Wat bepaal die salaris wat firmas aan werknemers betaal? Dis ‘n belangrike vraag. In ‘n land soos Suid-Afrika met ‘n werkloosheidskoers rondom 30% is die passing tussen werkgewers en werknemers power. Daar is bloot te min poste beskikbaar teen die prys waarteen mense bereid is om te werk. Hierdie wanbalans beteken dat miljoene Suid-Afrikaners nie ‘n inkomste genereer wat hul lewensgehalte kan verbeter nie, met die geweldige sosiale kostes van armoede, misdaad en mismoedigheid wat daarmee saamgaan.

Die redes hiervoor is legio. Uit die werkgewer se oogpunt is daar verskeie hekkies. Ek gesels onlangs met ‘n aantal kleinsake-eienaars. Sonder uitsondering noem hulle die burokratiese katnes van arbeidswetgewing as een van die hoofredes hoekom hulle nie nog werknemers aanstel nie. Minimum lone is dalk in sommige beroepe soos huis- en plaaswerkers ‘n probleem, maar vir meeste entrepreneurs is dit eenvoudig die groot hoeveelheid adminsitratiewe rompslomp – en die moeite om ‘n onproduktiewe werker te laat gaan – wat hulle ontmoedig om nog ‘n werknemer in diens te neem.

Aan die ander kant is werknemers eenvoudig net nie goed genoeg opgelei met die vermoëns om hul produktiewe werkers te maak nie. Die ekonoom David Autor verduidelik dat Amerikaners met slegs matriek baie maklik werk in die 1970s sou vind as klerk of verkoopsagent. Maar noudat tegnologie daardie tipe beroepe oorbodig gemaak het, is die enigste alternatief vir mense sonder goeie opleiding persoonlike dienste-werke. Dit beteken dat die gaping tussen dié met universiteitsopleiding en dié daarsonder groter en groter word. Hierdie tendens is ook waar in Suid-Afrika, en waarskynlik die rede hoekom studente in 2016 universiteite tot stilstand gebring het om op gratis hoër onderwys aan te dring nie; hul toekomstige lewenskwaliteit het letterlik daarvan afgehang.

Op 9 Oktober bied Suresh Naidu, professor in Ekonomie by Columbia Universiteit, die vierdie LEAP Lesing op Stellenbosch aan waarin hy waarsku dat werkloosheid dalk nie die grootste probleem van die toekoms is nie. Inteendeel, sy navorsing wys dat alhoewel meeste mense ‘n werk sal kry, sal hulle salaris maar karig wees. Die rede hiervoor is dat firmas selde in ‘n volmaakmededingende mark besluite maak; firmas het tipies markmag wat hulle kan gebruik om werkers se salarisse laer te hou as wat die firma sou kon betaal. Hierdie verskil, verduidelik hy, is ‘n goeie manier om te dink oor ‘uitbuiting’: die verskil tussen wat jy verdien en wat die firma bereid is om vir jou dienste te betaal. Werkers kan natuurlik hierdie uitbuiting verminder deur ‘n unie te vorm en saam te onderhandel vir ‘n hoër loon, iets wat reeds sedert die laat neëntiende eeu gebeur het. Maar unies se invloed is al meer beperk, veral met die struktuur van die ekonomie wat wegbeweeg van mynbou en vervaardiging na die dienste-sektor. Waar unieleiers maklik rondom ‘n myn of fabriek werkers kan opsweep omdat hulle almal saam in een plek is en almal basies dieselfde verdien, is dit in vandag se dienste sektore nie die geval nie. Vandag se dienste-sektor werkers is wydverspreid en divers.

Dit is hoekom Naidu se prentjie op die toekoms van werk redelik bleek is. Daar gaan twee tipes beroepe wees, voorspel hy. Aan die een kant gaan jy persoonlike dienste werkers hê: sekuriteitswagte, gym-instrukteurs, huiswerkers, tuinmakers, persoonlike versorgers, Uber-drywers en als tussen-in. Hierdie tipe beroepe het min opleiding nodig en daarom is daar baie kompetisie vir hierdie beroepe, wat lone laag hou. Kyk maar alreeds na die kompetisie vir persoonlike vervoer: daar is nou nie meer net Uber nie, maar ook Bolt en inDriver en ‘n hele paar ander. Sulke kompetisie gaan verbruikers bevoordeel en hul toelaat om die prys van hul taxi-diens, en dus ook die loon aan die bestuurder, so laag as moontlik te hou.

Aan die ander kant van die spektrum gaan daar beroepe wees wat hoogs-tegniese kennis vereis, soos AI-programmeeerders. Hierdie werknemers gaan baie hoë salarisse verdien vir maatskappye soos Google en Naspers. Maar hierdie maatskappye gaan slim raak, en gaan programmeerders se eie algoritmes teen hulle gebruik om te bepaal wat die laagste loon is waarteen hierdie werkers steeds bereid is om te werk. So, ‘n AI-programmeerder kan dalk R5 miljoen per jaar verdien, maar Google sou waarskynlik bereid wees om hom R15 miljoen te betaal, gegewe die waarde wat hy toevoeg. Die verskil tussen wat hulle verdien en wat hulle sou kon verdien – die ‘uitbuiting’, soos Naidu dit noem – is dus R10 miljoen. Dít, verduidelik Naidu, is hoekom hoogs-opgeleide werkers baie meer geneig is om ‘uitgebuit’ te word as dié in ongeskoolde beroepe.

Dit als klink maar na ‘n saai bestaan: óf jy gaan in ‘n beroep wees wat jou skaars aan die lewe gaan hou, óf jy gaan in ‘n beroep wees waar jy netnet nie wil bedank nie. En alle salarisse gaan deur algoritmes bepaal word, met die mees produktiewe werkers wat die meeste verdien maar ook die meeste van hulle surplus teruggee aan die firma.

So wat kan gedoen word om hierdie distopiese toekoms te keer? Daar sal diep gedink moet word om werknemers meer mag te gee in onderhandelings. Naidu stel voor dat bedingingsrade op sektorale vlak ingestel word om lone met werkgewers te onderhandel. Suid-Afrika het reeds praktiese voorbeelde hiervan. Maar dit kan natuurlik maklik lei tot net meer administratiewe rompslomp wat kleinsake-entrepreneurs verder wurg, soos ons ook hier sien gebeur. En dis juis hierdie einste kleinsake-entrepreneurs wat die markmag van groot firmas moet inperk.

Daarom is dit tyd om tegnologie te ontwikkel wat die admin-las vir entrepreneurs verminder, ‘n virtuele assistant wat alle menslike hulpbronne, rekeningkundige en ander admin soos vereis deur die owerheid hanteer. Net soos tegnologie tot ‘n distopiese toekoms kan lei, kan dit, mits dit entrepreneurs bemagtig om sake te doen en nuwe werknemers te werf, ook die werkloosheidsprobleem aanspreek.

* ‘n Verkorte weergawe van hierdie skrywe het op 20 Oktober in Rapport verskyn.