Tydens die Somerset Wes-boekbekendstelling van Christo Wiese: Risiko & Rykdom vra ek vir TJ Strydom, die skrywer, hoekom Wiese nie ‘n politikus geword het nie. As jy die biografie ophou lees na die hoofstuk wat handel oor Wiese se universiteitsjare sou jy maklik kon glo dat hierdie die begin is van ‘n storie oor ‘n politikus eerder a dié van ‘n entrepreneur wat later ‘n geweldige sakeryk sou bou. Was sy politieke betrokkenheid weens universiteite wat meer ‘politieke’ as ‘entrepreneuriese’ geleenthede vir studente skep, of het dit iets te doen met die jeugdige passie van studente? Ek het immers ‘n professor gehad wat altyd gesê het: as jy nie ‘n sosialis is as jy twintig is nie het jy nie ‘n hart nie, en as jy nie ‘n kapitalis is as jy dertig is nie het jy nie ‘n brein nie.
Strydom antwoord dat beide redes moontlik waar is, maar dat daar dalk ‘n derde rede is. Wiese het al die eienskappe wat hom ‘n fantastiese politikus sou maak, vertel Strydom. Hy is sjarmant, skerp en ‘n selfvertroue wat aantreklik is. Sy skoonpa was self ‘n politikus – en hy is van vroeg af daarin touwys gemaak. Hy kan ook ys aan ‘n Eskimo verkoop, altyd goed as jy wil stemme werf. Maar al hierdie goed sou later deurslaggewend wees in die opbou van sy kapitaalkoninkryk. Nee, seg Strydom, Wiese se politieke loopbaan is gekniehalter deur twee goed: sy eie politiek, en later, sy land se politiek. Sy sieninge was té liberaal vir die 1970s en teen die laat-1980s het die politieke winde só begin waai dat daar maar min ruimte vir ‘n jong Afrikaanssprekende was om sy pad tot bo te maak. En boonop was daar geld om te maak; die alternatiewe was lonend.
Wiese se storie is nie uniek nie. Met die koms van die demokratiese bestel is ‘n veilige, goedbetaalde loopbaan in die staatsdiens vir baie wit Afrikaanssprekendes van die tafel gehaal. Swart ekonomiese bemagtiging dwing meer wit Suid-Afrikaners om geleenthede in die privaatsektor op te soek. Dis dan ook wat hul doen, en baie maak ‘n groot sukses daarvan, met Wiese aan die voorpunt.
Mense vergeet dat meeste van vandag se welgestelde Afrikaanssprekendes hul geweldige rykdom na die koms van demokrasie opgebou het. Dink maar aan die groei van nuwe maatskappye soos PSG, Shoprite en Atterbury. En baie van die maatskappy wat tydens die twingtigste eeu vir die bevordering van Afrikanerbelange gestig is, soos Naspers en Sanlam, sou eers werklike groei toon ná 1994 namate hulle nuwe binnelandse en buitelandse markte betree het. Die opkoms van Capitec as die bankier van die massas is die beste voorbeeld van hierdie post-apartheid Afrikaner-entrepreneurskap. Wiese sou self hierdie visie deel in die 1990s, maar sy pogings met Bolank Bank, soos Strydom in sy boek vertel, sou skipbreuk ly. Dit was egter sy Bolank Bank bestuurspan wat in die vroeë 2000s munt uit hierdie visie sou slaan, nou met PSG se ondersteuning. Vandag het Capitec meer as 10 miljoen kliënte en groei steeds: in Januarie en Februarie vanjaar het reeds meer as 500 000 nuwe kliënte aangesluit. Vroeër die week sou die Bank Ombud Capitec aanwys as die Suid-Afrikaanse bank waaroor die minste gekla word.
Sou die staatsdiens en die politiek, soos tydens die twintigste eeu, vir hierdie Afrikaanssprekendes ‘n opsie wees, sou baie van hulle waarskynlik die veilige opsie gekies het. Hulle sou ‘n goeie job en goeie salaris en goeie lewe gehad het. Maar hulle sou nooit die risikos geneem het waarmee hulle uiteindelik ‘n fortuin sou bou nie.
Hierdie hou waardevolle lesse ook vir die huidige bestel in. Regstellende aksie in die staatsdiens – veral sedert 2009 toe Zuma die kabinet en staat se personeelkorps beduidend vergroot het (as teenvoeter vir die resessie na die wêreldwye ekonomiese krisis die vorige jaar) – maak nie net die staatskas onvolhoubaar nie, dit trek ook geskoolde mense weg van die produktiewe privaatsektor. Meer nog: maak die staatsdiens aantreklik vir ‘n klomp enrepreneurs (met swak instellings van oorsig) en jy kry presies wat jy sal verwag: tenderpreneurs. Dit sou baie sinvoller vir hierdie kaders wees om eerder hulle dealmaking skills in die privaatsektor te kon toets, waar sukses nie net welvaart vir die individu beteken nie, maar ook vir die land.
Ons nuwe president sal binnekort ‘n kans hê om die volgende geslag (swart) entrepreneurs se lot te bepaal. Of hy probeer vir hul plek vind in ‘n staatsdiens wat hulle net sal frustreer, of hy sny die poste in die staatsektor en dwing ‘n nuwe generasie van sakeleiers – die volgende Christo Wiese – om risikos te neem en welvaart te skep.
* ‘n Verkorte weergawe van hierdie skrywe het op 19 Mei in Rapport verskyn.