In September 2008, gedurende die Amerikaanse presidentsverkiesing, spreek Joe Biden – Barack Obama se visepresidentskandidaat – ‘n groot gehoor in die staat Michigan toe. Sy toespraak is niks besonders nie – hy beklemtoon hoe die Demokrate die Amerikaanse middelklas sal beskerm – maar teen die einde uiter Biden ‘n stelling waarvoor hy nog lank onthou sal word. ‘My pa het altyd gesê,’ begin Biden, ‘dat jy nie vir my moet vertel wat jou prioriteite is nie. Wys my jou begroting, en ek sal jou vertel wat jou prioriteite is.’
Hoe ons ons geld spandeer sê iets oor wie ons is. Watter proporsie van jou inkomste, byvoorbeeld, belê jy in jou kinders? Wanneer jy sê jy gee om vir die armes, die kerk, die omgewing, hoeveel daarvan kan mens in jou bestedingspatrone raaksien? As jy iemand is wat Trots Afrikaans is, watter proporsie van jou inkomste spandeer jy op Afrik aanse boeke, films of kunstefeeste?
Ek is bevrees ons is almal beter mense in teorie as in praktyk. Ons begrotings reflekteer waarskynlik ‘n baie meer selfsugtige bestaan as wie ons dink, en wil voorgee, ons is. Dit is juis wanneer ons ons sente skielik moet begin omdraai – miskien weens ‘n werksverlies of ‘n groot onverwagte uitgawe – dat ons besef hoe misplaas ons prioriteite eintlik is.
Dieselfde geld natuurlik vir die staatsfinansies ook. Politici woeker gedurig met die waarheid. Hul maak beloftes wat hul nie kan nakom nie. Om die waarheid te sê, omdat hulle byna nooit aanspreeklik gehou gaan word nie, is daar ‘n insentief om juis oordrewe beloftes te maak. Maar die werklike maatstaf wat hul prioriteite meet, soos Joe Biden tien jaar terug in sy toespraak verduidelik het, is die rergering se begroting. Dit spel hul prioriteite kristalhelder uit.
Só was dit dan ook met die 2018 begrotingsrede gelewer deur die nou-vervangde Minister van Finansies, Malusi Gigaba. Laat ek dit onomwonde stel: hierdie was nie ‘n maklike taak vir enigiemand nie. Die Minister was nooit opgelei vir so ‘n taak nie, en die harde werk het waarskynlik op die skouers van die Tesourie-amptenare geval. Hulle moes die politieke speelbal van gratis Hoër Onderwys balanseer met ‘n groter-wordende skuldlas binne ‘n slakkepas ekonomie.
Binne daardie omstandighede was dit ‘n goeie begroting. Die DA se volstruisdans oor BTW was ‘n verleentheid; enige ander toename in belasting – soos persoonlike inkomstebelasting of maatskappybelasting – sou ‘n groter negatiewe impak op die ekonomie hê.
Maar die begroting is ook ‘n aanduiding van wat die ANC na waarde skat. Grondhervorming? Neewat, die begroting vir grondrestitusie gaan met ‘n skamele 5.6% oor die volgende drie jaar toeneem. Maar wat van onteiening sonder vergoeding? ‘Ondersteuning en ontwikkeling van boere’ kry slegs ‘n toename van 3.1% oor die volgende drie jaar, ver onder inflasie. Daar is baie min in die begroting wat daarop dui dat die ANC werklik omgee oor grondhervorming en die opheffing van voorheen benadeelde boere, ten spyte van al retoriek.
Hoër Onderwys kry natuurlik ‘n baie groter deel van die koek, wat ‘n duidelike prioriteitsverandering toon. Maar die toename in BTW is byna dieselfde grootte as die toename in Hoër Onderwys. Met ander woorde, almal in Suid-Afrika, selfs die heel armstes wie se kinders nooit op universiteit sal opeindig nie vanweë ons sukkelende skoolstelsel, betaal nou basies een persentasiepunt meer vir kruideniersware, selfone en klere sodat studente gratis kan studeer. Klink vir my bra onregverdig, maar dis die prys vir vreedsame kampusse.
Maar die grootste kopseer van vanjaar se begroting – en, om eerlik te wees, ook die vorige dekade s’n – is dat ons prioriteite nie belyn is met wat meeste ekonome beskou as die bron van welvaartskepping nie: Innovasie. Ons besteding op Innovasie, Wetenskap en Tegnologie (IWT) is reeds bitter klein (byna die helfte van wat ons spandeer op landbou en grondhervorming), en gaan maar met net 5.4% toeneem oor die volgende drie jaar. Vergelyk dit met die toename van 9.2% van sosiale ontwikkeling, ‘n kategorie wat tien keer groter as IWT is.
Die mees kommerwekkende is dat geen politieke party eers hierdie anti-groei fokus uitlig nie. Die EFF glo natuurlik nie dat Wetenskap belangrik is nie; in hulle verstaan van die wêreld raak mens ryk deur herverdeling. Maar só raak ons almal arm. Vra maar net vir die inwoners van Venezuela of Zimbabwe. Die DA, ‘n party wat herhaaldelik ekonomiese groei beklemtoon, het nie een keer die woorde Wetenskap of Innovasie of Tegnologie in hul nuusbrief oor die begroting gebruik nie. In hul wêreld raak mens ryk deur meer effektiewe staatsbesteding. Dis ‘n begin, maar skiet ver te kort.
Joe Biden se woorde is nou meer waar as ooit. Ons praat baie, maar ons bestedingspatrone onthul ons werklike prioriteite. Dis tyd dat die dinge wat regtig saak maak vir langtermyn sukses ook in ons begroting reflekteer word.