Ekonome het ‘n tawwe job. Wanneer dinge goed gaan, is ons taak om moontlike slaggate en struikelblokke uit te wys. So sou mens dalk die ongewilde advies moes gee, in die goeie tye, dat die Reserwebank die repokoers moet opstoot sodat die ekonomie nie oorverhit en inflasie aanhits nie. Of dat die gewone man op straat nie al sy bates in ‘n snelgroeiende en riskante aandelemark stort net om als te verloor wanneer dinge suid draai nie.
Die teenoorgestelde is ook waar. Wanneer dinge sleg gaan, is ekonome se taak om die silwer rantjies uit te wys sonder om realisme in te boet. En gegewe die powere prestasie van Afrika se tweede grootste ekonomie die afgelope paar jaar, raak ons taak al hoe moeiliker. Daar is eenvoudig net al hoe minder silwer rantjies.
Maar die geskiedenis gee mens dalk perspektief. Dié wat die 1980s kan onthou sal weet dat dinge voorheen ook redelik donker was. Tussen 1982 en 1993 het die Suid-Afrikaanse ekonomie met minder as 0.5% per jaar gegroei. Die politieke toekoms van die land was in die weegskaal. Dié wat kón het hulle kapitaal landuit geneem. Lees deur ‘n paar ou koerantopskrifte en die geldmaakgeleenthede lyk redelik dun gesaai.
Ons vergeet ook maklik die krisisse tydens die goue jare van Mandela of Mbeki. Die Asiese krisis van 1998 het rentekoerse tot 24% laat styg. Die rand het in 2000 en 2001 met 12% en 19% teen die dollar gedaal, wat die regering genoop het om in 2002 alle nuwe beleggings in die buiteland deur Suid-Afrikaanse finansiële instellings te vries. En dan was daar die kleinbankkrisis van 2002 en 2003, met beleggers in Saambou wat baie spaargeld verloor het.
Maar ten spyte van hierdie kwetsings was daar geleenthede vir geldmaak. Gróót geldmaak. Naspers het in 2001 ‘n paar miljoen gestoot in ‘n onbekende Chinese firma. Min mense sou tóé kon voorspel dat Chinese rekenaarspeletjies vir die grootste enkele inspuiting in die beursies van Suid-Afrikaners sou sorg. ‘n Paar manne het in Stellenbosch hul moue opgerol en ‘n bank gestig wat die hele sektor sou vernuwe. In Pretoria het Louis van der Watt se Atterbury die geleenthede van grootskaalse verstedeliking betyds raakgesien. Daar is baie ander voorbeelde.
Dawie Roodt skryf in 9 Junie se Rapport oor Suid-Afrika se geweldige uitdagings. Daar is inderdaad baie goed wat kwel, insluitend ‘n swak onderwysstelsel, misdaad wat handuit ruk en wanfunksionerende staatsinstellings. Dit help beslis nie dat die ANC se interne politieke struwelinge so openbaar geveg word nie, ten koste van stabilitiet en groei.
Roodt se advies is dat ons so min as moontlik belasting moet betaal, nie ekstra werkers in diens moet neem nie, en so min as moontlik van die staat afhanklik moet wees. Dis sekerlik goeie advies. Sy laaste sin lees: ‘En wanneer jy geld maak, neem dit landuit!’
Miskien het hy reg. Miskien sal die opbrengs in die buiteland meer stabiel wees. En miskien is die land op pad na rommelstatus wat ‘n beduidende depresiasie van die wisselkoers sal beteken, duurder skuld, en verdere probleme vir ‘n reeds onderdrukte begroting.
Maar as die laaste drie dekades se geskiedenis ons iets leer, is daar ook geleenthede in hierdie wispulturige tye. Dis tydens resessies dat die kaf van die koring geskei word. Besighede wat resessies oorleef, so wys telke studies ons, het noodgedwonge ‘n resep ontwikkel wat hulle toelaat om te flureer wanneer die ekonomie weer begin kop optel. En dis juis beleggers wat in hierdie slegte tye belê wat ryklik beloon word vir hul aptyt vir risiko.
‘Wie nie waag nie, wen nie’ is vir rede ‘n cliché. Meeste van ons sal die veilige hawens verkies, en probeer om ons spaargeld te verskans teen die risikos van ‘n ANC-regering met ‘n gesplete persoonlikheid. Maar die kansvatters sal waag, belê in entrepreneurs wat ‘n depresiërende wisselkoers en die ander uitstaande kenmerke van Suid-Afrika tot hul voordeel kan aanwend om ‘n suksesvolle sakeryk op te bou. En baie van hierdie kansvatters, só wys die geskiedenis ons keer op keer, sal wen.
* ‘n Verkorte weergawe van hierdie skrywe het op 16 Junie in Rapport verskyn.