Dis ‘n feit soos ‘n koei: Ons breine is geprogammeer vir slegte nuus. Ons voorgeslagte het net oorleef as hulle gevare vinnig kon identifiseer en hulself betyds uit die voete kon maak. Dié wat blasé was as ‘n leeu of ‘n kryger van ‘n nabye stam te naby kom se nageslagte is nie meer met ons nie.
Dis hierdie menslike aptyt vir negatiewe nuus wat koerante nog aan die gang hou. En dis selfs erger op sosiale media, soos Netflix se The Social Dilemma mooi verduidelik. Ons word aanlyn gepeper met nuus wat op ons evolusionêre predisposisies inspeel. En ons koop dit, al is dit nie eens naby die waarheid nie. ‘n Onlangse studie toon dat daar ‘n negatiewe korrelasie is tussen misdaad en die rapportering daarvan: hoe minder misdaad daar is, hoe meer aandag kry dit in die media. Dit verklaar miskien hoekom meeste mense wêreldwyd dink dat geweld en misdaad erger is as vroeër, alhoewel dit tipies nie strook met die realiteit nie. (Daar is uitsonderings, natuurlik.)
Dis nie net die media wat hierdie truuks op ons uitvoer nie. Populistiese politici maak ‘n lewe daarvan. So ook voorspoedspredikers, versekeringverkopers en eerstejaardosente aan die begin van die jaar: ‘Kyk links en regs van jou. Net een van julle gaan oor drie jaar nog hier wees.’
Daar is natuurlik dié wat ‘n meer positiewe rigting probeer inslaan. Ek en ‘n paar studente is verlede week deel van ‘n gesprek oor Bruce Whitfield se boek The Upside of Down. Dis ‘n boek wat nie wegskram van die ellendige ekonomiese situasie waarin Suid-Afrika haarself bevind nie. Werkloosheid, armoede, ongelykheid, vererger in die oortreffende trap deur als wat gebeur het sedert die boek verskyn het. Tog wil Whitfield die kollig eerder plaas op die geleenthede wat sulke slegte situasies skep. Hy vertel van entrepreneurs wat geleenthede in die moeras van middelmatigheid raaksien en daaruit voordeel trek, vir hulself en hul aandeelhouers. Hy hou veral Koos Bekker se Naspers belegging in Tencent voor as ‘n voorbeeld van wat kán gebeur wanneer mens kreatief dink en geluk aan mens se kant is.
Maar dis dalk té soetsappig, verduidelik van die studente, ‘n paar mooi staaltjies om die daaglikse hopeloosheid te temper. Dis moeilik om met hulle te verskil. Soos een kollega dit mooi opsom, Whitfield is meer hoopvol as optimisties. Hoop is iets wat jy het as jy nie ‘n manier sien hoe dinge kan uitwerk nie, soos die Proteas in ‘n Wêreldbekerfinaal. Optimisme is iets anders. Dis hoop met ‘n plan, ‘n plan wat gestalte vind in ‘n teorie van hoe dinge inmekaarsteek. En dis die sosiale wetenskappe soos ekonomie en sielkunde en geskiedenis wat ons moet help om hierdie teorieë van menslike en sosiale ontwikkeling te toets en te verfyn, teorieë wat ons dan ook ‘n blik op die toekoms gee.
Ek wil verder gesels oor hoe die sosiale wetenskappe ons kan help om wél optimisties oor die toekoms te wees. Maar die studente byt nie so maklik nie. Kyk maar net na onderwys, noem die een. ‘Die stelsel is ‘n gemors.’ Hy is reg, natuurlik. Suid-Afrika is een van die lande wat die meeste op onderwys spandeer maar die minste daarvoor uitkry. Hoe kan ‘n land enigins hoop op ekonomiese groei indien kinders nie toegang tot ‘n basiese vlak van onderrig het nie?
Hier is my optimistiese antwoord: Onderwys is dalk nie so belangrik nie. Nou goed, haal asem. Dis nie dat ek hiermee sê kinders moet nie skool toe gaan nie. Of dat goeie skole en onderwysers nie ‘n geweldige verskil in ‘n kind se lewe maak nie. Dis net dat ek dink ons soms die oorsaaklikheid verkeerd kry: onderwys is eerder die gevolg van ekonomiese groei as die oorsaak. Drie voorbeelde: Die nywerheidsomwenteling wat in die agtiende eeu in Liverpool en Manchester posgevat het, het plaasgevind ‘n eeu voordat publieke onderwys in Engeland ingestel is. Nog ‘n voorbeeld: In 1919, 1947 en 1972 is verpligte onderwys in Engeland uitgebrei na 14, 15 en 16-jariges. In ‘n nuwe artikel vra die ekonomiese geskiedkundiges Gregory Clark en Neil Cummins of hierdie addisionele impak van onderwys enige effek op die lewensverwagting, eiendomspryse en sosiale status van daardie kohort Engelse met ekstra skooljare gehad het. Die antwoord: geen. Of kyk na Zimbabwe as ‘n derde voorbeeld, waar die kwaliteit van onderwys tot onlangs nog goed was, maar waar die ekonomie in duie gestort het.
Die studente is skepties. ‘Kyk’, verduidelik ek, ‘natuurlik is die hoop dat goeie, basiese onderwys ‘n groter poel van Suid-Afrikaners sal toerus met die vaardighede om by te dra tot die kennisekonomie. Veral in ‘n ongelyke land soos Suid-Afrika is die treurmare van die onderwyssektor ‘n geweldige verleentheid vir ‘n regerende party wat nog tot onlangs ‘n beter lewe vir almal beloof het. My punt is net dat dit nie Suid-Afrika verdoem tot ‘n toekoms van swak groei nie. Die onderwyssektor was selfs swakker in 1994, en tog het ons teen die middel-2000s met groei bo 4% gespog en armoede wat besig was om beduidend te daal.’
Suid-Afrika se uitdagings is natuurlik nie net beperk tot die onderwysstelsel nie. Onbevoegde politici of voorbarige vakbonde kan maklik groei kelder. Dit gebeur gewoonlik wanneer hulle die surplusse wat entrepreneurs genereer vir hulself wil toe-eien, tipies in die naam van herverdeling vir ‘n gemarginaliseerde groep wat selde die voordele van die herverdeling sien. Dis ‘n eeue-oue wedywering tussen ekonomiese en politieke mag. En tog, daar is twee goed wat in die 21ste eeu teen die politici tel: mededinging en tegnologie. Mededinging bied keuses: vir wie ons stem en waar ons woon. Beide beperk die outoritêre mag van bewindhebbers. Tegnologie doen dieselfde, deur die gewone man op straat te bemagtig met kennis en kundigheid. Dis hoekom politici so graag die howe, universiteite en die media wil beheer. In Suid-Afrika, is al drie steeds onafhanklik.
Ten spyte van Eskom, onbevoegde staatsamptenare, hêmelhoë werkloosheid en verpletterende misdaadstatistieke is dit nie nodig om op wensdenkery staat te maak om optimisties oor die toekoms te wees nie. Dis egter nie maklik nie. Ons is geprogrammeer om slegte nuus swaarder te weeg. Studies toon dat mense wat negatiewe goed sê as meer intelligent gesien word as dié wat meer positief is. Een punt vir Magnus Heystek, nul vir Johan. En boonop verduidelik gedragswetenskaplikes dat ons ‘n resentheid-vooroordeel (recency bias) het: ons weeg goed wat onlangs gebeur het swaarder as goed wat lank terug gebeur het. Negatiewe nuus > positiewe ekonomiese geskiedenis.
En tog, optimisme is nét so belangrik evolusionêr as pessimisme. Ja, ons voorgeslagte moes vlug vir gevare, maar ons moes ook plant met die hoop op reën, belê met die hoop op opbrengs. Dié wie gewaag het, kon wén. Dink maar net aan die armsalige sewentiende eeuse Duitse vlugteling wat op ‘n tingerige skippie geklim het om na die suidpunt van Afrika te vaar, in die hoop op ‘n beter lewe. Of aan die ouens wat in die tagtigs ‘n nuwe bank begin het, met Suid-Afrika oënskynlik op die drumpel van ‘n burgeroorlog.
Optimisme vereis ‘n herkalibrering van ons ingebedde vooroordele. Dit vereis dissipline – om nie deur die gety van negatiewe nuus oorweldig te word nie (maar ook om jou gesonde verstand te behou en nie als vir soetkoek op te eet nie). Wat my help is om af te klim van sosiale media en met studente te gesels. Ingenieurs, wetenskaplikes, entrepreneurs, jongmense met idees en energie en geesdrif. Hulle is jonk: Zuma se Suid-Afrika is die enigste een wat hulle ken. Dit maak sin dat hulle frustreerd is, kwaad selfs. En tog, na ons gesprek staan hulle rond en praat tegnologie, elke een besig met ‘n projek wat die wêreld ‘n beter plek sal maak. Ons sal okay wees, al moet ons soms die koerant neersit om dit raak te sien.
* ’n Geredigeerde weergawe van hierdie skrywe het in Rapport van 11 Oktober verskyn.