Aan die einde van elke jaar kies TIME hul ‘Persoon van die Jaar’. In 2018 het joernaliste – as die bewakers van die waarheid – hierdie eer ontvang. Die toekenning is natuurlik gemaak in die konteks van President Trump se ongebreidelde pogings om die media te diskrediteer as ‘fake news’. Maar dis net in Amerika nie. Joernaliste wêreldwyd moet soms bonatuurlik braaf wees om die waarheid te ontbloot. Die moord op die Saudi-joernalis, Jamal Khashoggi, het hierdie gevare duidelik uitgespel.

Maar dit is jammer TIME kon nie ook plek vind vir ‘n kantnota oor Suid-Afrika nie. Want as daar een land is waar ondersoekende joernaliste die fakkel van vryheid die afgelope dekade aangevuur het, dan was dit hier. Wyle Mandy Rossouw het Suid-Afrikaners van ons voormalige president se luukse opgraderings aan sy huis in Nkandla – betaal deur ons, die belastingbetaler – ingelig. Sabelo Skiti van Sunday Times was aan die voorpunt om Bell Pottinger se konkelinge met die Guptas te ontbloot. En soos Adriaan Basson hierdie week getuig het voor die Zondo-kommissie, was hy en Carien du Plessis reeds in 2006 besig om Bosaso se korrupsie te ondersoek en daaroor verslag te doen.

Ondersoekende joernaliste skryf nie net vir koerante nie. Mens wonder tot watter mate die publikasie van Jacques Pauw se The President’s Keepers in Oktober 2017, twee maande voor die die ANC verkiesingskongres, gehelp het om Ramaphosa ‘n paar stemme meer as Dlamini-Zuma te gee. Geskiedenisskrywers mag dalk eendag saamstem dat hierdie boek Suid-Afrika van die rand van ‘n afgrond gered het.

Hierdie onbaatsugtige bereidwilligheid om te veg vir ‘n pers wat wanpraktyke kan ontbloot is een van die hoekstene van ‘n demokrasie. Ekonome sou joernaliste se bydrae tot die samelewing ‘n positiewe eksternaliteit noem. Dit is nie net dat joernaliste nuus verkoop aan lesers nie; hulle maak ook die land ‘n beter plek om in te woon. ‘n Ander manier om daaroor te dink is dat die opbrengs vir die samelewing groter is as die opbrengs vir die individu. Geeneen van die joernaliste wat die land miljoene gespaar het om korrupsie hok te slaan het persoonlik baie voordeel daaruit getrek nie.

‘n Diens of produk met groot positiewe eksternaliteite beteken dat die vrye mark te min van sulke tipe produkte en dienste sal oplewer. ‘n Goeie voorbeeld is onderwys. ‘n Graad op universiteit beteken dat ‘n individu ‘n hoër salaris sal verdien – so daar is beslis privaatvoordele aan verdere studie. Maar daar is baie groter voordele vir die samelewing van ‘n arbeidsmag met universiteitsopleiding: hooggeskoolde individue ontwikkel nuwe tegnologie en stelsels wat almal rondom hulle bevoordeel. Daar is dus groot positiewe eksternaliteite aan onderwys, en daarom subsidieer die staat universiteitsopleiding.

Joernaliste sou dus ‘n geldige argument kon maak dat hulle te min besoldig word vir die tipe diens wat hulle lewer. Dit word natuurlik vererger deur die daling in koerantsirkulasiesyfers, die veranderende tendense van hoe nuus verbruik word en die verbysterende hoeveelheid sosiale nuusbronne van bedenklike kwaliteit (iets wat Bell Pottinger baie goed uitgebuit het). In kort: die private opbrengste vir joernaliste raak al hoe kleiner terwyl die sosiale opbrengs oënskynlik al hoe groter word.

Hoe sou ekonome voorstel om hierdie gaping te oorbrug? Een opsie sou wees om staatssubsidies vir joernaliste in te stel, net soos daar subsidies vir hoër onderrig is. Daar is een groot probleem hiermee. As die staat jou salaris betaal, is dit baie onwaarskynlik dat jy gemaklik gaan wees om staatskorrupsie en ander wanpraktyke te ondersoek. Dit is nie verrassend nie dat geen van die groot onthullings gekom het van joernaliste wat vir staatsgesubsidieerde media-instellings soos die SAUK werk nie.

Die teenkant is natuurlik ook waar. ‘n Geldige kritiek teen joernaliste is dat hulle soms nie so ernstig oor privaatsektorkorrupsie as publiekesektorkorrupsie is nie; hulle publikasies maak immers staat op advertensies uit die privaatsektor.

‘n Alternatiewe opsie is om seker te maak dat daar genoeg winsgewende mediahuise is. Mededingingsbeleid kan keer dat groot mediahuise saamsmelt en die aanbod van ondersoekende joernaliste verminder. Maar ‘n meer sinvolle manier is dalk om privaatbefondsing te gebruik om onafhanklike sentrums vir ondersoekende joernaliste te stig. Dink net: twee of drie nuussentrums wat nie afhanklik van advertensie-inkomste of leserssubskripsies is nie, en daarom uitsluitlik op die taak van fakkeldraer vir vryheid kan fokus.

Dis waarskynlik die beste manier om ons teen ‘n tweede Zuma-dekade te verseker.

* ‘n Verkorte weergawe van hierdie skrywe het op 10 Februarie in Rapport verskyn.