Hierdie week is aangekondig dat Suid-Afrika vir ‘n tweede opeenvolgende termyn negatiewe ekonomiese groei registreer het. Dit beteken dat die waarde van goedere en dienste wat ons in die eerste kwartaal van 2017 produseer het was minder as die laaste kwartaal van 2016. Dit, terwyl ons steeds positiewe bevolkingsgroei toon, wat beteken dat die gemiddelde persoon in Suid-Afrika produseer al minder, en dus verdien ook minder. Die koek, met ander woorde, word al hoe kleiner.
Die vraag is, natuurlik, hoekom? Dis maklik om die blaam voor politici se deur te plaas: die Gupta-soustrein, Zuma wat ‘musical chairs’-speel met sy ministers, ’n beheptheid met ‘radikale ekonomiese transformasie’. Al hierdie gebeurtenisse maak beleggers en graderingsinstansies skepties oor die toekoms. Dis basies soos wanneer ek probeer koekbak sonder ’n resep of, tot die irritasie van my vrou wat toekyk, wanneer ek wel ’n resep het, maar besluit om dit te ignoreer. Die uitkoms is byna sonder uitsondering ’n groot teleurstelling.
Maar dit is nie net die sjef wat die probleem in Suid-Afrika se geval is nie: ons resep is ook verouderd. Hoewel ons minder produseer as in die laaste termyn verlede jaar, was daar groot verskille tussen sektore. Landbou het, byvoorbeeld, met 22% op ’n jaargrondslag toegeneem, en mynbou met 12.8%. (Dit beteken eintlik landbou het met ongeveer 5% toegeneem, maar dit word met vier gemaal om by die jaarlikse syfer uit te kom.) Beide sektore se groei is natuurlik baie goeie nuus, veral gegewe die probleme wat hierdie sektore die afgelope paar jaar moes oorkom.
Die probleem is egter dat, in teenstelling met wat meeste Suid-Afrikaners dalk sou dink, landbou- en mynbousektore nie meer so ’n belangrike deel van die ekonomie soos vroeër is nie. Die figuur hier langsaan toon die verandering in die komposisie van die Suid-Afrikaanse ekonomie oor die laaste 105 jaar. Landbouproduksie, die boonste strook in die figuur, was die tweede grootste sektor aan die begin van die twintigste eeu; vandag is dit die kleinste, selfs kleiner as konstruksie. ’n 22% toename in landbou het dus ’n baie kleiner effek op die totale ekonomie ekonomie vandag as wat dit ’n eeu gelede gehad het.
Die teenoorgestelde is natuurlik waar vir die finansiële dienste-sektor. Waar dit in 1910 nie baie belangrik was nie, is dit vandag die grootste sektor. En dit verduidelik ook deels hoekom ons negatiewe ekonomiese groei ervaar terwyl landbou en mynbou goed doen: die belangrike sektore het almal gekrimp, van finansiële dienste met 1.2% op ’n jaargrondslag tot vervaardiging met 3.7%.
Die verandering in die struktuur van die ekonomie beteken natuurlik dat beleid ook moet aanpas. Ons kan nie steeds koekbak met dieselfde resep as die bestanddele heeltemal anders is nie! So, byvoorbeeld, fokus die meer radikale transformasieplanne wat mens van politici hoor op die sektore wat nou ’n baie klein deeltjie van die (krimpende) koek uitmaak. Grondhervorming? Is dit nie meer sinvol om arm Suid-Afrikaners te bemagtig met aandeleskemas in maatskappye met groeivooruitsigte nie? Nasionalisering van myne? Moet ons nie eerder harder dink aan maniere om toegang tot die finansiële dienste-sektor te verbreed nie?
Drie tendense is duidelik uit die figuur. Die een is die geweldige toename in finansiële en ander korporatiewe dienste die afgelope twee dekades. Dit is uiteraard weens die informasietegnologie-rewolusie, en onwaarskynlik dat hierdie tendens sal verander. ’n Geldige vraag is of ons onderwys en opleiding gerat is om voordeel te trek uit die verdere groei van hierdie sektor. Of is ons steeds besig om mense op te lei vir sektore wat aan die kwyn is?
Die tweede tendens is die groei van die owerheidssektor, veral die afgelope tien jaar. Dit is effens vreesaanjaend om te dink dat die owerheidskomponent van die Bruto Binnelandse Produk vandag groter is as tydens die laaste jaar van die Tweede Wêreldoorlog. Die bietjie goeie nuus is dat hierdie sektor ook gekrimp het in die eerste kwartaal (0.6%), maar met minder as meeste van die ander sektore.
Die derde tendens is die krimpende vervaardigingssektor. Vervaardiging was onbelangrik aan die begin van die eeu, maar soos industrialisasie posgevat het, het dit tot die grootste sektor in die ekonomie ontwikkel. Die afgelope twee dekades word dit, relatief gesproke, al hoe kleiner. Dit is natuurlik ’n probleem vir baie ontwikkelende lande, omdat die outamatisering van produksie die voordeel van goedkoop arbied in dié lande neutraliseer. Baie van die slimste ekonome is maar negatief oor die vermoë van die staat om deur nywerheidsbeleid hierdie tendens om te keer.
Suid-Afrika het ‘n gekwalifiseerde sjef nodig in ons kombuis van ekonomiese beleid; een wat ‘n nuwe resep bedink, en in ag neem dat die bakpoeier wat ons koek in die verlede laat rys het, nie meer dieselfde uitwerking vandag sal hê nie.