Afrika weer ‘n welvarende land te maak.

Ryk word is nie rocket science nie. Maak iets wat ander mense wil hê. Verkoop dit teen ‘n prys wat hulle kan bekostig. Ons kan nie hoop om ryk te word deur net aan onsself te verkoop nie. Ons moet ons produkte uitvoer, maar daarvoor moet ons geleenthede skep wat ons entrepreneurs kan ontgin. Dis tyd dat kiesers in die komende verkiesing die belange van entrepreneurs eerste stel, vir almal van ons se onthalwe.

* ‘n Verkorte weergawe van hierdie skrywe het op 17 Maart in Rapport verskyn.