In 2014, verduidelik ek nou-die-dag vir my tweedejaarsklas, was Sjina se BBP ‘n allemintige 9.2 triljoen Amerikaanse dollars. Dis nege, met 12 nulle. In teenstelling was Suid-Afrika se BBP in 2014 350 biljoen dollar, ‘n skamele 3.8% van die van Sjine. Hoekom is dit so verrassend, vra jy? Sjina het immers meer as ‘n biljoen mense, en Suid-Afrika net meer as 50 miljoen.

Die interessantheid lê daarin dat Sjina vanjaar teen ‘n verwagte 7% gaan groei. 7% van $9.2 triljoen is $644 biljoen, byna twee keer so groot soos Suid-Afrika se totale BBP. In ander taal: Sjina voeg elke jaar meer as Suid-Afrika se totale uitset by tot hul Bruto Binnelandse Produk. Dit is mind-boggling, soos een van die studente gesê het.

Sjina se hoë groeikoers is nie net te sien in die statistieke nie. ‘The Economist’ van 14 Maart rapporteer dat Sjina beplan het om tussen 2011 en 2015 82 nuwe lughawens op te rig; nuwe syfers toon dat meer as 100 nuwe lughawens in gebruik sal wees teen die einde van die jaar. (Vergelyk dit met Heathrow wat nou al dekades sukkel om ‘n derde terminaal te bou.)

Die geweldige ontwikkeling van fisiese kapitaal soos infrastruktuur gaan ook gepaard met die bou van wat ekonome ‘menslike kapitaal’ noem. Sjina stuur hul mees briljante studente na die beste universiteite in Amerika: volgens Bloomberg International het byna 275 000 Sjinese studente in 2014 in Amerika studeer, 31% van alle buitelandse studente in die VSA. In dieselfde week as wat studente by die Universiteit Kaapstad betoog het om Rhodes se standbeeld te verwyder, het Rhodes House in Oxford aangekondig dat hulle na 2 jaar se onderhandelinge op 30 Maart ‘n nuwe Rhodes Beursfonds vir Sjinese studente begin. Ai, die ironie. (Terloops, hoe het die media hierdie storie gemis?)

Sjina mag dalk ‘n kommunistiese politieke stelsel aanhang, maar die land se leiers verstaan dat, soos die ekonoom Gary Fields gesê het, jy kan nie ryk raak deur aan jouself te verkoop nie. Sjina se biljoen inwoners is die begunstigdes van hul massiewe globaliseringsoefening oor die afgelope drie dekades. Na raming het 680 miljoen Sjinese tussen 1980 en 2010 uit armoede ontsnap. Gegewe die lae geboortesyfers weens Sjina se een-kind beleid, gaan groeikoerse van bo 5% beteken dat Sjina se BBP per kapita dramaties gaan styg.

Dit kan net goeie nuus wees vir Suid-Afrika. Met Sjina se inkomste wat elke jaar toeneem met meer as die totale inkomste van alle Suid-Afrikaners, beteken dat daar ‘n oorrompelende vraag na ons produkte en dienste gaan wees: wyn uit die Kaap, platinum uit Noord-Wes, salm uit Lesotho (!). Ook ons dienste is in aanvraag: Naspers se aandeleprysstygings is hoofsaaklik vanweë hul belegging in Tencent in 2001. Sjinese toerisme na Suid-Afrika het ook sterk gegroei tot 2013, maar het in 2014 ingesink, waarskynlik weens vrese vir Ebola. Kom ons hoop Sjina se reisoperateurs kan hulle swellende middelklas oortuig dat Suid-Afrika steeds die plek is om te besoek (die Wêreld Toerisme-organisasie verwag dat Sjina vanjaar Amerika sal verbyvat as die land met die grootste buitelandse besoekerstal). Dit sal help as ons Minister van Binnelandse Sake dit vir hulle so maklik is moontlik kan maak.

Ons uitdaging, egter, is om meer goed van waarde te produseer wat die rykerwordende Sjinese wil koop. Hiervoor benodig ons ‘n opgeleide en entrepreneuriese arbeidsmag. ‘n Student vra my onlangs na ‘n lesing wat dit is wat sy kan doen om Suid-Afrika ‘n beter plek te maak. Daar is natuurlik baie opsies: word ‘n politikus en veg vir die handhawing van ons grondwetlike regte, begin ‘n nie-regeringsorganisasie wat werksgeleenthede skep vir die armes , veg vir die menseregte van immigrante, gaan werk vir die staat en help stuur ekonomiese beleid in die regte rigting, of doen wat ek doen, verduidelik ek, en help ‘n nuwe generasie op hul voete staan.

Maar, om eerlik te wees, ek dink sy kan beter doen. My raad aan haar? Wees entrepreuries en begin ‘n suksesvolle onderneming. Dit gaan harde werk wees, maar as jy gelukkig is kan jy daaraan bou en ‘n dekade of twee later aan die stuur wees van ‘n multi-nasionale maatskappy wat die wêreld (Sjina!) oorrompel met jou tegnologie en bestuursvernuf. Só ‘n maatskappy skep werk, en die skep van nuwe werksgeleenthede is die enigste manier hoe ons die verkruppelende ongelykhede en armoede in Suid-Afrika gelyktydig kan takel. Raak ryk, my kind, en betaal jou belasting. Belastinginkomste is die enigste manier hoe die regering die broodnodige (herstel van) infrastruktuur kan finansier.

Kyk maar na ons eie sake-pioniers: Anton Rupert, Mark Shuttleworth, Wendy Luhabe, Koos Bekker, Herman Mashaba, Jannie Mouton. Hierdie entrepreneurs het deur visie, vindingrykheid en deursettingsvermoë baie meer Suid-Afrikaners – wit en swart – ’n beter lewe gegun as wat politici ooit sou kon.

En dít is hoe mens ‘n nalatenskap bou wat niemand met ‘n hamer kan afbreek nie.

Bronne:

http://www.bloomberg.com/news/articles/2014-11-17/chinese-students-at-u-s-universities-jump-75-in-three-years

http://www.economist.com/news/china/21646245-chinas-frenzied-building-airports-includes-work-city-sized-projects-aerotropolitan-ambitions

http://www.economist.com/news/briefing/21578643-world-has-astonishing-chance-take-billion-people-out-extreme-poverty-2030-not