31 Oktober vanjaar, vyfhonderd jaar gelede, het Martin Luther sy 95 tesisse aan ‘n kerkdeur in Wittenberg, ‘n klein Duitse dorpie met minder as 5000 inwoners, vasgespyker. Teoloog Luther was in opstand teen die Katolieke Kerk se verkoop van toegewings (indulgences) om die pous se katedraal in Rome te befonds: ‘Hoekom moet die pous’, skryf Luther in die 86ste tesis, ‘wie se welvaart groter is as die rykste Romein, St. Peter basillika met die geld van arm gelowiges eerder as sy eie geld befonds?’
Luther se kwelvrae aan die Rooms-Katolieke Kerk het ‘n breër sentiment raakgevat. Sy 95 tesisse het vinnig oor Duitsland versprei danksy die nuwe tegnologie wat Johannes Gutenberg ongeveer vyftig jaar tevore ontwikkel het: die drukpers. Dit was die begin van die Reformasie wat die Katolieke kerk sou skei van die nuwe Protestantse denominasies.
Nie net is nuwe geloofsgroepe gestig nie, maar die Reformasie het ook geweldige sosiale en ekonomiese gevolge gehad. ’n Opsomming van die nuutste navorsing oor die ekonomiese impak van die Reformasie is verlede jaar in die die tydskrif Explorations in Economic History publiseer.
Die artikel identifiseer drie algemene lesse: Die eerste is dat langtermyn sosiale en kulture veranderinge slegs moontlik is wanneer verskeie faktore saamval. Daar was altyd ‘n latente behoefte aan verandering binne die Rooms-Katolieke kerk, skryf die outeurs, maar eers met die ontwikkeling van nuwe kommunikasietegnologie (die drukpers), die opkoms van ‘n beduidende eksterne bedreiging (die Ottomane) en die bestaan van ‘n groot genoeg en goed-verbinde netwerk van simpatiserende studente, het die dele van die legkaart bymekaargekom.
Die tweede les is dat godsdiens dikwels langtermyn ekonomiese gevolge het. Protestantisme het nie net waardes soos spaarsamigheid aangemoedig nie, maar het ook godsdienstige inrigtings geskep wat onderwys, entrepreneurskap en sosiale netwerke bevorder het. ’n Handvol studies bevind, byvoorbeeld, dat Protestantse sendingstasies, in Afrika en elders, ‘n groot impak op veral die geletterdheid van vroue gehad het.
Die derde les is dat die Reformasie ook politieke instellings verander het. Die verspreiding van die Protestantse geloof is sterk gekorreleerd met die opkoms van parlemente, die sekularisasie van die reg, ’n toename in skole en universiteite, en ’n toename in sosiale toelae deur die staat.
Nie alle gevolge was egter positief nie. Protestantisme in Duitsland is ook gekorreleerd met die proporsie van die bevolking wat vir die Nazis gestem het, met selfdoodsyfers, met anti-Semitisme, en met die hoeveelheid ‘hekse’ wat op brandstapels gedood is. Hierdie bevindinge skets natuurlik ’n minder positiewe prentjie van Luther se rewolusie.
Die Reformasie en die gevolge daarvan laat mens egter dink aan meer onlangse rewolusies. Die skrywers vergelyk dit met die val van die Berlynse muur en die Arabiese Lente, waar al drie faktore – nuwe tegnologie, eksterne bedreiging en ’n sterk netwerk van eensgesindes – ook tot ’n mate teenwoordig was.
Kan die lesse van die Reformasie ons eie politieke rewolusie teweegbring? Daar is al lank by baie Suid-Afrikaners, vermoed ek, ’n weersin in die aksies van ons president. Was dit nie juis hy wat homself met ’n Nkandla-paleis verryk het nie?
Tot dusver het enige poging om hom te ontwortel egter skipbreuk gelei. Hoekom? Nuwe kommunikasietegnologie soos Twitter en Facebook maak dit nou maklik om sosiale optogte te organiseer – vra maar net vir die studente. En dat daar ‘n goed-verbinde netwerk is, is ook duidelik. Wat wel tot dusver ontbreek het is die eksterne bedreiging: die Ottomane op ons voorstoep.
Met Zuma wat Pravin Gordhan en Mcebisi Jonas herroep het, het hy die Gupta-broers die nommereen vyand van alle Suid-Afrikaners gemaak. Hulle staan by die stadsmure, reg om die vooruitgang van die afgelope twee dekades te plunder.
Sal die kombinasie van hierdie drie faktore nou die rewolusie begin waarvoor ons al jare wag? Ek weet nie. Wat ek wel weet, is dat ‘n onbekende teoloog in ’n klein Duitse dorpie die magtige Rooms-Katolieke kerk aangevat het met niks meer nie as ’n spyker, ’n hamer en ’n papier vol geskriffelde kwelvrae, en daarmee die toekoms onherroeplik verander het. Dis tyd vir Suid-Afrika se eie Martin Luther om op te staan.