Wat gemaak met ’n seun wat universiteit toe gaan en besluit om eerder te fuif as te swot? Sy swak middel-van-die-jaar vorderingspunte word verduidelik as ‘Dinge het te lekker gegaan, Pa, maar ek sal my sokkies optrek in die tweede semester’. Net om weer Desember huis toe te keer met meer vakke wat sak as slaag. Die rede vir Desember se mislukking? Die eerste rugbyspan wat hom sy kosbare studietyd gekos het.
Die jaar daarna is dit dieselfde storie: meisies, sêr (‘Pa moet my hoor sing!’), koshuisdinge. En die jaar daarna weer: huiskomitee, rugbyklasse by arm skole (‘Pa verstaan nie, daai laaities het skills!’), moeilike dosente wat nie die ‘slides’ beskikbaar maak nie. Die verskonings raak al meer legitiem, maar die punte toon geen verbetering nie. Seun sit steeds met ‘n paar eerstejaarsvakke as hy vir sy vierde jaar inskryf.
Hoe gemaak met só ’n seun? Moet die ouer aanhou klasgelde, koshuisgelde, drinkgelde betaal, met die hoop dat Seun sal grootword en die belangrikheid van ‘n goeie universiteitsopleiding besef? Dis nie dat hy nie die vermoë het om suksesvol te studeer nie: kyk net hoe goed was sy matriekpunte toe hy onder die arendsoë van Pa by die huis moes swot.
Maar miskien is bitter medisyne die enigste oplossing: ‘n ultimatum dat as Seun nie al sy vakke vanjaar slaag nie, hy geen verdere finansiële ondersteuning kan verwag nie. As hy dus verder wil swot – klaar wil swot – dan sal hy ‘n lening moet kry. ‘Maar Pa’, sal hy sê, ‘ek gaan nie nóú ‘n lening kan kry nie. My studierekord is te swak! Drie jaar terug sou dit maklik wees, maar my enigste opsie as Pa ophou betaal is om die universtiteit te verlaat en ‘n werk te gaan soek. Ek sal waarskynlik nooit weer die binnekant van ‘n klaskamer sien nie.’ En Pa weet Seun is waarskynlik reg.
So, hou Pa aan betaal en ondersteun nog ‘n belofte van ‘hard werk, hierdie keer’? Of sê hy genoeg is genoeg, nou is jy op jou eie, ‘welkom in die regte wêreld’, my kind?
Duitsland en die ander lede van die Europese Unie moes ‘n soortgelyke besluit hierdie week neem. Griekeland dop al hul spreekwoordelike vakke: hul bestee te veel en samel te min belasting in om hul massiewe staatsskuld te delg. Dis nie ‘n nuwe probleem nie: sedert die finansiële krisis in 2007 hang vraagtekens al oor Griekeland se kop. Herhaaldelike beloftes is al gemaak dat hulle onnodige bestedings sal sny, maar tot dusver kon hulle dit nie vinnig genoeg doen nie. Hul ekonomie het inderwaarheid met 25% gekrimp, werkloosheid is bo 25% (jeugwerkloosheid is baie meer) en die afgelope twee weke beperk banke die hoeveelheid kontant wat Grieke mag trek. Maar daar is tekens dat hulle wil-wil regruk, en natuurlik baie beloftes.
Die ekonomiese debat of Griekeland verdere ondersteuning van Pappa Duitsland moet kry is vel. Aan die een kant is daar die’s wat sê dat Griekse skuld afgeskryf moet word. Een argument is dat Duitsland se oorlogskuld na die Tweede Wêreldoorlog grotendeels afgeskryf is. Dit het hulle toegelaat om vinnig op hulle eie bene te staan en te ontwikkel tot die ekonomiese mag wat hulle vandag is. Hoekom wil hulle nie dieselfde vir die Grieke doen nie?
Dit klink bietjie soos Seun wat argumenteer dat Pa hom steeds moet ondersteun omdat Oupa vir Pa destyds aanhou ondersteun het toe Pa sy studies moes onderbreek om in die Grensoorlog te gaan veg.
‘n Ander argument aan hierdie kant van die debat is dat Griekeland duidelik foute gemaak het maar dat ‘n verdere lening die enigste manier is om hulle deel van die Europese Unie te hou, wat die beste uitkoms vir Griekeland en vir die Europese Unie sal wees.
Of: Dat Seun besef hy het to rojaal met Pa se geld geleef, maar dat die enigste manier om te verseker dat hy graad kry – iets wat hy en sy pa tog albei wil hê – is vir Pa om hom nog ‘n jaar of twee te ondersteun. Dit sal immers ook baie sleg vir Pa se ego wees as sy seun se universiteitsstudies moet staak.
Ekonome aan die aan die ander kant van die debat sê dat Griekeland genoeg kanse gehad het, dat ander Europese belastingbetalers genoeg gehad het van sien hoe hul belastinggeld deur die spandabelrige Grieke uitverkwis word. Of, in ons metafoor: Pa moet ophou om drinkgeld vir Seun te stuur, sodat hy op sy eie bene kan leer staan.
Na ’n dekade van werk by ’n universiteit weet ek dat daar nie ’n regte antwoord in hierdie debat is nie. Sommige studente vat ’n paar jaar langer om te studeer en jaag so Pa se skuld op. Maar danksy Pa se goedhartigheid is hulle tog suksesvol; hulle raak ouer en wyser en begin meer op hul studies fokus, veral wanneer hulle sien hoe hulle vriende wat reeds grade het geld maak.
Daar is ander, natuurlik, wat heel gemaklik op Pa se goedhartigheid teer. Pa is waarskynlik so welaf dat Seun geen insentief het om eens ‘n graad te kry nie; Pa sal verseker hy kry ‘n knus werkie iewers in Pappa se besigheid. Hy gaan lewenslank spandabelrig leef en al Pa se hardverdiende spaargeld tap. Die beste wat Pa’s vir hierdie tipe student kan doen is om hulle los te knip en hulle te dwing om op hul eie voete te staan.
Dit is baie moeilik om te weet watter tipe student Griekeland is. Net soos daar baie komplekse redes is hoekom ‘n student nie slaag nie, so is daar ook baie redes wat voorgehou word hoekom Griekeland is waar hy is. Maar die ooreenkoms wat hierdie week bereik is gee Griekeland een laaste uitkoms om deel van die Europese Unie te bly: hulle gaan besteding verder moet sny en belastinginkomste verhoog. Dis soos Pa wat sê dat Seun ’n werk sal moet kry terwyl hy nog swot. Minder tyd vir al die ander ekstrakurrikulêre goed, maar ook vir minder tyd vir studies. Griekeland is nie te opgewonde oor die besuiningsmaatreëls van die ooreenkoms nie. Seun ook nie, want ‘mens moet mos darem nog lewe, Pa, en ek is ernstig oor my meisie, ek kan haar nie net drop nie’. Of dit die regte medisyne is, sal net die toekoms leer.