Ons almal weet dit. As jou inkomstes minder is as jou uitgawes maak jy ‘n verlies. Jy moet dan of 1) jou inkomstes verhoog, 2) jou uitgawes verminder of 3) geld gaan leen. Die derde opsie maak net sin as jy weet dat daar ‘n beduidende toename in jou inkomste in die toekoms gaan wees – die rede, byvoorbeeld, hoekom studente tipies geld leen om hul studies te betaal.
Dit is dieselfde probleem waarmee die regering sit. Suid-Afrika se begroting klop nie, en ons moet daarom elke jaar meer-en-meer geld leen. As die ekonomie vinnig sou groei, soos dit in die 2000s onder Trevor Manuel gedoen het, dan is dit maklik om hierdie skuld af te betaal, omdat jou inkomstes – meer belastinginkomste, omdat mense ryker raak – toeneem. Maar as die ekonomie teen ‘n slakkepas aanpor soos nou, dan is daar nie hoop op groter inkomstes nie. Ons betaal reeds baie hoë belastings, en om dit verder te verhoog gaan net die ekonomie verder laat krimp. Ons kan ook nie veel meer leen nie, want daar is geen teken dat ons die peperduur rente in die toekoms sal kan bekostig nie. Die enigste manier om dus die tekort te verminder is om uitgawes te sny. Tito Mboweni, die nuwe finansminister, som dit goed op: ons moet die belt stywer vasdraai.
Nou goed, dis maklik gesê. Maar watter besteding moet ons dan sny? Ons uitgawes kan tipies opgedeel word in kapitaalbesteding (die bou of opgradering van paaie, klinieke of damme, byvoorbeeld), en verbruiksbesteding. Laasgenoemde bestaan uit ‘n verskydenheid items, onder andere besteding op onderwys en gesondheid, veiligheid en sekuriteit, sosiale toelae, rente, en staatssalarisse. Mboweni moet dus kies watter van hierdie items gesny gaan moet word.
Aan die begin van Oktober hou Cyril Ramaphosa sy eerste beraad wat hoop om beleggers na Suid-Afrika te lok en die ekonomie aan die gang te kry. Die Jobs Summit (Beraad oor Werksgeleenthede) het ten doel om die enorme werkloosheid in Suid-Afrika aan te bespreek. Maar ten spyte van die fanfare vooraf, word daar met weinig nuwe planne vorendag gekom. Die enigste werklike belangrike aankondiging is dat die regering en die vakbonde ooreenkom dat geen staatsamptenare afgedank sal word nie.
Nou ja, dit maak Mboweni se werk skielik baie moeiliker. Suid-Afrika is reeds een van die ontwikkelende lande met die hoogste salarisrekening in die wêreld; ons spandeer 34.2% van ons inkomste net om salarisse te betaal (meer as R524 biljoen jaarliks!). Dit is onvolhoubaar, en Mboweni, Ramaphosa en kie weet dit baie goed. Daarom is die ooreenkoms op die onlangse beraad so lagwekkend; dis asof ons soos die mitiese volstruis ons kop eenvoudig in die grond wil indruk en hoop ons probleme los hulself op.
So waar anders kan ons sny? Wel, ons kan sosiale toelaes verlaag, maar dit is basies polities onmoontlik, veral in die jaar voor ‘n verkiesing. Ons sou besteding op onderwys, of gesondheid, of sekuriteit kon sny, maar dié opsie is ook beperk in die korttermyn, omdat dit nie net maklik is om skielik skole of klinieke of tronke toe te maak nie. En Ramaphosa het reeds gesê dat hy nie kapitaalbesteding sal sny nie, want dit is die ding wat groei aanvuur.
Dit los die nuwe minister met baie min opsies. Een is om staatsbates te verkoop. Die staat besit baie grond, byvoorbeeld, en het aandele in ‘n hele aantal winsgewende maatskappye. Maar dit sal ‘n dwase stap wees om ‘n kapitaalbates te verkoop om salarisse te betaal – dit sou meer sinvol wees om daardie inkomstes te gebruik om infrastruktuur te bou, byvoorbeeld, of belasting te verlig.
Die slegste opsie is dat die minister maar voortploeter soos tans: betaal die duur salarisse, en sien hoe die begrotingstekort al hoe groter raak. Ten minste kom hy en die president dan hulle beloftes na. Maar dan is daar net een uitkoms: die graderingsagentskappe maak ons skuld duurder, wat ons dwing om by instansies soos die IMF aan te klop. Indien dit gebeur, gaan hulle eenvoudig vereis dat die salarisrekening krimp, ongeag watter beloftes gemaak is, en waarskynlik baie ander drakoniese bestedingsbeperkings ook vereis.
Die president het ‘n keuse gehad op sy onlangse beraad tussen die blou pil om almal gelukkig te hou en die rooi pil om die staatsfinansies reg te ruk. Ongelukkig het hy die blou pil gekies. As die ekonomie nie wonderbaarlik vinnig herstel nie, gaan ons almal binnekort daarvoor betaal.