Gregoire Boonzaier, Cottage Interior, Kanettefontein, Wellington, 1943

Afrikaners hou darem van ‘n underdog-storie. Ons kies Dawid bo Goliat, die buiteperd bo die gunsteling. Baie van ons glo die Springbokke speel beter as hulle underdog-status het.

Historici vertel ons nou al byna ‘n halfeeu lank dat Afrikaners hul eie underdog-storie het. Van ‘n sukkelaarslewe as bestaansboere het die Afrikaners hulself transformeer in ‘n welvarende ‘volk’ in die twintigste eeu. Baie sou hulle volksbewussyn agterlaat in die 1970s, maar dit sou hulle nie keer om superryk te word nie. Vandag is van die ryksste Suid-Afrikaners wit Afrikaanssprekendes.

Hierdie is die storie van David Meades se nuwe boek, Afrikaner-kapitalisme: van brandarm tot stinkryk. Behalwe dat die ryk is aan anekdotes – ‘n bietjie skindernuus oor die rykes en beroemdes – is die geskiedenis in die boek maar dun gesaai. Voor die twintigste eeu, skryf Meades, was kapitalisme ‘n ‘soort vloekwoord en ‘n persepsie is in die Afrikaner se kultuur ingemessel dat die sakewêreld duiwels is’. Hoekom was hulle dan so arm? Hermann Giliomee, in sy voorwoord, gee die antwoord: ‘Ten eerste het die Afrikaners gekom uit ‘n landelike agtergrond, oorheers deur bestaansboerdery waar die minsmotief nie deurslaggewend was nie. Ten tweede het baie boere hul vingers verbrand in transaksies met smouse, handelaars of banke.’

Meades en Giliomee sit die pot mis. Hulle herhaal inderdaad ‘n onwaarheid wat ‘n hele generasie Afrikaanse en Engelse historici wou glo, omdat dit albei groepe se politieke ideologie goed gepas het. Afrikaanse historici wou glo dat ‘n volk homself gered het – dat die Afrikaners uit die as van die Boere-oorlog verrys het op hul eie stoom, ‘n merkwaardige prestasie. Voor die oorlog was daar armoede, na die oorlog, ‘n opwaartse mars na welvaart.

Engelse historici wou ook glo Afrikaners was brandarm, maar vir ander redes. Hulle wou verduidelik hoekom Afrikaners die rassistiese apartheidbeleid van die twintigste eeu kon uitdink, en het die rede daarvoor gevind in die Afrikaners se eeue van ekonomiese en kulturele afsondering aan die onderpunt van Afrika. Hier is Alistair Sparks, byvoorbeeld: ‘Die Afrikaner is gevorm deur die ses generasies wat hulle verlore was in Afrika: ‘n volk wat die enorme ontwikkelinge van die agtiende-eeuse Europe heeltemal misgeloop het … ‘n volk wat in diepe eensaamheid agteruitgegaan het na ‘n selfs meer eenvoudige bestaan as hul Europese voorvaders, ‘n volk wat, sekerlik, die mees eenvoudige en agterlike fragment van die Westerse beskawing was.’

Beide groepe historici (insluitend Meades en Giliomee) is verkeerd. Afrikaners – Europese setlaars waarby ook slawe- en Khoi-herkoms sou inmeng – was, in die gemiddelde, nie brandarm bestaansboere nie. Daar was inderdaad armoedige boere. Maar die meerderheid was boere wat geproduseer het vir ‘n mark – wyn, brandewyn, koring, rog, gars, hawermout, skaap- en beesvleis, maar ook seep, toue, velle, en kerse. Hoe weet ek dit? Vir my doktorale studies het ek meer as 2500 inventarisse van hierdie boere ontleed, die goedere wat hul besit het en dit vergelyk met inwoners van Engeland, Nederland en die Chesapeake in Amerika. Die boere aan die Kaap het nie net baie meer beeste en skape besit nie, maar ook boeke en skilderye. Dít wys op ‘n samelewing wat baie meer welvarend was as wat historici ons wil vertel.

‘n Paar jaar later sou my PhD-student Christie Swanepoel die debiet- en kredietrekords in die inventarisse ontleed. Sy toon die wye web van lenings tussen boere. Al tydens die agtiende eeu sou sommige boere informele banke wees. Hierdie banke sou teen die 1830s met die afskaffing van slawerny ontwikkel in formele banke waarin baie boere aandele sou besit. Giliomee se suggestie dat banke die boere uitgebuit het skiet dus te kort: boere was die banke!

Dat Afrikaners die sakewêreld en kapitalisme as die duiwel gesien het maak selfs minder sin as mens verder die neëntiende eeu inbeweeg nie. In ‘n nuwe projek – die Frontiers of Finance-projek – ontleed ek en ‘n groep studente Kaapse maatskappye se stigtingsrekords net nadat goud ontdek is. Ons vind, byvoorbeeld, Paarlse boere wat hul spaargeld gebruik het om ‘n maatskappy soos die Matabeleland Exploration Company te stig op soek na goud in Rhodesië. Ons sou hierdie ouens vandag waagkapitaliste noem.

Dis belangrik dat ons die geskiedenis reg skryf. As ons dink Afrikaners het eers in die twintigste eeu ryk geword, dan sê ons eintlik dat die diskriminerende beleid van apartheid nodig was om mense ryk te maak. Dit sal ‘n verkeerde interpretasie wees. Afrikaners hoef nie die underdog te wees om suksesvol te wees nie – nie teen die Engelse, die Jode of die swart gevaar nie. Wat nodig is is ondernemingsgees, vindingrykheid en deursettingsvermoë, iets wat die Afrikaners al sedert die agtiende eeu baie van gehad het.

* ‘n Verkorte weergawe van hierdie skrywe het op 14 April in Rapport verskyn.