Dis die einde van ‘n moeilike jaar. Ramaforia was van korte duur; ons besef nou eers hoe geweldig sleg die Zuma-jare was. Al was daar goeie nuus vroeg Desember, is groei steeds te stadig om die groot uitdagings van ons samelewing aan te spreek. Aandelemarkte het in 2018 erg gekrimp wat baie welvaart vernietig het. Ons kort idees wat ons sal help om die ekonomie weer aan die gang te kry. As ons president my môre sou bel, sou ek die volgende nege beleidsbesluite aan hom voorlê.
- Verkoop Medupi en Kusile
Die ESKOM perskonferensie voorverlede week het mooi uitgespel hoe diep die probleme by die land se kragvoorsiener is. Met skuld van meer as R400 miljard op die boeke, ‘n duur maar oneffektiewe werksmag, onvoltooide kragopwekkers sonder steenkool, en herwinbare energie wat al hoe goedkoper raak, raak die opsies om die maatskappy te red al hoe minder. My idee: verkoop Medupi en Kusile aan ‘n privaatmaatskappy, en stel ‘n tarief was waarteen elektrisiteit dan van hierdie verskaffer gekoop kan word. ESKOM kan, om politieke redes, nie sy werksmag verklein nie, maar ‘n privaatmaatskappy sal vinnig die koring van die kaf skei. Al gaan ons meer vir ons krag betaal, is duurder krag beter as geen krag (met skuld).
- Skoolkoopbewys
Ons skoolstelsel is ‘n gemors. Daar is honderde-duisende leerlinge wat elke jaar in skole sit waar, vir ‘n verskeidenheid van redes, daar baie min onderrig plaasvind. Hierdie probleem gaan ook nie vanself opgelos word nie. My voorstel: gee vir ouers die keuse om hul kinders na ‘n beter skool te stuur. Die regering kan ‘n koopbewys ter waarde van R20,000 per leerling aan elke ouer gee. Privaatskole wat ‘n beter diens lewer kan dan ouers oortuig om hul kinders eerder soontoe te stuur. So skep jy beide geleenthede vir entrepreneurs (om nuwe skole op te rig), en jy maak seker die volgende generasie het nie die agterstande van huidige skoolverlaters nie.
- Verkoop staatsgrond
Die staat besit baie grond, op die platteland maar ook in en rondom stede. In die stede kan hierdie grond verkoop word aan ontwikkelaars, met klousules wat bepaal dat ‘n sekere persentasie van die huise aan lae-inkomste huishoudings verhuur of verkoop moet word. Op die platteland kan hierdie grond gebruik word om swart boere te ondersteun. Dié wat ‘n sukses daarvan maak, kan eienaarskap ontvang.
- Hervorm die kabinet
Behou net 10 departemente: Tesourie; Onderwys en arbeid; Gesondheid en die weerloses; Binne en buitelandse sake; Infrastruktuur; Beskerming; Grond en die omgewing; Nywerheid, tegnologie en wetenskap; Sport, kuns, kultuur en ontspanning. Al 32 huidige departemente pas binne een van hierdie afdelings. Stel twee vise-presidente aan waarvan die een uit die grootste opposisieparty verkies moet word.
- Gee verblyfreg aan mense wat wil en kan werk
Daar is ‘n dringende behoefte aan mense met aanleg. En daar is baie mense wat bereid is om Suid-Afrika hul tuiste te maak. Kom ons maak dit maklik vir hulle om dit wettig te doen. Terselfdertyd moet die staat meer doen om onwettige immigrasie hok te slaan.
- Spoed met spektrum
Data is die kapitaal van die toekoms. Daarom is ons hoë datakostes een van die groot beperkinge wat maatskappye keer om deel te hê aan die vierdie nywerheidsomwenteling. ICASA moet so gou as moontlik die spektrum waarop hulle sit aan die mark beskikbaar stel op ‘n manier wat meer data-mededingers in die mark sal kry. Laat die verbruikers, en die ekonomie, voordeel trek uit laer datakostes.
- Desentraliseer mag na munisipaliteite
Ek gesels onlangs met die munisipale bestuurder van Stellenbosch. Sy vertel dat sy meeste van haar tyd spandeer aan goed waaroor sy nie werklik ‘n mandaat het nie: misdaadbestryding, vervoer en behuising. Die nasionale regering (asook die staatsbeheerde maatskappye, soos PRASA) moet meer magte (en gepaardgaande begrotings) aan die provinsies en munisipaliteite gee, waar die uitdagings en oplossings beter identifiseer kan word.
- Belê in stedelike vervoerinfrastruktuur
Die nuus dat die Gautrein gaan uitbrei is fantasties. Stede is die hart van die ekonomie, en ‘n vinnige, veilige en betroubare openbare vervoerdiens maak stede suksesvol. Tyd vir die Kaap om dieselfde te doen.
- Privatiseer die opleiding van dokters
Daar is ‘n geweldige behoefte aan opgeleide dokters en ander mediese spesialiste. Maak dit vir Medi-Clinic en ander privaat hospitaalgroepe maklik om hul eie opleidingssentrums te bou. Só word daar meer ruimte geskep binne universiteite, en word die gesondheidsektor minder afhanklik van die staat se hulpbronne.
In 2018 het ons werklik besef hoe naby ons ekonomie aan die rand van die afgrond was. Ons is steeds bitter naby, maar ten minste het ons nou ‘n baie meer ervare bestuurder. As ‘n paar van hierdie voorstelle deurgevoer word, mag 2019 dalk net die jaar wees waarin ons die uitsig weer kan begin geniet.