Data soos op 14 Maart. Bron: https://www.arcgis.com/apps/opsdashboard/index.html#/bda7594740fd40299423467b48e9ecf6

Dis interessant hoe die coronavirus mense in een van twee kampe plaas: sommiges glo dat Covid-19 niks erger as die gewone griep is nie, en dat mense oorreageer as hul hul reisplanne inperk of lande hul burgers kwarantyn. Donald Trump is beslis in hierdie groep: hy tweet Maandag, 9 Maart dat laasjaar 37 000 Amerikaners aan die groep dood is, en dat daar (met tye van sy tweet) slegs 22 sterftes in Amerika is. ‘Think about that!’ sluit hy af. Sy houding sou teen Woensdag vinnig verander toe hy groot beperkinge op reis na Europa sou instel.

Die ander kamp, om hulle effens te stereotipeer, glo dat hierdie ‘n pandemie is van epiese proporsies wat tot geweldige lewensverlies aanleiding kan gee. Die probleem is mediese infrastruktuur. As die virus maklik en vinnig versprei, soos dit blyk die geval te wees, kan die behoefte aan hospitaalbeddens vir die 2% van mense wat ernstig siek word so groot wees dat dit vinnig die hoeveelheid beskikbare beddens vul. En as hospitale vol raak en daar is byvoorbeeld nie meer ventilators beskikbaar nie, gaan die dodetal vinnig styg. Die rede hoekom groot streke in kwarantyn geplaas word is om hierdie vinnige verspreiding teë te werk.

Ek dink dis naïef om te dink dat Covid-19 dieselfde as die gewone griep is. Dis duidelik nie. Dit versprei makliker en teiken spesifiek die longe, wat tot hoër sterftekoerse aanleiding gee, veral vir mense met lae immuniteit en bestaande longkwale. Die vraag is dus hoe kan ons Covid-19 keer wanneer dit in Suid-Afrika posvat.

Baie faktore bepaal hoe vinnig die virus versprei. Gereelde kontak met die oorspronklike bron – Wuhan in China – is een faktor; dis hoekom meeste lande aanvanklik ‘n verbod op reis na en van China ingestel het. Die owerheid se optrede nadat die eerste geval identifiseer is kan ook ‘n deurslaggewende invloed hê op hoe vinnig die virus versprei; in Noord-Italië en die staat Washington was die owerhede traag om aanvanklik te reageer, wat die verspreiding in Europa en die VSA onderskeidelik aangevuur het. In sommige lande – soos Suid-Korea – is daar ook baie meer toetsstelle beskikbaar as byvoorbeeld Amerika. Maar daar is duidelik ook iets anders wat ‘n rol speel – en ‘n vinnige blik na die wêreldkaart wat die hoeveelheid infeksies toon gee dit weg: die suidelike halfrond het beduidend minder infeksies as die noordelike halfrond. Dis natuurlik somer in die suide.

Die teorie dat warmer areas minder geneigd is om die virus te versprei is egter moeilik om te bewys; miskien het die suide bloot minder kontak met China aanvanklik gehad. Dis waar navorsing oor vorige pandemies ons dalk kan help. Begin verlede jaar publiseer David Slusky en Richard Zeckhauser ‘n NBER artikel wat nou baie relevant blyk te wees. In die artikel meet hulle die effek van sonlig op die verspreiding van griep in Amerika tussen 2003 en 2016. Omdat griep gewoonlik in die winter voorkom is dit moeilik om die genoeg variasie in sonlig te kry sodat navorsers die invloed van sonlig op griep kan meet; dis immers oral en die heeltyd bewolk en donker. Daarom gebruik die outeurs Amerika se herfs as eskperiment: in sommige dele van Amerika bring die herfs alreeds sonnige dae en in ander dele bly dit meestal koud en bewolk. Deur die sonnige dae met die verspreiding van griep te korreleer, kan hulle bepaal of sonlig enigsins ‘n effek op verspreiding het.

Hul resultaat? Dit doen – en geweldig baie. Hulle vind dat ‘n 10% toename in relatiewe sonlig tot ‘n afname in die griepindeks vir September en Oktober (hulle herfs, onthou) van 0.8 punte op ‘n 10-punt skaal aanleiding gee. Maar omdat nie almal van hierdie korrelasie oortuig is nie, gaan die outeurs ‘n stappie verder. Hulle volg die H1N1 virus van 2009 in die staat New York. Hulle gebruik ‘n heeltemal ander datastel en kom tot presies dieselfde slotsom: streke met meer sonlig in 2009 se herfs het minder infeksies van die H1N1 virus gehad.

Hierdie resultate is spesifiek op sonlig van toepassing en nie op temperatuur of humiditeit nie. (Tegnies sê ons dat die outeurs kontroleer vir hierdie twee veranderlikes in hulle regressies.) So hoekom maak sonlig ‘n verskil? Sonlig help mense om Vitamine D te produseer. Natuurlik kan mens vitamin D ook op ander maniere kry, soos om vis en melk te verbruik, of om vitamin-aanvullers in te neem. Maar die outeurs argumenteer dat die liggaam se natuurlike proses om vitamine D te produseer baie meer suksesvol is om die verspreiding van griep te bekamp. Mens sou ook seker kon byvoeg dat die virus nie maklik voortleef op warm, songebakte oppervlakke nie. Dit is byvoorbeeld opmerklik dat die virus nie werklik tussen mense hier versprei wat dit van oorsee af bring nie.

Natuurlik beteken dit nie ons moet net staatmaak op die helende kragte van die son nie. Dit is steeds ‘n goeie idee om jou hande gereeld te was en so min as moontlik kontak met ander te maak. Boonop is winter op pad. Dinge kan baie vinnig verander – en ons kan net hoop dat plaaslike, provinsiale en nasionale owerhede gereed is vir wanneer die virus inderdaad hier begin versprei.

Die beste lesse (uit Suid-Korea) is om mense soveel as moontlik te toets en almal so bes doenlik te isoleer. By my is daar geen twyfel dat ‘n mate van kwarantyn ook ons voorland is; met ‘n pandemie is dit baie beter om proaktief as reaktief te wees. Maar tot dan is dit dalk ‘n goeie idee om die laaste van die somer te geniet deur jou baaibroek aan te trek, ‘n oop strand te gaan opsoek en die son in te drink terwyl jy ‘n paar groottes uittrek vir die aand se visbraai (op jou eie, natuurlik).

* ‘n Verkorte weergawe van hierdie skrywe het op 15 Maart in Rapport verskyn.