Verbeel jou ek stig ‘n maatskappy en maak aan jou die volgende aanbod: jy kan aandele in my maatskappy koop, maar jy het byna geen seggenskap in die bestuur van die maatskappy nie. Boonop kan jy ook nie veel meer as 3% nominale opbrengs per jaar op jou belegging verdien nie. Alle wins wat die maatskappy meer as dit maak, word aan iemand anders betaal.
Vir enige belegger sal dit soos ‘n dom idee klink. Dit sou meer sinvol wees om jou geld in ‘n spaarrekening te belê, byvoorbeeld, waar die opbrengs hoër en die risiko laer is.
Tog is dit presies hoe die Suid-Afrikaanse Reserwebank se aandele werk. Elke aandeel verdien ‘n vooraf gespesifiseerde 10c opbrengs. Met aandele wat rondom R3 per aandeel verhandel (wanneer dit beskikbaar is), is die opbrengs ‘n skamele 3.3%. Alle addisionele winste wat die Reserwebank verdien word aan Nasionale Tesourie oorgedra. Aandeelhouers het ook geen invloed oor die mandaat van die Bank nie; die hoofdoelwit – om die waarde van die Rand te beskerm ten bate van gebalanseerde en volhoubare ekonomiese groei en finansiële stabiliteit – en die onafhanklikheid van die instelling word beskerm deur wetgewing – die Suid-Afrikaanswe Reserwebankwet 90 van 1989.
Die Reserwebank se twee miljoen aandele is dus eintlik ‘n baie swak belegging. Daar is tans ongeveer 750 beleggers wat elk ‘n maksimum van 10 000 aandele besit. So hoekom belê enigiemand hierin?
Een rede is dat hulle voorsien dat die Reserwebank iewers in die toekoms genasionaliseer gaan word. Hoewel die waarde van die totale aandele nie veel meer as R6 miljoen is nie (2 miljoen teen R3 per aandeel), is die Reserwebank natuurlik meer ‘werd’ as dit. Dit is ‘n volle aandeelhouer van die Suid-Afrikaanse Munt, die instansie wat kontant druk. Dit stoor die land se goudreserwes, tans 125 ton teen ‘n geskatte waarde van R90 miljard. En dit hou ook fisiese en finansiële bates van etlike honderde miljarde rande. ‘n Nasionaliseringsoefening kan beteken dat private aandeelhouers vereis dat ‘n deel van hierdie bates hulle toekom. Iemand wat dus 100 aandele teen R3 elk gekoop het, kan, indien die howe saamstem met hierdie herevaluering van die waarde van die Reserwebank, wegstap met ‘n aansienlike bedrag.
Dit is baie onwaarskynlik dat die howe sal instem tot só ‘n herevalering, maar wees verseker dat die huidige aandeelhouers als in hul vermoë sal doen om ‘n sterk saak daarvoor te maak. Die beste waarop die regering kan hoop – indien hulle sou besluit om die Reserwebank te nasionaliseer – is ‘n uitgerekte regsaak wat hulle uiteindelik wen.
Maar dit is nie die enigste, of selfs mees belangrike, rede hoekom nasionalisering nie ‘n goeie idee sal wees nie. Daar is by my geen twyfel dat opulistiese leiers wat nasionalisering aanhang die Reserwebank as voorbeeld sal gebruik van ‘n ‘suksesvolle’ nasionaliseringsoefening. Kyk, sal hul sê, die Reserwebank is genasionaliseer en daar was byna geen negatiewe effek op die ekonomie nie. Hoekom dus daar stop? Eerste Nasionale Bank, Standard Bank, Absa, Nedbank en Capitec sal volgende in hul visier wees, en dan die myne en plase en selfoontorings.
Dit is waarom die gesprek oor nasionalisering so fel is. Daar is geen rede vir die Reserwebank om in privaatbesit te wees nie; inteendeel, die vereistes van ‘n jaarlikse aandeelhouersvergadering waar mense met vreemde idees uithang gee die Reserwebankbestuur onnodige ekstra werk. Meeste lande se sentrale banke word volledig deur die staat besit. Toe Minister van Finansies Tito Mboweni vroeër vandeesweek die ANC se beleid ten gunste van nasionalisering op Twitter bevraagteken, het baie kommentators hom daarop gewys.
Die slaggate lê egter in die proses van nasionalisering. Eerstens kan aandeelhouers baie meer eis as wat hul aandele werd is. Tweedens kan nasionalisering die buskruit wees vir die populiste om verdere nasionaliseringspogings te loods. Beide kan rampspoedige gevolge inhou. Dit sal vir die regering beter wees om die onskadelike aandeelhouers en populiste wat van die kant af skree te verdra, as om vir hierdie opportuniste die kans te gee om hul wilde idees waar te maak.
* ‘n Verkorte weergawe van hierdie skrywe het op 19 Januarie in Rapport verskyn.