Reis deur Wes-Europa, en jy sal dadelik verskille agterkom in Europeërs se benadering tot tyd. In Noord-Europa – Duitsland of Denemarke, byvoorbeeld – is doeltreffendheid die wagwoord. Jy kan jou treinrit tot op die sekonde beplan. In Italië of Spanje is dinge effens gemakliker. Treine en vliegtuie hou dalk by die skedule, maar haal maar jou horlosie vir aandete af, wanneer dit uiteindelik begin.
Redes vir hierdie verskille in tydsverbruik is legio: dis die klimaat, sê sommige, want wie wil nie siesta in die namiddagson nie? Ander sê dis die kos: die wyn en olywe en Mediterreense slaaie wat die stresvlakke in toom hou. Ander sê dis die antieke kultuur: die Grieke en Romeine wat millennia gelede al besef het waaroor die lewe eintlik gaan.
‘n Nuwe artikel in die gesaghebbende American Economic Review suggereer ‘n ander oorsaak vir hierdie verskille: die produktiwiteit van grond sedert ongeveer 10000 jaar gelede. Die argument gaan as volg: in streke waar grond vrugbaar was en boere gewasse kon saai wat ’n groot opbrengs kon lewer (dink aan koring of mielies), het kulturele praktyke ontwikkel wat vir mense ’n langtermynperspektief gegee het. Saai vandag, oes volgende jaar.
Die afstammelinge van hierdie aanvanklike boere is vandag dus meer geneig om in nuwe tegnologie en onderwys te belê, meer te spaar en, verrassend genoeg, minder te rook. Die outeurs, Oded Galor en Ömer Özak, ondersteun hierdie teorie met empiriese bewyse.
Maar hoe weet ons dis die tipe gewasse en nie die klimaat (wat natuurlik sterk gekorreleer is met die soort gewas wat gesaai kan word) nie? Galor en Özak gebruik ’n natuurlike eksperiment – die aankoms van Amerikaanse gewasse in Eurasië en Afrika weens die Columbiaanse Uitruiling van die sestiende eeu – om die teorie te bewys.
Dit werk só: waar Amerikaanse gewasse soos mielies of artappels of tamaties (wat voor die jaar 1500 nie in Europa bestaan het nie) wel in Europa gesaai is, is mense vandag meer geneig om ‘n langtermynperspektief te hê as in streke waar hierdie gewasse weens die klimaat nie gesaai kon word nie.
Die les: Indien jy ‘n vriend of familielid het wat nooit betyds vir ‘n afspraak opdaag nie, blameer dit op sy voorgeslagte wat nie met hoë-opbrengs gewasse geboer het nie. (Is dit ook hoekom Kapenaars – lees: wynboere – so stadig op die paaie ry, terwyl ons vriende in die noorde – lees: mielieboere – jaag asof elke sekonde saakmaak?)
Die antieke landbouaktiwiteite van ons voorgeslagte beïnvloed ons op ’n ander manier dalk ook. In ‘n artikel in die Journal of Economic Development skryf Ola Olsson en Christopher Paik dat Noord-Europeërs baie meer individualisties is as hul suidelike eweknieë. In vraelyste meet Italianers en Spanjaarde hoog op kenmerke soos gehoorsaamheid en eerbiedigheid, terwyl Dene en Hollanders eerder kenmerke soos individualisme en vryheid-van-denke openbaar. Hulle skryf hierdie verskille ook aan boerderypraktyke toe, maar die storie is effens meer ingewikkeld. Boerdery, argumenteer hulle, bevorder kollektiewe waardes soos gehoorsaamheid aan ‘n hiërargiese orde.
Omdat die Neolitiese Rewolusie (die oorgang van jag-versamelaarsaktiwiteite na boerdery-aktiwiteite) in die suide van Europa ontstaan het, het hierdie gemeenskappe oor duisende jare kollektiewe karaktereienskappe ontwikkel. Die meer vrydenkendes in hierdie samelewings is uitgeskop, en het noord getrek. Daar het hulle nuwe boerderygemeenskappe gevorm, wat weereens die waardes van gehoorsaamheid en eerbiedigheid gekweek het.
Weereens is die meer individualistieses onder hulle uitgeskop, en het verder noord getrek. Hierdie proses het aanhou plaasvind, met die mees individualistieses wat uiteindelik in Noord-Europa ‘aangekom’ het en die mees kollektiewes in Suid-Europa agterbly het.
Waardes soos gehoorsaamheid of individualisme het ‘n invloed op ons gedrag, en uiteindelik ook op ons welvaart. Is individualisme ingeprent in jou, gaan jy dalk meer geneig wees om leiers se besluite te bevraagteken. Is doeltreffendheid jou wagwoord, gaan jou beleggingshorison dalk langer wees.
Dit beteken nie ons moet fatalisties leef nie. Daar is baie ander faktore wat ons besluite beïnvloed: jy kan nie jou oeroupa blameer vir die feit dat jy ten spyte van al die gesondheidswaarskuwings steeds kies om te rook nie. En, op ‘n makro-vlak, antieke landboupraktyke verduidelik nie hoekom Suid-Korea soveel ryker is as Noord-Korea nie.
Maar miskien maak studies soos hierdie dit vir ons effe makliker om te verstaan waarom stiptelikheid nie vir almal ewe belangrik is nie, of hoekom sommige mense meer geneig is om die groep bo die individu te plaas, selfs al is dit ten koste van hulself.
Die mens se keuses, blyk dit, is baie meer kompleks as net ‘n eenvoudige koste-voordeel analise. Baie van ons daaglikes doen-en-late is onbewustelik diep gewortel in ons verre verlede.