Een van my groot drome op skool was om deel te wees van die span wat die Olimpiese Spele na Kaapstad bring. Verbeel jou: ‘n openingseremoniefakkel wat aangesteek word met Tafelberg in die agtergrond; Nuweland wat omskep word in ‘n binnenshuise bokskryt; roei in die Waterfront; die bulte van die Bo-Kaap wat die marathonatlete onderkry.

Tydens my Magisterstudies het my studieleier my aangemoedig om die finansies van mega-sportgeleenthede te ondersoek. As jy so graag die geleentheid wil aanbied, Johan, vind dan self uit wat die ekonomiese voordele daarvan gaan wees, was sy raad. En vir die volgende paar jaar sou ek ‘n groot deel van my navorsing daaraan wy.

Die antwoorde wat ek gevind het, het my entoesiasme geblus. Mega-gebeurtenisse soos die Olimpiese Spele of die Sokkerwêreldbeker hou weinig ekonomiese voordele vir ‘n land in. Ja, toerisme neem (meestal) toe, maar die vraag is natuurlik wat die koste van elke addisionele toeris is. Drie gesaghebbende akademici, Thomas Peeters, Victor Matheson en Stefan Szymanski,  het onlangs hierdie vraag vir Suid-Afrika se 2010 Wêreldbeker beantwoord: $13000 vir elke nie-SADC besoeker. Dit was ‘n duur partytjie.

Suid-Afrika was egter een van die gelukkiges: toerisme het wel toegeneem en het, soos ek en ‘n Spaanse kollega in ‘n onlangse artikel toon, selfs in die drie jaar na die toernooi aanhou toeneem. (Die nuwe visa-regulasies tesame met die Ebola-pandemie en xenofobiese aanvalle het egter ‘n stokkie voor dit gesteek, en het heel moontlik al die voordele van die Wêreldbeker uitgewis.) Ander lande, soos Duitsland in 2006, was nie so gelukkig nie: daar het die Wêreldbeker geen effek op toerisme gehad nie. Hoe dan so? Die ding van groot sportgeleenthede is dat hulle ook toeriste verplaas, dit is, mense wat die land sou besoek om die natuurskoon of die strande te geniet besluit om nie die land te besoek nie omdat hulle nie wil meeding met sportentoesiaste nie. Die gereelde Duitse besoekers wat die land besoek vir die musiek en kultuur het eenvoudig besluit om nie in 2006 te gaan nie, en is toe eenvoudig vervang met (armer) sokkertoeriste.

Durban sal waarskynlik nie dieselfde probleem hê nie. Die Statebondspele word in die winter aangebied, wanneer Durban se buitelandse toerisme op ‘n laagtepunt is. Maar dit is nogsteeds nie rede tot optimisme nie. Navorsing wys dat kleiner sportgeleenthede soos die Winter Olimpiese Spele en die Statebondspele byna geen addisionele toerisme na ‘n land bring nie. (Dit verduidelik ook natuurlik hoekom stede nie in ‘n lang tou staan om hierdie tipe geleentheid aan te bied nie: geen ander stad het met Durban meegeding nie.)

Maar kom ons wees optimisties. Miskien sal ‘n Statebondspele in ‘n ontwikkelende land soos Suid-Afrika wel meer toeriste inbring. Ons weet die Sokkerwêreldbeker het ongeveer 300 000 addisionele toeriste na Suid-Afrika gebring. Gegewe die skaal van die byeenkoms is daar egter geen manier wat die Statebondspele die verwagte 200 000 addisionele toeriste na Suid-Afrika sal bring soos die Durban-boddokument beloof nie. Ek vermoed die ware hoeveelheid sal tussen 20 000 en 50 000 wees. En die koste? ‘n Verwagte R6.7 biljoen uit die staatskas. Let wel: ex ante beramings soos hierdie is byna altyd onderskat.

Maar kom ons aanvaar dat dit werklik net R6.7 biljoen gaan wees en ons doen die deelsom:  die staat gaan dus R134 000 per toeris spandeer (as ons reken op 50 000 addisionele toeriste). Dit is baie naby aan dieselfde bedrag wat Peeters, Matheson en Szymanski vir die Wêreldbeker gevind het. Selfs as ons op die onglobare 200 000 addisionele toeriste reken, is dit steeds R33 500 vir elke touris.

Die punt is: moenie addisionele toerisme gebruik as ‘n argument om ‘n mega-sportgeleentheid aan te bied nie. Dit is ‘n baie duur manier om ‘n paar addisionele toeriste te lok.

Maar is daar ander redes om só ‘n sportgeleentheid aan te bied? Hoekom is die mededinging dan so straf om die Olimpiese Spele of Sokkerwêreldbeker aan te bied?

Die antwoord: dis polities aantreklik. Politici se korttermynprioriteit is om verkiesings te wen. ‘n Sportgeleentheid bring baie mediadekking (goed vir ‘n politici se kanse om herverkies te word), terwyl die kostes van die geleentheid gewoonlik versprei kan word deur van ander begrotingsitems te verminder (wat dus nie direk met die politikus verbind kan word nie). Romeinse keisers het hierdie taktiek al eeue gelede ontdek: hou die gepeupel gelukkig met gevegte in die Coliseum.

Dit is ook ‘n manier vir stede om ‘n groter deel van die nasionale koek te kry: omdat Durban nou ‘n 2022 sperdatum het, gaan hulle waarskynlik ‘n groter toename in infrastruktuurbeleggings van die Nasionale Tesourie ontvang as wat Kaapstad of Johannesburg sal. ‘n Mega-sportgeleentheid is in daardie opsig ‘n slim manier vir ‘n stad om hoër op die regering se prioriteitslys te skuif.

Ek het die 2010 Sokkerwêreldbeker in Suid-Afrika terdeë geniet. So ook het duisende ander Suid-Afrikaners. En die positiewe ervaring het beslis ons aansien in die buiteland verhoog; toerisme het in die jare na die toernooi vinniger toegeneem as wat dit sou indien ons nie die toernooi aangebied het nie. Kaapstad Internasionaal is vernuwe, King Shaka is gebou en die Gautrain is voltooi, alles infrastruktuurbesteding wat waarskynlik nie so vinnig sou gebeur het indien daar nie ‘n 2010 sperdatum was nie.

Maar die koste was hoog, en is steeds hoog vanweë baie stadions wat nie gebruik word nie. Die hoë koste van mega-sportgeleenthede regverdig eenvoudig nie die bietjie meer toeriste en ‘goeie gevoel’ wat ons het tydens die geleentheid nie.

My eie en ander se navorsing het my gedwing om my grootworddrome realisties in die oë te kyk : daar is ander, meer dringende prioriteite in Suid-Afrika as ‘n Olimpiese Spele in Kaapstad, of ‘n Statebondspele in Durban. Instede van ‘n goue medalje, sit Durban (en Suid-Afrika) nou met ‘n albatros om haar nek.