My vriend Willem bekla nou-die-dag Afrikaans se lot by my: ‘Jy weet dat die taal oor drie generasies sal uitsterf. Ons kinders se kinders (wat trou is) gaan waarskynlik nie Afrikaans kan praat nie.’

Afrikaans en haar toekoms is ’n hot topic. Om braaivleisvure, in brieweblaaie en met balsende vuiste blaf en betoog elkeen ’n mening. Daar’s dié wat Afrikaans ten alle koste wil beskerm. Daar’s die wat wil hê dit moet val. En daar’s dié wat nie ’n veer voel nie. Dis die laasgenoemdes wat op Willem se opmerking sal reageer met ’n skouer optrek of ’n oë rol.

Maar dit was nie my reaksie nie. Ek sou graag dat, drie generasies van nou, Afrikaans steeds gepraat en geskryf en gesing word. Nie omdat dit uitverkore of ’n kulturele bate of in die grondwet vervat of ‘deel van ons geskiedenis’ is nie. (Wie is ‘ons’ inelkgeval?) Nee, Afrikaans moet bly omdat ek dink dat, soos met enige ander taal, dit die rykheid van ons menswees verbreed: die fyn-fyn net van die woord, wat groot en vet visse uit baie waters haal.

Dus was my vriend Willem se opmerking kommerwekkend. Hy verduidelik: ‘Daar is maar ’n paar miljoen Afrikaanssprekendes in Suid-Arfika (en ’n paar duisend oorsee). Engels is die lingua franca, en weens die toenemende integrasie van Afrikaanssprekendes tussen nie-Afrikaanssprekendes, sal Engels aanhou Afrikaans verdring totdat daar net ’n paar ou tannies in hul plattelandse aftree-oorde die  taal nog pleeg. Kyk maar na die universiteite. Kyk maar na die skole. Selfs in kerke word lidmate nie meer gesalf nie, maar anoint! Geen taal kan teen hierdie oormag oorleef nie.’

Die enigste uitweg, seg hy, is om ‘te veg vir die taal’. Maar dis nie duidelik hoe om dit op ’n genuanseerde manier te doen wat die realiteite van Suid-Afrika (en haar geskiedenis) in ag neem nie. En om eerlik te wees, het hy net nie krag vir ’n fight nie. ‘Want om saam met ’n taalbul in die kryt te klim is soos om saam met Russiese atlete te oefen. Jy is tainted by association.’

Maar hier is die goeie tyding: Afrikaans gaan nie uitsterf nie, ten minste nie in een of drie of selfs vyf generasies nie. En die rede daarvoor is eenvoudig: taal is ’n luukseproduk, en Afrikaanssprekers is welaf. Sover my kennis strek, het geen taal nog ‘uitgesterf’ terwyl die gebruikers daarvan welvarend was nie. In Ysland praat die 300 000 Yslanders Yslandies omdat hulle ryk genoeg is om twee (of meer) tale te kan bekostig: een waarmee hulle met die res van die wêreld kan kommunikeer (Engels) en een om met jou buurman te praat. En selfs waar Engels die lingua franca is, leef tweede tale voort wanneer die mense ryk genoeg is om dit te kan ‘bekostig’: 560 000 mense in Wallis praat Wallies, 20% van die bevolking, en die getalle bly redelik konstant. Mense koop Walliese boeke, sing Walliese musiek, en drink bier in Wallies. Maar geen van die beste Walliese universiteite bied uitsluitlik Walliese klasse aan nie – daar is wel sommige kursusse in Wallies, net soos daar by sommige universiteite in Suid-Afrika steeds (en in die toekoms) Afrikaanse klasse is.

’n Luukseproduk beteken dat wanneer mense se inkomste toeneem, hulle proportioneel meer op daardie produk gaan spandeer. Dink aan motors of gebottelde water. Taal – en die meegaande produkte en dienste – is só ’n luukseproduk. Hoe ryker ons word, hoe groter is ons behoefte vir ’n meer milddadige bestaan. Ons wil Spaanse aandklasse loop sodat ons die camino kan gaan stap. Ons wil isiXhosa leer sodat ons met ons mede-Afrikane in hul taal kan praat. Ons wil Chinees leer omdat China een enorme sakegeleentheid is.

Dis dieselfde soeke wat ons ook dryf om meer Afrikaanse produkte te verbruik. Ek skryf dalk al my navorsingsartikels in Engels, maar ek lees steeds byna uitsluitlik Afrikaanse fiksie. En meer Afrikaanse boeke versamel op my rak as die boekrakke van my ouers, en beslis meer as dié van my grootouers, vir wie die Bybel lank hul enigste boek was. En dit gebeur ten spyte van die feit dat daar meer goed deesdae is wat my ontspanningstyd kan vul (soos al Supersport se kanale en rekenaarspeletjies). En dis nie omdat ek ’n vetter boekwurm is nie. Dis omdat ek, soos die mensdom van die begin van Homo Sapiens af, die hoogste rang op Maslow se piramide wil bevredig, en ons generasie die finansiële vermoë het om dit te doen.

Hierdie vraag na betekenis skep ’n aanbod: dink aan al die kuberkletsblaaie, of Kyknetkanale, of Kunstefeesskedules wat ’n paar jaar terug maar bra karig was. Hier’s nog ’n voorbeeld: die 16 boeke van die Kennis ensiklopedie-reeks van die pre-internet era het 1500 afsonderlike artikels bevat. Vandag, twintig jaar later en met Afrikaans wat by universiteite verdwyn, het Wikipedia meer as 40 000 artikels in Afrikaans.

Afrikaans uitsterf binne drie generasies? Probeer weer. Afrikaans sal nie verdwyn omdat my tweedejaarsklas nou nie meer Afrikaanse powerpoints het nie. Dis Adam Smith se insigbare hand, nie die grondwet se beskermingshand, wat die taal sal red. (Dieselfde geld natuurlik ook vir Suid-Afrika se ander minderheidstale; isiXhosa gaan net ontwikkel indien daar rykerwordende isiXhosa-sprekers is wat koerante en kookboeke en ander kultuurprodukte kan koop.)

Ontspan daai boude. Net soos Yslandies en Wallies en al die ander klein minderheidstale sal voortleef en floreer, sal Afrikaans ook, omdat ons woon in ’n wêreld waar mense hul behoeftes vir ’n betekenisvolle bestaan kan bevredig met hul hoë en groeiende inkomstes.