Een van die mees kenmerkende verskille tussen die Zuma-era en die voorafgaande Mbeki- en Mandela-eras is die fokusverskuiwing van ekonomiese groei na herverdeling. Die mees algemene makro-ekonomiese aanwyser is alreeds ‘n goeie aanduiding van hierdie neiging: tussen 1994 en 2008 het per capita inkomste in Suid-Afrika met gemiddelde 1.6% per jaar toegeneem, maar sedert 2009 is dié syfer slegs 0.5% per jaar. Maar hierdie fokusverskuiwing is veral in die bestuurstyl van Zuma te bespeur: van die toename in ministersportefeuljes na die 2009-verkiesing, tot die mees onlangse onthullings van die owerheidsoorname deur die Gupta-broers en hul tentakels van invloed.

Die redes hoekom Zuma hierdie roete gevolg het en hoekom die ANC dit toegelaat het is ‘n werkskeppingsprojek vir toekomstige historici en politieke wetenskaplikes. Maar die meer indringende vraag vir ekonome en die res van die Suid-Afrikaanse samelewing is hoe ons so vinnig moontlik uit hierdie dilemma kan ontsnap. Wat as ons môre ‘n nuwe president kry, ‘n leier wat die belange van alle Suid-Afrikaners – maar veral van die armstes en mees gemarginaliseerdes – op die hart dra. Wat sal so ‘n president eerste doen?

‘n Nuwe artikel in die Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Ekonomie deur UV-ekonoom Phillipe Burger en US-ekonome Krige Siebrits en Estian Calitz verduidelik wat nodig is om die makro-ekonomie te probeer regruk. Suid-Afrika het onder die TM-era (Thabo Mbeki, Tito Mboweni en Trevor Manuel) geweldige vordering gemaak om die skuld-tot-BBP koers te verminder tot 27% (van 50% in 1994). Ongelukkig het hierdie daling gepaard gegaan met ‘n ewe-dramatiese daling in owerheidsinvestering (van 90% tot 55%). Sedert 2009 het staatsskuld weer toegeneem na 50%, maar owerheidsinvestering het nie dienooreenkomstig toegeneem nie. Die addisionele spandering was eerder op lopende uitgawes soos salarisse vir staatsamptenare. Die outeurs stel voor dat die regering nie noodwendig probeer om staatskuld weer te verlaag tot die vorige lae vlakke nie, want dit sal die lendelam ekonomie selfs verder skade aandoen. Sulke besuiniging (austerity) is juis wat in Engeland en elders in Europa groot ekonomiese letsels gelaat het die jare na die Groot Resessie.

Nee, die Suid-Afrikaanse Tesourie moet eerder mik om die staatsskuld op 50% van BBP te hou, stel die outeurs voor, maar dan moet lopende uitgawes vervang word deur owerheidsinvestering. In ander woorde: hou op om partytjies vir jou vriende te reël en belê eerder in jou kinders se studiefonds. Dit is natuurlik makliker gesê as gedoen, veral as jou vriende jou help om jou mededingers af te weer.

Maar kom ons sê dit gebeur inderdaad – en ‘n nuwe president gee die Minister van Finansies vrye teuels om die ekonomie reg te ruk. Waarin moet die Minister belê? Watter owerheidsinvestering is nou nodig?

Daar is natuurlik baie aanspraakmakers, waarvan infrastruktuur seersekerlik die belangrikste is. Maar watter infrastruktuur? Elektrisiteit? Wel, mens sou do dink, maar watter elektrisiteit? Opwekking of verspreiding? Sonder opwekking is daar niks om te versprei nie, maar sonder ‘n betroubare verspreidingsnetwerk kan baie elektrisiteit verlore gaan, wat opwekking nog duurder maak. En wat van wind- en sonkrag? En skaliegas wat binnekort in die Karoo ontgin gaan word?

En dit is als maar net vrae oor die elektrisiteitsverskaffing. Water, sanitasie, paaie, spoorweë, lugvervoer, hawens, telekommunikasie, behuising, onderwys, gesondheid, sport en baie ander infrastruktuur het ewe komplekse kwessies wat aangespreek moet word: Hoe gaan selfaangedrewe motors die behoefte aan padinfrastruktuur verander? Watter uitvoerprodukte (of –dienste) gaan die Suid-Afrikaanse ekonomie van die toekoms lewer, en watter infrastruktuur is nodig om hierdie entrepreneurs die beste te ondersteun? Hoe moet beskikbare radiospektrum wat noodsaaklik is vir laekoste, universele breëbandtoegang op die beste manier allokeer? Watter insentiewe kan geskep word om privaatskole aan te moedig om ook die armstes te bedien?

Die punt is: ‘n ekonomie verander nie bloot oornag van ‘n middelmatige groei-trajek in ‘n ekonomiese suksesverhaal nie. Ja, Zuma as president is die eerste en inderdaad belangrikste korttermyn struikelblok wat ‘n ekonomiese regrukpoging kelder. Maar selfs al is hy nie meer daar nie, is daar baie meer nodig, waaronder ‘n bekwame staatsburokrasie met die vermoë om geintegreerde ontwikkelingsstrategieë te bestuur.

Die goeie nuus is dat daar voorbeelde uit die verlede is hoe lande dit reggekry het om uit hierdie moeras van middelmatigheid te ontsnap. Japan in die 1960s. Suid-Korea ‘n dekade later. China en Indië die afgelope twee dekades. Ook in Afrika vandag: Botswana, Rwanda, Ethiopië. En Suid-Afrika van die Mandela en Mbeki eras. Natuurlik het hierdie lande ook foute, van mensevergrype tot politieke onvryheid. Maar die gemene deler in al hierdie lande is ‘n president en ‘n administrasie met ‘n daadwerklike poging om die koek groter te maak, eerder as om die kolwyntjie verder te verdeel.