Die wonderlike ding van die markstelsel, soos Adam Smith dit meer as twee-en-‘n-half eeue gelede verduidelik het, is die manier waarop pryse mense se besluite beïnvloed. Smith se voorbeeld was dié van ‘n skoenmaker: indien mense skielik meer skoene benodig, gaan die pryse van skoene styg. Daar gaan dus ‘n insentief wees vir skoenmakers om meer daarvan te produseer. Dit werk ook andersom: indien daar ‘n droogte is wat die prys van leer laat toeneem, sal verbruikers genoop wees om duurder skoene te koop. Hulle sal dus òf minder skoene koop (en eerder kaalvoet rondloop of met net een paar skoene oor die weg kom) òf, as hulle skoene móét dra, sal hulle minder van iets anders (soos klere) kan bekostig. Hoë pryse beteken dus dat mense meer geneig is om na alternatiewe te soek.

In hierdie konteks is dit interessant om oor die verlaging in die olieprys die afgelope paar maande te dink. In September 2014 was die olieprys nog bo $110 per vat, terwyl dit nou skaars bo $60 verhandel; ‘n merkwaardige (en vir meeste vooruitskatters, onverwagse) insinking. Maar wat is die gevolg van die daling in die olieprys? Vir lande soos Suid-Afrika wat hul olie invoer – dit is inderdaad Suid-Afrika se grootste invoerproduk – bring dit welkome verligting op die handelsbalans (die verskil tussen uitvoere en invoere). Dit het natuurlik ook ‘n effek op die prys van ander minerale, soos platinum en goud, waarvan Suid-Afrika baie uitvoer, so die netto-effek vir die Suid-Afrikaanse handelsbalans is nie so duidelik nie.

Maar vir die deursnee Suid-Afrikaanse verbruiker is dit dalk meer relevant om te dink oor die mikro-ekonomiese veranderinge wat ‘n daling in die olieprys, of dan nou petrolprys, gaan inhou. Hoe gaan ‘n permanente daling in die petrolprys Suid-Afrikaners se besluite beïnvloed? Die mees voordiehandliggende aspek van spotgoedkoop petrol is dat mense meer van padvervoer gebruik gaan maak. Daardie pendel tussen Johannesburg en Pretoria is skielik nie meer so duur soos voorheen nie. Mense kan verder van hul werk af woon – hallo suburbia! Voorspelling: ‘n toename in motorverkope (omdat ‘n tweede en selfs ‘n derde motor per huishouding nou aanloklik lyk) en ‘n toename in voorstedelike huispryse. Dis ook nie meer nodig om net ‘n basiese motor te koop nie; met goedkoop petrol gaan daardie Hummer skielik aantreklik lyk.

Historiese hoë oliepryse het veroorsaak dat mense alternatiewe moes soek. Baie huisgesinne het besluit om nader aan die werk te bly, en met net een motor oor die weg te kom. Ander het besluit om eerder van publieke vervoer gebruik te maak, soos minibusse of die Gautrain. Sommige het fiets gery. Al hierdie veranderinge was positief: die nalatenskap van apartheid beteken dat Suid-Afrikaners heeltemal te ver van hul werkplek bly, en heeltemal te min van publieke vervoer gebruik maak. (Volgens ‘n 2011 verslag van die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling spandeer Suid-Afrikaners gemiddeld 56 minute per dag in verkeer, die meeste van die 24 lande wat by die studie ingesluit is.) Laer oliepryse gaan beteken dat hierdie (beter en gesonder) alternatiewe skielik nie meer so aantreklik is nie.

Meer belangrik nog, hoë oliepryse het entrepreneurs soos Elon Musk, ‘n gebore Suid-Afrikaner wat nou in Amerika woon, aangemoedig om elektriese motors te ontwikkel wat nie van olie afhanklik is nie. Sulke innovasies was finansieël lewensvatbaar met ‘n olieprys van bo $100 maar gaan waarskynlik skipbreuk ly as die olieprys onder $60 bly. Dit is ‘n jammerte, omdat ‘n wêreld van elektriese motors (plus Google se self-aangedrewe motor) die belofte van ‘n skoner en veiliger toekoms ingehou het.

Wanneer die prys van iets styg, vind mense alternatiewe. Hoë arbeidskoste beteken boere en nyweraars meganiseer. (Terloops, hoë arbeidskoste was die rede hoekom James Hargreaves die Spinning Jenny ontwikkel het, wat die begin van die Nywerheidsomwenteling ingelui het.) ‘n Hoë (en stygende) olieprys, het innoveerders (wetenskaplikes en entrepreneurs) die insentief gegee om na beter (en goedkoper) alternatiewe te soek. ‘n Daling in die olieprys, soos wat ons die afgelope paar maande gesien het, gaan hierdie nuwe innovasies vertraag en dalk heeltemal kelder.

So hier’s my advies: In plaas van nog ‘n motor of ‘n groter huis verder van die werk af, kies eerder om die ekstra inkomste van ‘n laer petrolprys te investeer in beleggings wat langermynvoordele vir jou en jou gesin inhou: soos in onderwys (doen daardie na-uurse kookklasse of leer daai Afrika-taal wat jy nog altyd wou), of in gesondheid (sluit aan by ‘n Pilates-klub of gaan hou ‘n paar dae vakansie in die Drakensberge; geestelike gesondheid is net so belangrik as fisiese gesondheid). Of belê in sonpanele, raak deel van ‘n saamryklub, of begin selfs daardie onderneming wat jy al lankal dreig om te doen, en ondersteun só ‘n meer volhoubare ekonomie. Ons moet versigtig wees dat die korttermynvoordele van ‘n laer olieprys nie ten koste kom van ‘n beter, skoner, veiliger toekoms vir ons en ons kinders nie.