’n Paar keer in mens se lewe kom mens voor ‘n gróót besluit: Watter kursus moet ek studeer? Moet ek hierdie verhouding voortsit of beëindig? Moet ek van werk verander of nie? Standaard ekonomiese teorie stel dat mense die besluit sal neem wat hulle nut maksimeer. Maar doen mense dit regtig? Maak mense oor die algemeen die regte besluite?

Dit is die onderwerp van ‘n nuwe studie deur die gewilde ekonoom Stephen Levitt. Levitt, bekend vir sy boeke Freakonomics, se nuutste studie grens nogal aan die bisarre: hy het vir ‘n paar duisend mense oortuig om belangrike lewensbesluite oor te laat aan die skiet van ’n muntstuk. Hy toets dan die invloed van hierdie arbitrêre uitkoms op mense se geluk twee en ses maande nadat hulle die besluit geneem het.

Basies werk dit so: Levitt het ‘n webtuiste geskep waar mense wat onseker was oor ’n besluit – van groot lewensbesluite soos moet ek my werk los tot kleineres soos moet ek my hare kleur – kan gaan en waar ’n digitale muntstuk hulle kan help om die besluit te neem. Neem Maryke, ’n eienaar wat onseker is of sy haar huis moet verkoop en trek. Sy teken op die webtuiste aan, antwoord ’n aantal vrae, en druk ’n knoppie. Die webtuiste spoeg ’n antwoord uit: ‘kop’ beteken sy moet voortgaan en haar huis verkoop; ‘stert’ beteken sy moet hou wat sy het.

Levitt stuur dan twee maande en weer ses maande later ‘n vraelys aan Maryke om te sien of sy die besluit wat die rekenaar uitgespoeg het deurgevoer het, en hoe sy daaroor voel.

Mens sou dink dat ’n digitale muntstuk nie veel invloed het op mense se besluite nie, veral nie groottes soos huiskoop, werk verander en selfs huwelike beëindig nie, maar Levitt vind dat dit inderdaad het. Dié vir wie die muntstuk op ‘kop’ geval het was 25% meer geneig om wel die besluit te neem as dié met ‘stert’; indien Maryke se muntstuk op ‘kop’ geval het, sou sy dus meer geneig wees om haar huis te verkoop.

Dit is al klaar ’n interessante resultaat, maar Levitt wil natuurlik weet of Maryke se besluit van haar ’n gelukkiger mens gemaak het. En dit wil voorkom of dit inderdaad het: Ongeag of die muntstuk op ‘kop’ of ‘stert’ geval het, en of mense by hulle besluit gehou het, is mense gelukkiger twee en ses maande nadat hulle ’n verandering aangebring het. Dit is egter bloot ‘n korrelasie, en nie noodwendig ‘n kousale verband nie. Anders gestel: Maryke is gelukkiger, maar miskien dink ons so net omdat gelukkiger mense meer geneig is om meer gereeld te trek (met ander woorde, die kousaliteit loop in die teenoorgestelde rigting), of omdat hulle meer geneig is om die vraelys te voltooi.

Wat Levitt dus doen is om dié mense te volg wat by die besluit van die muntstuk gebly het. Veronderstel Maryke het ‘n pêl, Willem, en hy moet ook besluit of hy wil trek of nie. Willem se muntstuk val egter op ‘stert’, en hy bly dus. Levitt se fasinerende resultaat is dat dié mense wie se muntstuk op ‘kop’ geval het en die advies gevolg het (soos Maryke wat getrek het), meer gelukkiger is as dié mense wie se muntstuk op ‘stert’ geval het en ook die advies gevolg het (soos Willem wat nie getrek het nie). Dit is belangrik, omdat Maryke en Willem basies in elke ander opsig vergelykbaar is, en daarom kan die resultaat as die kousale invloed van besluitneming gesien word.

Daar was tien ‘groot’ lewensbesluite in Levitt se studie: van ‘moet ek by die werk bedank’ (2186 mense het dit gevra), tot ‘moet ek ophou rook’ (499 mense), tot ‘moet ek verloof raak’ (220 mense). Interessant genoeg het die positiewe impak op geluk net vir die ‘groot’ lewensbesluite gegeld – mense wat gekies het om hul haarkleur te verander was twee of ses maande na die tyd nie meer of minder gelukkig as die wat nie hul haarkleur verander het nie.

Sulke navorsing beteken natuurlik nie ons moet ons groot lewensbesluite aan ’n muntstuk oorlaat nie. Maar die ou wysheid sê dat om nie ’n besluit te neem nie ook tog ’n besluit is. Wat Levitt se studie toon is dat meeste van ons heeltemal té risiko-avers is – dat ons té versigtig is vir verandering. Ons sal gelukkiger mense wees as ons verandering meer gereeld omhels.