In my eerstejaarklas vra ek soms die volgende vraag: ‘Indien jy in enige era kon leef, watter een sou jy kies?’ Die antwoord verbaas my altyd. Meer as die helfte is gewoonlik gretig om, as hulle sou kon, in ’n tydmasjien te klim en die verlede in te boender.
Baie sou kies om in die 1960s te woon. Vir hulle, vermoed ek, is dit die era van goeie musiek, van vrye denke, van gratis liefde (Woodstock!). Ander verkies die laat 1800s, ‘n tyd, vir hulle, van geldmaak (diamante en goud) en vinnige vooruitgang (spoorweë, motors).
Die avontuurlustiges kies soms die 1700s: ek onthou een student wat genoem het hoe wonderlik dit sou wees om die ontembare binneland van Suid-Afrika die eerste keer te kon sien. Of ’n ander wat bloot gesê het: tóé was daar nog so baie om te ontdek!
Maar so aanloklik dit is om die geskiedenis te verromantiseer, so gevaarlik is dit ook. As jy in Amerika ’n tiener in die 1960s was, is jy meer waarskynlik Vietnam as Woodstock toe. Die laat 1800s het geweldige vooruitgang meegebring, korrek, maar as jy in die Transvaal of Vrystaat gewoon het, was die kans baie goed, of jy nou wit of swart was, dat jy in ’n konsentrasiekamp teen 1902 sou opeindig. En hoewel die Suid-Afrika van die 1700s dalk ‘ongerep’ vir Europeërs was (Europeërs, terloops, met ’n lewensverwagting van nie veel meer as 40 jaar nie), sou die Khoina dalk nie saamstem oor hoe lekker dit was nie: duisende mense het in die pokke van 1713 gesterf. Lees gerus Dan Sleigh se nuutste historiese fiksie, 1795, om ’n goeie idee te kry van die verskil in leefstyl van die gemiddelde Kapenaar aan die einde van die agtiende eeu met ons vandag.
’n Goeie voorbeeld van hoe baie die wêreld die afgelope twee eeue verander het is Yaa Gyasi se Homecoming. Sy volg, in ’n merkwaardige debuutroman, die genealogie van twee halfsusters wat in Ghana in die agtiende eeu gebore is. Een word na Amerika as slaaf verskeep, en die ander bly agter. Elke hoofstuk handel oor ’n nuwe generasie, met die laaste hoofstuk se karakters wat vandag leef. Dit is ’n aangrypende verhaal, en een wat ek wens wyd gelees word.
Maar selfs teen die agtergrond van geweldige ongeregtighede van slawerny en kolonisasie, is die verbeterende lewensstandaarde oor twee eeue duidelik. Die struwelinge van die hoofkarakters verander mettertyd van een van oorlewing, na ’n strewe na hoër lewensstandaarde, en dan na ’n soektog na identiteit.
Die punt is eenvoudig: as ons net materiële welvaart in ag neem, is daar nie ’n beter tyd om te leef as die huidige nie. Hier is een brokkie stawende statistiek: Bill Easterly van Columbia Universiteit tweet vroeër hierdie week dat die reële gemiddelde inkomste wêreldwyd vier keer hoër in 2016 as in 1950 was. In ander woorde: waar mense een motor in 1950 kon bekostig, kan hulle vandag vier koop. En dit is net die helfte van die storie: die kwaliteit het merkwaardig verbeter. ’n Motor vandag is onvergelykbaar vinniger, sterker, en veiliger as een van 1950.
Die rede hiervoor is ongetwyfeld die voordele wat spruit uit innovasie gedryf deur die winsmotief. Ons ken dit as kapitalisme, maar dit is lankal meer nie net akkumulasie van kapitaal nie. Inteendeel, dis grotendeels weens die inspirasie, kreatiwiteit en deursettingsvermoëns van uitvinders en entrepreneurs. Dink maar aan ouens soos Richard Branson, Bill Gates, Elon Musk en Sergey Brin, ouens wat met relatief min aanvangskapitaal begin het. Meer belangrik: hierdie welvaart het nie gekom ten koste van iemand ander s’n nie. Dit was ‘n wen-wen vir ons almal: hulle produkte het hulle – en die gemiddelde man op straat – ryker gemaak.
So romanties soos die verlede dalk dikwels mag klink, so versigtig moet ons wees om net dele daarvan te onthou. Met die aanbreek van ’n era wat alreeds beskryf word as die postwaarheid-era, waar dit al hoe moeiliker word om te onderskei tussen feit en fiksie weens die magdom van inligting waarmee ons daagliks gebombardeer word, moet ons vérál versigtig wees. Dié wat drome van die verlede as ’n wonderlike plek verkoop – ‘Make America Great Again’ – moet vir hul foute uitgewys word.
Met sosiale media is ons almal deesdae joernaliste. Ons moet let op ons bronne, en onakkurate, waninligting ignoreer of, beter nog, blokkeer. Ons moet waak teen bevestigingsvooroordele (confirmation biases), waar ons bloot inligting lees en herpos van bronne wat ons eie opinies bevestig. Daarom is ons ook almal historici. Ons moet die betroubaarheid van verskillende bronne kan weeg, en die sterker kies teenoor die swakker.
As ons dit kan doen, vermoed ek, sal die opwaartse trajek van vooruitgang aanhou. Ons sal aanhou innoveer, aanhou ontwikkel, aanhou groei. Maar indien ons onkrities omgaan met inligting, indien ons die moeilike vrae vermy, indien ons net een bron slaafs navolg – met ander woorde, indien ons swak joernaliste en historici is – dan is die kans van ’n ommekeer in ons opwaartse trajek groter.