Dis dalk te vroeg om te begin dink aan ’n post-Covid-wêreld. Die virus het eers China, toe Europa en nou Amerika verlam. Afrika is volgende – en die kans is goed dat die virus se gevolge hier selfs erger sal wees. Afrikalande het eenvoudig nie die mediese kapasiteit om die groot getalle siekes wat eensklaps mediese sorg benodig te hanteer nie. Boonop is daar bitter min ruimte in hul begrotings om die ekonomiese gevolge van die inperkings teen te werk, soos om toelaes te verhoog of belastings te verminder.
Hoewel Suid-Afrika se situasie dalk effe minder benard is, is maande se pyn ongetwyfeld ons voorland.
En tog, ’n krisis, hoe tragies dit ook mag wees, skep ’n geleentheid vir vernuwing. Dit is inderwaarheid byna die enigste tyd wanneer wesenlike verandering plaasvind. Milton Friedman het dit goed opgesom: “Slegs ’n krisis – of daar nou een is of net as een ervaar word – veroorsaak ware verandering. Die besluite wat geneem word wanneer die krisis kom, hang af van watter idees rondlê. Dit is ons belangrikste rol: om beter idees te ontwikkel as plaasvervanger vir die huidige beleid, en om hierdie idees lewend en beskikbaar te hou tot die polities onmoontlike die polities onvermydelike word.”
Daardie laaste sin gryp my elke keer as ek dit lees. Ons het nou inderdaad ’n tyd betree waar die goed wat ’n maand of twee terug basies onmoontlik gelyk het, nou moontlik of selfs noodsaaklik raak. Die SAL? Tyd om dit toe te maak. Die sny van ministers se salarisse met ’n derde? Almal stem eenparig in. ’n Daling in datakoste en banktellergeld? Die uitrol van spektrum? Ja, ja, ja. Die krisis is reeds hard aan die werk.
Watter wêreld wil ons bewoon ná die Groot Pandemie van 2020? Een opsie is om ’n lang wenslys hier neer te pen. Maar dis dalk beter om eerder ‘n beginsel te beklemtoon: dat mededinging, sowel in die mark vir produkte en dienste as in die mark vir idees, ons grootste bate is in ons pogings om welvaart te skep en dat ons dit met alle mag moet beskerm en bevorder.
Laat ek verduidelik.
Verbeel jou daar is drie rolspelers: die owerheid, die private sektor en die wetenskap. Die owerheid en private sektor lewer goedere en dienste en die wetenskap lewer idees. My vrees is dat die krisis ons in ’n rigting stuur waar elkeen van hierdie rolspelers minder mededingend gaan wees.
Kom ons neem die owerheid. In tye van ’n krisis wil mens graag hê die owerheid moet inspring om die krisis aan te pak. Dit kan beteken dat ons van ons vryhede moet inboet, soos ons nou doen. Wat mens nie wil hê nie, is dat hierdie onvryheid aanbly aan die einde van die krisis. Ons moet lugtig loop vir die prysvasstellings, die verbod op alkoholverkope en ander ingrypings van ministers wat daarvan hou om hul stempel af te druk.
Die private sektor is nie onskuldig nie. Met die verandering in tegnologie die afgelope twee dekades raak dit al hoe moeiliker vir kleiner firmas om met die groot manne mee te ding. En nou kom die inperking en baie van hierdie kleiner firmas wat reeds op hul knieë was, moet toemaak. Groot firmas – soos Naspers – het ’n vet spaarvarkie wat hulle deur die moeilike tye kry. Maar dis selde waar vir ’n kleiner firma. Dis baie waarskynlik dat Suid-Afrika ’n baie meer gekonsentreerde private sektor ná die krisis sal hê.
Laastens, en die een wat gereeld in die agtergrond skuil, is die mark vir idees. Soos die staat se begrotings onvermydelik gesny gaan word, gaan universiteite al hoe meer afhanklik word van die goedgunstige ondersteuning van Groot Sake. Dit is nie onmoontlik om jouself te verbeel dat baie van die sosiale en veral geesteswetenskappe in so ’n model gaan moet aanpas of verdwyn nie. Maar selfs dié wat oorleef se doelstellings gaan verander: Hoe vry gaan ingenieurs of regsgeleerdes of ekonome werklik wees as hul salarisse deur groot korporatiewe kliënte betaal word? Dis nie net vryheid wat moontlik ingeboet gaan word nie, maar ook die uiteenlopendheid van idees. Groot Sake gaan net geld gee vir die beste universiteite. Die mark vir idees kan kleiner, meer gekonsentreerd en minder vry in ’n post-pandemie-wêreld word.
Wat kan gedoen word om hierdie tendense teë te werk? Dit gaan alles afhang van ’n vierde groep: die burgerlike samelewing. Kiesers en verbruikers en lesers. Ek en jy. Die keuses vir wie ons stem, by wie ons koop en wat ons lees gaan bepaal wie ons bemagtig: die monopoliereuse of hul ratse mededingers.
Nou, wanneer die onmoontlike onvermydelik word, is dit ons krisis om te definieer. Kom ons begin nou reeds kies vir Dawid eerder as Goliat.
* ‘n Geredigeerde weergawe van hierdie skrywe het in Rapport van 19 April verskyn.