Die één ding waaroor meeste Suid-Afrikaners saamstem is ons land se swak onderwysstelsel. Terwyl daar steeds ’n paar honderd publieke en private skole is wat leerders bemagtig met hoë-gehalte onderrig, is meeste leeders in skole waar hulle nie voldoende toegerus word om na universiteit te gaan of by ander tersiêre instellings in te skryf nie.
Kom ek laat die syfers die praatwerk doen: slegs een in drie leerders wat die wiskunde eindeksamen in 2016 geskryf het, het 40% of meer daarvoor gekry. Of dink só daaraan: ongeveer 15,000 matrieks het 70% of meer vir wiskunde gekry; dis maar 1.5% is van die hoeveelheid leerders wat tans Graad 1 begin. Alle toekomstige ingenieurs, statistici, rekenaarwetenskaplikes, ekonome, fisici, finansiële bestuurders en aktuarise moet uit daai klein poeletjie van leerders opgelei word.
Vir hierdie rede word daar baie aandag aan die verbetering van die skoolstelsel gegee, met die fokus tipies op die matriekeksamen. Tog is daar navorsing wat toon dat die gaping tussen leerders reeds vroeër ontstaan. ’n 2015 Trends in Mathematics and Science-studie (TIMSS) toon dat slegs 34% van ons Graad 9-leerders aan die laagste internasionale maatstaf vir wiskunde op daardie vlak kon voldoen. In ander woorde, 66% van ons Graad 9-leerders is wiskundig ongeletterd in Graad 9. (Die klein bietjie goeie nuus is dat hierdie ’n 10 persentasiepunte toename relatief tot 2011 is.)
Die probleme begin egter nie in die hoërskool nie. Dieselfde 2015 TIMSS-studie toon dat 61% van ons Graad 5-leerders nie die internasionale maatstaf vir wiskunde kon haal nie. Slegs 41% van Graad 5-leerders kon byvoorbeeld die som 512 x 3 doen.
Servaas van der Berg, professor in Ekonomie op Stellenbosch, draai nie doekies om nie: ‘Die beleidsboodskap is hard en duidelik: meeste kinders het reeds sulke groot agterstande dat meeste deure vir hulle toe is teen die einde van laerskool. Terwyl pogings om hierdie agterstande in die hoërskool uit te wis belangrik is, moet die grootste fokus eerder op die vroeë jare van onderrig wees, indien nie vroeër nie.’
In werklikheid, baie vroeër. Milandre Vlok, ’n PhD student by UNISA en met jarelange ondervinding in kleuteronderrig, is tans besig met veldwerk vir haar navorsing oor vroeë kinderontwikkeling by twee kleuterskole in die middestad van Pretoria. Beide kleuterskole huisves meestal kinders van Afrika-immigrante. In die een skool het kinders opgeleide onderwysers (nie noodwendig ‘n universiteitsgraad nie, maar opleiding by ‘n onderwyskollege), speelgoed en ruimte om te beweeg en te speel. In die ander skool is ongeveer 30 kinders ingewurm in ‘n klein ruimte met ‘n toesighouer wat hulle basies net oppas. Die verskille in die kinders se ontwikkeling is opmerklik. Milandre vertel dat wanneer kinders in beide skole gevra word om ’n prentjie te teken van ‘Die Stad’, die kinders in die eerste skool stokmannetjies teken van hul familie en maatjies in ’n gebou. Kinders in die tweede skool teken geen prentjie nie: hul beste pogings is eenvoudig ‘n onidentifiseerbare geskrabbel. Dit is baie onwaarskynlik dat kinders in laasgenoemde kleuterskool ooit hul ware potensiaal sal bereik.
Sukses op skool en daarna is grotendeels afhanklik, besef ekonome al hoe meer, van voorskoolse beleggings in kinders. Die swak prestasie van leerders in ons skoolstelsel is omdat meeste kinders reeds met geweldige agterstande in Graad 1 arriveer. Daar is min in die huidige skoolstelsel wat hierdie kinders kan help om hierdie voorskoolse agterstande uit te wis.
Dit vereis dat die regering baie harder moet dink oor voorskoolse sorg. Miskien moet ‘n deel van kindertoelae eerder gebruik word om kleuterskole te vestig. Dit sou dalk selfs beter wees om ’n koopbewys aan ouers van kinders tussen 0 en 6 toe te ken, en dan die privaatsektor uit te nooi om kleuterskole te stig waar ouers dan hul koopbewyse kan inruil. Só bemagtig jy ouers om die beste kleuterskool te kies wat hulle en hul kinders se behoeftes pas.
Die Nasionale Ontwikkelingsplan (NDP) mik vir 2 jaar van voorskoolse onderrig. Die probleem is egter dat daar min konkrete voorstelle is om hierdie ‘n realiteit te maak; ‘voorskoolse onderrig’ word nie eens volledig definieer in die Plan nie. Die opleiding van kleuterskoolonderwysers is byvoorbeeld ‘n saak van ernstige kommer; navorsing wys dat dit juis opgeleide onderwysers is wat die deurslag gee. Dit is nog ‘n rede om die privaatsektor te betrek: indien daar ‘n vraag na sulke onderwysers in privaat kleuterskole is (wat byvoorbeeld deur die staat se koopbewyse finansier kan word), sal die privaatsektor genoop wees om self opleidingskolleges op te rig.
Suid-Afrika het ’n onderwysrewolusie nodig, beslis, maar een wat reeds by die ouderdom van 1 jaar begin. Dit help nie net om die skoolstelsel reg te ruk nie. Goeie kleuterskole, met opgeleide kleuterskoolonderwysers, ruimte en speelgoed wat kinders se vaardighede ontwikkel, is kardinaal om die volgende generasie te bevry van ongelyke onderriguitkomste.