Daar is onweerlegbare bewyse dat die wêreldklimaat vinnig aan die verander is. Die aarde is gemiddeld 1 graad Celsius warmer as ‘n eeu gelede, en meeste van hierdie toename het in die laaste 35 jaar gebeur. 2016 was die warmste jaar op rekord. Groenland se ys het sedert 1993 jaarliks met 286 miljard ton verminder. Die seevlak het met 20cm die laaste eeu gestyg, en styg al hoe vinniger. Ekstreme weersomstandighede, soos vloede en droogte, is wêreldwyd aan die toeneem.

Dit is veral die jeug wat hiermee gaan moet saamleef, en daarom ook hulle wat die mees indringende pleidooie lewer. Greta Thunberg het onlangs op die voorgrond getree as die stem wat die wêreld se aandag op die geweldige uitdaging van klimaatsverandering wil plaas. En dit is goed so: hier in Suid-Afrika leef ons die afgelope paar jaar deur een van die grootste droogtes in menseheugenis. Baie boere het reeds die onderspit gedelf, en Kaapstad was baie naby aan ‘n rampstad.

Hoewel daar redelike konsensus is dat die klimaat verander, is daar egter geen konsensus oor hoe om dit aan te spreek nie. In die Westerse wêreld is daar beslis ‘n denkskool wat glo dat ekonomiese groei die oorsaak eerder as die oplossing is. Hierdie skool van denke glo dat weens die aarde se beperkte hulpbronne, mense nie hul materialistiese leefstyl sal kan voortsit nie. Indien ons nie daadwerklik minder begin verbruik nie, gaan die samelewing soos ons dit ken in duie stort. Die enigste oplossing, in hul opinie, is ‘ont-groei’ (de-growth), ‘n wêreld waar ons terugkeer na ‘n meer eenvoudige bestaan; kapitalisme (en gepaardgaande materialisme) moet ingeperk word.

Hierdie sentiment het ook onder wetenskaplikes posgevat wat gefrustreerd is deur die trae politieke vordering wat gemaak word. Baie van hulle het nou ‘n nuwe vyand: ekonome. Dis ekonome se alewige smagting na ekonomiese groei wat die wêreld so beduiwel. Dieselfde sentiment vind ek ook onder sommige studente. In reaksie op my skrywe oor kapitalisme so twee maande terug, skryf ‘n derdejaar BA-regte student onlangs goedgunstiglik oor ‘n Suid-Koreaanse opname wat aantoon dat meer as die helfte van die 2000 respondente ten gunste is van ‘n zero of selfs negatiewe ekonomiese groeikoers. Dat hierdie sentiment in ‘n ryk land inslag vind, suggereer hy, bewys dat kapitalisme verdoem is.

Nou, kyk, ek verstaan die frustrasie wanneer politieke leiers nie klimaatsverandering as hul nommer een prioriteit beskou nie. Maar dit sal help om te dink wat die rede is waarom politici dit doen. En die antwoord is redelik voordiehandliggend: daar is vir hulle geen insentief nie. Die voordele van klimaatsverandering inperk kan baie moeilik deur een individu, party of selfs land opgeëis word, terwyl die nadele van die beleid om klimaatsverandering aan te spreek (hoër koolstofbelastings, byvoorbeeld) sal direk aan die politikus of party wat dit instel toegeskryf word. In kort: geen party sal ‘n verkiesing wen deur te sê hulle gaan belastings op alle beesvleis en dieselvoertuie beduidend verhoog nie. Dit sal nie net politieke selfmoord wees nie, maar as net Suid-Afrika dit doen, sal dit ook die ekonomie (verder) kruppel.

In kort, klimaatsverandering vereis globale aksie, beleid (soos koolstofbelasting) wat alle lande gelyktydig in werking stel. Sulke beleid vereis geweldige politieke welwillendheid. Dit is tipies net ‘n globale krisis wat so ‘n verandering teweegbring; die Tweede Wêreldoorlog was een so krisis wat tot die stigting van die Wêreldbank en IMF aanleiding gegee het.

So wat sou wêreldleiers saam kon besluit? ‘n Erkenning van die wetenskaplike feite sou ‘n goeie beginpunt wees. Maar, tweedens, ‘n besef dat die markstelsel die enigste manier is om die probleem (eties) aan te spreek. Net soos ons deur sondebelastings probeer om die negatiewe eksternaliteite van sigarette en alkohol te verminder, so sal koolstofbelastings help om die negatiewe eksternaliteite van koolstofbesoedeling aan te spreek. Dit sal beteken dat ons die koste van koolstof begin prys in alles wat ons verbruik. Beesvleis sal duurder word, maar wildsvleis (waarvan die produksie minder koolstofdioksied vrylaat) goedkoper. Dieselmotors duurder, elektriese motors goedkoper.

Terwyl die geweldige toename in welvaart die klimaat beslis affekteer, is dit juis omdat die omgewing nie deel is van die mark nie dat dit verwaarloos word. Die omgewing is ‘n openbare goedere, en daarom gebruik ons te veel daarvan vir wat ons betaal. Sodra ons die ware kostes inreken in alledaagse pryse, dan sal ons minder verbruik (en dus produseer) van wat die klimaat die meeste affekteer, en meer verbruik van wat die klimaat minder affekteer. Omdat sekere goed duurder gaan word, gaan dit ook insentiewe skep vir vindingryke entrepreneurs om nuwe produkte en dienste te skep wat meer effektief is en die omgewing minder skaad (deur, byvoorbeeld, minder beperkte hulpbronne te gebruik). Dit kan selfs produkte en dienste insluit wat die omgewing help herstel, soos ‘n boot wat plastiek uit die see verwyder of sonpanele wat drinkwater produseer. Die oplossing is dus nie ‘n terugkeer na ‘n wêreld sonder ‘n markstelsel nie, maar eerder ‘n meer gefokusde poging om die waarde van ons omgewing in ekonomiese besluite in te sluit.

Die denkskool van ont-groei is nie net verkeerd nie, dis ook ‘n eties bedenklik. Kyk maar wie maak die argumente vir ont-groei. Net soos die Suid-Koreane, is dit meestal mense wat reeds in weelde leef. Ekonomiese groei is per definisie ‘n toename in inkomste. Deur te veg vir ont-groei, beywer hierdie denkskool hulself inderwaarheid vir verarming. Dít is nou bevoorregting by uitstek; ek sal graag nog eendag ‘n arm persoon wil ontmoet wat nie op ‘n beter lewe (en dus hoër inkomste) hoop nie.

Die goeie nuus is dat met globale beleid wat die omgewingskostes van wat ons verbruik in ag neem, beide armoede en klimaatsverandering getakel kan word. Dit is hieroor waarvoor ons saam met die volgende generasie moet veg.

* ‘n Verkorte weergawe van hierdie skrywe het op 24 November in Rapport verskyn.