Ekonome verskil gereeld van mekaar. (Vra tien ekonome ‘n opinie en jy kry elf verskillende antwoorde, is ’n ou gesegde binne die professie.) Maar daar is een beginsel waaroor meeste ekonome saamstem: vryhandel is oor die algemeen beter vir algemene welvaart as wanneer grense handel beperk. Die bekende ekonoom Gary Fields se aanhaling som dit goed op: ‘As jy arm is, kan jy nie ryk raak deur aan jouself te verkoop nie’. Net soos arm mense ‘n werk nodig het om ‘n inkomste te verdien waarmee hulle die broodnodige lewensmiddele kan aanskaf om hul lewensstandaard te lig, so het arm lande nodig om uit te voer om te betaal vir die invoere wat hulle verbruikers nodig het om hul lewensstandaard te verbeter.

Suid-Afrika is ‘n goeie voorbeeld. Een van die redes hoekom arbeidsproduktiwiteit met die aanvang van demokrasie begin toeneem het, was die liberalisering van ons geweldig komplekse handelstariewe (die belastings wat ons of invoere van goedere hef). Laer tariewe het beteken dat ons produkte goedkoper kon invoer, wat beteken dat huishoudings baie meer produkte kon aanskaf met dieselfde inkomste as voorheen. (Goedkoper invoere het noodwendig sommige Suid-Afrikaanse firmas onmededingend gemaak, wat tot werksverliese gely het. Maar navorsing toon dat hierdie werksverliese ondervang is deur nuwe werksgeleenthede wat elders in die ekonomie geskep is.)

Die meriete van enige voorstel om tariewe te verhoog of ander hindernisse te plaas wat handel kan teewerk moet dus baie noukeurig ondersoek word. En dit is deur hierdie lense wat ek die afgelope paar jaar se twis tussen Suid-Afrika se hoenderprodusente en Amerika se uitvoerders dophou. Hoender is ’n Suid-Afrikaanse stapelproteien. Dit is veral ’n belangrike proteien vir arm Suid-Afrikaners. Hoe goedkoper hulle dit kan aanskaf, hoe beter.

In teenstelling argumenteer hoenderprodusente (wat deur ‘n paar firmas gedomineer word) dat plaaslike produksie verskaf voedselsekerheid en werksgeleenthede. Ongelukkig is beide argumente redelik swak. Die korrekte definisie van voedselsekerheid is dat verbruikers toegang tot goedkoop voedsel het, en nie dat daardie voedsel plaaslik geproduseer word nie. Singapoer, Hong Kong en Luxemboerg is lande van die hoogste voedsekerheid ter wêreld, en tog produseer hulle byna niks daarvan self nie. Ethiopië en Bangladesh produseer omtrent al hul eie voedsel self, maar hongersnood is nie ongekend nie. Tweedens is dit nie duidelik dat Amerikaanse mededingeng werksgeleenthede op Suid-Afrikaanse hoenderplase gaan bedreig nie; die hoë winste van hoenderprodusente sal waarskynlik die enigste slagoffer wees.

Suid-Afrikaanse amptenare het natuurlik ‘n verpligting om seker te maak die kwaliteit van hoender wat ingevoer is veilig vir verbruikers. Net soos plaaslike produsente aan sekere gehaltevereistes moet voldoen, moet dieselfde van buitelandse produsente verwag word. Baie ryk lande het gereeld sulke nie-tarief beperkinge gebruik om arm lande se uitvoere te blok; nou nog is die reëls op hoe vleis byvoorbeeld voorberei moet word voordat dit na Europa uitgevoer kan word baie streng.

Dit is nie asof arm verbruikers nie besef hierdie ingevoerde hoender is van minderwaardige gehalte nie. Baie arm Suid-Afrikaners verkies om eerder ’n duurder, lewendige hoender van kleinboere op informele markte te koop as om die goedkoper maar meer waterige hoender in ‘n supermark. Dit is die wonder van die markstelsel: die vryheid om te kan kies. Maar dit is ook hoekom daar gewaak moet word teen die oligopolistiese firmas wat gehalte-argumente gebruik om hul winste te lig ten koste van arm verbruikers. As hierdie firmas eerlik was oor werkskepping, sou hulle baie meer doen om hierdie kleinboere te ondersteun.

Einde laasjaar het die Amerikaanse president, Barack Obama, Suid-Afrika ‘n ultimatum gestel: indien ’n ooreenkoms nie bereik kon word nie, sou die landbouvergunnings in die AGOA-ooreenkoms verval. Wie sou die meeste hierdeur benadeel word? Natuurlik nie die Suid-Afrikaanse hoenderprodusente nie: hulle voer immers nie na Amerika uit nie, maar na ander Afrika-lande. Wynboere sal geraak word, hoewel Amerika maar ’n relatief klein maar nie onbeduidende mark is nie (5% van ons wynuitvoere). Sitrusboere ook (3%). Maar dit is veral nisindustrieë wat gaan swoeg: 23% van Suid-Afrika se uitvoere van macademianeute gaan na Amerika, en hierdie mark het met 15% per jaar gegroei tussen 2010 en 2014. Hoër tariewe kan verdere groeivooruitsigte kelder.

Hoër handelstariewe het meestal meer verloorders as wenners. Ongelukkig is die wenners soms dié met die vermoë om die owerhede te kan oortuig van hul saak, met nadelige gevolge vir ander produsente (en verbruikers) in die ekonomie.

Om ryk te word as ’n land, moet ons ons produkte aan die wêreld verkoop. Ons het beslis die VSA meer nodig as wat hulle ons het. Dit sal gaaf wees as Suid-Afrika se beleidsmakers dit onthou.