Ekonome is gereeld in die onbenynswaardige posisie dat ons die teenkant van ’n saak moet stel. Wanneer aandelemarkte of huispryse flink styg, sal ons skepties wonder of dit nie vroeë tekens van ’n borrel of oorverhitting is nie. Net so, wanneer dinge swaar trek, soos nou, is ons taak om versigtig optimisties die toekoms in te staar en te wonder: Is daar nie tog groen blaartjies wat ons tans miskyk in die braak grond van die Suid-Afrikaanse psige nie?

Die beste ding in só ‘n situasie te doen, vind ek, is om jou tydshorison te verleng. Ja, vir baie redes was 2016 ‘n moeilike jaar vir baie mense. Vir dié van ons wat by ‘n universiteit werk, was dit veral moeilik: ek moes self twee studente met ‘n brandblusser in ’n klaskamer konfronteer. This is not what I signed up for.

Maar ten spyte van ’n jaar wat te veel die mens se swak kant beklemtoon het – vreemdelingehaat, tropmentaliteit, magsug – ís daar inderdaad genoeg rede om die groter prentjie ingedagte te hou.

Oxford ekonoom Max Roser herinner ons dat, ten spyte van somber ekonomiese vooruitsigte wêreldwyd, ons steeds elke dag die afgelope dekade die koerant kon oopmaak en die volgende opskrif lees: ‘130 000 mense het gister uit armoede ontsnap’. Die spoed waarteen armoede wêreldwyd daal is steeds een van die mees verbasende – en onderbeklemtoonde – stories van ons tyd. (Dink só daaraan: in die tyd wat jy hierdie rubriek klaar gelees het, het 400 mense uit armoede ontsnap. En nee, hulle is nie almal Chinese nie. En ja, baie van hulle woon in Afrika.)

Armoede is natuurlik nie net ’n huisgesin se tekort aan geld nie, maar ook die gehalte van hul mediese sorg, toegang tot onderwys, en baie ander faktore. Ook op hierdie gebiede is mense vandag baie beter af as hul ouers, en veral hul grootouers. Lees gerus die Sweed Johan Norberg se fantastiese boekie Progress: Ten Reasons to Look Forward to the Future vir meer feite oor hoe mense se lewensstandaarde toeneem.

Maar dis nie net dat armoede kwyn nie, dit is die spoed waarteen dit gebeur wat fassineer. Tegnologiese vooruitgang, die sleutel tot dinge beter en vinniger produseer, is meestal verantwoordelik vir ’n rykerwordende wêreld, en met ’n ryker wêreldbevolking en meer mense wat universiteit toe kan gaan, is daar ook geen keer aan die kreatiwiteit en vindingrykheid van mense om nuwe tegnologieë te ontwikkel nie.

In April, byvoorbeeld, land Elon Musk se SpaceX hul Falcon 9 vuurpyl op ’n drywende seeplatform. Dit bring goedkoop ruimtereise nader aan ’n werklikheid. In Augustus stel die Massachusetts Institute of Technology ’n nuwe lithium-iron battery bekend wat dubbel so sterk is as voorheen. Dit kan elektriese motors en hernieubare energie spotgoedkoop maak. Op 4 November kondig navorsers in die Verenigde Koningkryk aan dat hulle ’n nuwe ‘superkoring’ kan kweek wat opbrengste vermeerder met 20 tot 40%. Dit kan voedselpryse beduidend laat daal. En op 28 November begin ’n groot navorsingsprojek in Suid-Afrika om die sukses van HVTN 702 as entstof vir HIV te toets. Die implikasies daarvan vir suidelike Afrika is enorm.

Ook op sosiale gebied maak ons vordering, al gee sosiale media mens soms ’n ander indruk. Die Instituut vir Rasseverhoudinge se Februarie-verslag dui dat meeste Suid-Afrikaners dink dat rasseverhoudinge het verbeter sedert 1994. En selfs in die politiek is daar vordering. Terwyl minder as 3% van parlementslede voor 1994 vroue was, is 41% van die verteenwoordigers in die Nasionale Vergadering vandag vroue. Na die munisipale verkiesings in Augustus is daar skerper mededinging op plaaslike vlak. Dit sal hopelik die korrupte praktyke van gevestigde ampsdraers bekamp. En ten spyte van ’n president wat net na homself omsien, is die teenkragte van ’n vrye media, onafhanklike howe, opposisiepartye met jong, energieke leierskap, en ’n onrustige faksie binne die ANC self genoeg om te verseker dat hy nie die kluts heeltemal kwyt raak nie.

My generasie het grootgeword met die idee van Suid-Afrika as ’n wonderwerkland. En wat na 1994 gebeur het was niks minder as dit nie. Maar daar is geen rede om te verwag dat ons dit moes bly nie. Wat in 2016 wêreldwyd gebeur het moet ons laat besef dat vordering nie vanselfsprekend is nie. Dit kos harde werk, geduld, en vra dat ons, soos ’n goeie ekonoom, somtyds moet terugtree om die groter prentjie te sien.