Vandeesweek kondig die Nasionale Navorsingsraad aan dat gegradeerde navorsers se befondsing volgende jaar met tot 90% gesny gaan word. Skaars ‘n wenkbrou is in die media gelig. Nou goed, meeste van Jan Publiek kan nie minder omgee oor die konkoksies wat omies en tannies in wit jasse in hul ivoortorings uitbroei nie. (Volle deursigtigheid: ek is een van hulle, maar sonder die wit jas.)
Maar ongelukkig is hierdie befondsingsinkortings nie so beuselagtig soos om ’n kind se speelgoed af te neem nie. Dit gaan ‘n daadwerklike invloed op Suid-Afrika se toekomstige mededingendheid hê, en by implikasie, Suid-Afrikaners se vermoë om ’n hoë lewensgehalte te behaal en handhaaf.
Dit is omdat universiteite nie net plekke is waar kennis oorgedra word nie, maar waar kennis geskep word. Belinda Bozzoli, die DA skaduminister van Hoër Onderwys, som dit mooi op in die Daily Maverick: ‘Universiteite verskil van skole en kolleges – akademici word nie “opgelei” en dan aan die werk gesit op ‘n pre-ontwerpte kurrikulum soos onderwysers nie. Hulle ontwikkel self die kennis en skryf die kurrikula. Akademiese navorsing is dus die hart van wat ‘n universiteit ’n ‘universiteit’ maak… en uitnemendheid in navorsing is die kern van ’n universiteit se besigheid.’
Die inkorting van die NNR se begroting, wat as rede vir die inkorting in gegradeerde navorsers se toelae aangevoer word, is ’n duidelike rigtingwyser van hoe min die huidige regering verstaan van die moderne ekonomie. Daar is ‘n baie sterk korrelasie tussen lande se ekonomiese groeikoers en die hoeveelheid wat op navorsing en ontwikkeling spandeer word. Suid-Afrika spandeer minder as 0.8% van ons begroting op navorsing en ontwikkeling; lande waar die lewenspeil besig is om vinnig te styg, soos Israel en Suid-Korea, spandeer meer as 4% van hul BBP daarop.
Daar is goeie redes om te dink dat navorsing en ontwikkeling net nog belangriker gaan word. Ek lees tans Max Tegmark, professor in kosmologie en fisika aan die Massachusetts Institute of Technology, se nuutste boek, Life 3.0. Kunsmatige intelligensie (Artificial intelligence) was tot onlangs toe nog ‘n redelike nisarea van akademiese studie, maar het die laaste dekade ontwaak as die tegnologie van die toekoms. Tegmark se eerste hoofstuk is getiteld: ‘Welkom by die belangrikste gesprek van ons tyd’. Hy oordryf nie.
Baie vinniger as wat ons sou dink, het masjienleerstelsels (‘n onderafdeling van kunsmatige intelligensie) die beste skaak en Go-spelers gewen, bestuur hulle motors, vertaal dokumente, herken jou gesig op Facebook, verstaan spraak, ensovoorts. Regerings en firmas wêreldwyd belê derduisende rande om aan die voorpunt hiervan te wees. Een plaaslike voorbeeld: Michael Jordaan, eks-CEO van FNB, se FinTeg firma, NMRQL Research, het Dinsdag die eerste masjienleer-aangedrewe effektetrust in Suid-Afrika beskikbaar gestel. Belê hier en ’n robot kies waar, en hoeveel daarvan, van jou geld belê word.
Die uiteindelike strewe is egter na Kunsmatige Algemene Intelligensie (Artificial General Intelligence, of AGI). Die rede daarvoor is dat wie okal eerste is om dit te ontwerp – ’n robot met die vermoë om dieselfde intellektuele funksies as ’n mens te verrig – gaan, volgens Tegmark, basies die wêreld regeer. Só ‘n robot se eerste funksie sal wees om ’n beter weergawe van haarself te bou, totdat ‘n rekenaar met superintelligensie geskep is. Dink net aan die ongelooflike deurbrake in die wetenskap wat só ‘n skepping kan maak, met praktiese gevolge vir byna elke industrie, van vervaardiging tot vermaak tot ruimte-eksplorasie.
Maar daar is ook ’n donker kant. Hierdie robot se doelstellinge gaan nie noodwendig dieselfde wees as dié van mense nie. Een bisarre voorbeeld: selfs as ons die robot sou kodeer dat haar belangrikste doelstelling is om die mens te beskerm, dink sy dalk die beste manier om dit te doen, is om mense in ‘n tipe dieretuin aan te hou, net soos ons tans met ysbere of pandas maak. Suid-Afrikaansgebore Elon Musk is skepties oor of AGI noodwendig ‘n goeie ding gaan wees, veral as die tegnologie in die hande van net een land of korporasie beland.
Ek dwaal af. Die NRF se inkorting van die navorsingsbegroting is sterk sein dat Suid-Afrika nie in hierdie toekomstige wêreld mededingend wil en gaan wees nie. Dit is tragies, want die enorme uitdagings wat ons in die gesig staar – armoede, misdaad, werkloosheid – kan nie met huidige oplossings aangespreek word nie. Vernuwende tegnologie en die kombinasie daarvan met innoverende sosiale stelsels – daardie nuwe kennis wat by universiteite geskep word – is ons enigste hoop.