Die Anne Frank-huis in Amsterdam is ’n besoek werd. Ek het Anne se dagboek op skool gelees, maar dit tref mens diep om self die klein ruimtes te sien waar sy, haar gesin en die Pels-familie vir meer as twee jaar lank vir die Nazi’s weggekruip het. Die groep is uiteindelik ontbloot en sy het as 15-jarige gesterf in die Bergen-Belsen konsentrasiekamp weke voordat die kamp bevry is.
Met hierdie ervaring vars in my geheue lees ek hierdie week dat Anne se pa – Otto Frank – in die maande voor die gesin hulself versteek het, sy beste gedoen het om ’n Amerikaanse visum vir hom en sy gesin te bekom. Die VSA, wat met die aanvang van die oorlog gretig was Joodse vlugtelinge te ontvang, het egter die aansoek afgekeur, moontlik weens ’n anti-immigrante gevoel wat weens Amerika se betrokkenheid by die oorlog posgevat het. Dink só daaraan: indien die VSA nie hul grense vir vlugtelinge toegemaak het nie, was daar ’n goeie kans dat Anne Frank vandag ’n 87-jarige inwoner van Boston sou wees. En wie weet watter literêre bydraes sy nie in haar leeftyd sou maak nie!
Hoe relevant vir vandag: Vlugtelinge wat weens hul geloof in hul eie lande vervolg word soek elders ’n heenkome. Maar hulle is selde welkom. In Amerika het meeste state reeds gestem teen die toename van Siriese vlugtelinge. Hongarye het ’n heining opgerig om vlugtelinge uit te hou en nou dink Slovenië en Oostenryk om dieselfde te doen. In Wes-Europa word kontroles op grensposte weer ingestel weens die vrees op verdere terreuraanvalle; ek het presies ’n week gelede in België aangeland waar die militêre polisie saam met die Kersfeesversierings ’n onheilspellende atmosfeer skep. Ook hier, in die hartjie van die Europese projek, wonder baie mense hardop hoe om al die Midde-Oosterse vlugtelinge te akkommodeer.
En dan is daar die derduisende ekonomiese vlugtelinge wat ’n beter heenkome vir hulself en hul gesinne soek. Baie probeer die byna onmoontlike om die Meditereense See met ’n oorlaaide skippie te probeer oorsteek. Ander vind hul weg deur die sluikhandelroetes van Mexiko na Amerika; daarom dat Donald Trump so graag ’n muur wil bou (wat natuurlik met loude applous verwelkom word). En nog ander stap etlike duisend kilometer om ’n beter heenkome in Suid-Afrika te vind.
Presies hoeveel onwettige politieke en ekonomiese vlugtelinge daar reeds in Suid-Afrika is, of hoeveel elke jaar Suid-Afrika binnekom, is moeilik om te weet. Weens beperkinge op hul toetrede tot die formele arbeidsmark,vind meetste ’n heenkome in die informele ekonomie. Dit is hierdie mededinging in die informele sektor (weens baie vlugtelinge se entrepreneuriese aard, sterk sosiale netwerke en bereidheid om op die minimum lewensstandaarde te oorleef), te same met die populistiese uitsprake van invloedryke figure, wat te gereeld tot die geweldadige xenofobiese aanvalle, soos vroeër vanjaar in Durban, aanleiding gee.
Maar wat weet ons werklik van die impak van hierdie vlugtelinge? Daar is gewoonlik drie populêre argumente om vlugtelinge uit te hou: hulle gebruik bronne wat eerder op die plaaslike inwoners spandeer kan word, hulle steel die werk van plaaslike inwoners, en hulle is misdadigers of, in die huidige konteks, terroriste. Baie Europeërs was ontsteld oor ’n Siriese paspoort wat langs een van die Paryse selfmoordbomaanvallers gevind; daar is later bevestig dit was vervals en juis geplant om onmin te saai. Ook in Suid-Afrika is die sentiment teen immigrante; president Zuma het immers onlangs gesê nie alle buitelanders is misdadigers nie, met die implikasie dat meeste wel is!
En tog: nie een van hierdie argumente is geldig as mens die geweldige hoeveelheid navorsing oor die impak van immigrante op ’n land se ekonomie fynkamp nie. Michael Clemens, seker een van die wêreld se beste navorsers op die gebied, skryf dat die anti-immigrante sentiment in Amerika op vrees eerder as feite gebasseer is. Akademici wat dekades lank immigrasie bestudeer vind geen statistiese verwantskap tussen immigrasie en misdaad nie. Geen van die 859 629 vlugtelinge wat in Amerika toegelaat is sedert 2001, is sedertdien skuldig bevind aan enige terreur in Amerika nie; inteendeel, die kans is vyf keer groter om deur verregse, wit, ekstremistiese groepe in Amerika gedood te word as deur Amerikaanse moslems.
Meer belangrik nog, vlugtelinge bevoordeel die Amerikaanse ekonomie direk. Navorsing toon dat vlugtelinge harder werk, meer verdien, en vinniger Engels leer as ander nie-vlugteling immigrante. Daarom maak vlugtelinge, ten spyte van die hulp wat hulle ontvang by hul aankoms in Amerika, ’n netto positiewe bydrae tot die Amerikaanse ekonomie. Anekdotiese voorbeelde sal ook help: een van die medestigters van Intel, ’n voormalige Secretary of State, en die vervaardiger van Ghostbusters was almal vlugtelinge. Die punt: Vlugtelinge is in die algemeen ’n gawe eerder as ’n las vir ’n land.
Hoewel noukeurige navorsing oor die impak van vlugtelinge en immigrante in Suid-Afrika nog ontbreek, is daar geen rede om te vermoed dat die impak hier nie ook positief vir die ekonomie is nie. Hierdie positiewe impak kan selfs groter wees indien die staat sou saamspeel. Indien die owerheid dit makliker sou maak vir wettige immigrante om te registreer en deel van die formele arbeidsmark te word, eerder as om buitelanders te dwing om as onwettige immigrante die land binne te sluip, sou buitelanders makliker werk kon vind, hul eie besighede op die been bring, belasting kon betaal, en deel van ’n land se ekonomiese enjin word. En daar sou ook minder van ’n insentief wees om die laaste uitweg – misdaad – te kies.
Maar ekonomiese redes is natuurlik nie die enigste rede om vlugtelinge te verwelkom nie. Soos ek reis deur Belgiese stede kan ek sien hoe Kersfeesstalletjies opgeslaan word. Kersfees herinner ons natuurlik aan die storie van ’n Midde-Oosterse, Joodse familie wat op reis gaan om hulself in die sensus, en dus as burgers van die land, te registreer.
As Anne Frank se pa maar net toegelaat was om dieselfde te doen vir sy familie in die 1940s. Ditto die derduisende Midde-Oosterse vlugtelingfamilies van vandag ’n nuwe tuiste soek. Miskien sal hierdie Kersfees vir baie van ons wie se voorouers ook moes vlug – weens oorlog of onderdrukking – uitdaag om die mure wat ons so maklik tussen ons en ander bou, af te breek.