Dit is nie aldag dat mens ‘n uitnodiging kry om vir Landbouweekblad ‘n rubriek te skryf nie. Veral nie as jy nog nooit geboer het nie. En eintlik baie min van boerderymetodes of die plaasleefstyl weet. Ek was laas op ‘n plaas toe my oupa nog geboer het, met volstruise in Oudtshoorn se wêreld, en dit was byna twee dekades terug. Al wat ek onthou is dat om met volstruise te boer nie kinderspeletjies is nie, en ek vermoed dit geld nie net vir volstruisboere nie.

So wat sou ek aan die Landbouweekbladleser kon bied wat hulle nie reeds weet nie? My eie roete help dalk om te verduidelik. Na skool is ek Stellenbosch toe om Ekonomie te studeer. Ek het my M-tesis in 2006 ingehandig en toe begin doseer in die Ekonomie departement. Ek is vandag nog hier, nou as medeprofessor.

My onderwerp vir my destydse tesis was Suid-Afrika se infrastruktuuruitdagings. Net jammer niemand het dit gelees nie, want beurtkrag het dieselfde jaar begin. Vir die volgende twaalf jaar sou infrastruktuur aan die agterspeen suig as dit kom by Suid-Afrika se ekonomiese beleid. Te veel plunder van staatsbronne. Te veel korttermynverligting (hoër salarisse vir staatsamptenare) en te min langtermynhorisonne (soos infrastruktuurbeleggings). Ons begin nóú die vrugte daarvan pluk. Beurtkrag. Slaggate op ons paaie. Brûe wat ineenstort.

Maar energie- en padinfrastruktuur is natuurlik nie die enigste tipe infrastruktuur wat benodig word nie. Die waterkrisis in die Wes-Kaap het ook die behoefte aan meer en groter damme belig. En dis nie net vir drinkwater nie. Boere weet hoe broodnodig damme kan wees om ‘n goeie oes te verseker.

Na my M-tesis oor infrastruktuur sou my belangstelling verskuif na ekonomiese geskiedenis. Ek het in 2012 ‘n PhD aan die Universiteit van Utrecht in Nederland voltooi, en het begin om ekonomiese geskiedenis as vak te doseer.

Die geskiedenis is ‘n wonderlike plek om meer oor die grondbeginsels van ekonomie te leer. Wat maak sommige lande ryk en ander arm? Geld hierdie lesse ook vir individue? Vir ‘n hele paar duisend jaar – tot so onlangs as ‘n eeu gelede – was byna alle mense arm, en was boerdery hul primêre bron van inkomste. So, ‘n ander manier om dié vrae te vra is, wat sou sommige boere toegelaat het om uit te styg bo die res, en die samelewing te transformeer tot die hoë vlak van lewensstandaarde wat meeste mense wêreldwyd vandag geniet?

Damme, is een antwoord. Infrastruktuur. Kapitaal. Die mees fundamentele konsep binne ekonomie is Adam Smith se idee dat welvaart geskep word deur arbeid te kombineer met kapitaal. Dit laat werkers toe om te spesialiseer en ‘n surplus te produseer. Hierdie surplus word dan verkoop vir ‘n wins, en ‘n deel van daardie wins word dan verder belê in kapitaal wat die volgende surplus nóg groter maak. Dít is hoe mens welvaart skep.

Dit is geen verrassing dat boerderye vandag ál meer kapitaalintensief word nie. Hoe minder mense saam met meer kapitaal gevoeg word, mits die kapitaal natuurlik nie te duur is nie, hoe groter gaan die surplus wees. Maar dit geld nie net vir vandag se tegnotrekkers en ander gesofistikeerde masjinerie nie. Al sedert Antieke Egipte is damme en die besproeiing wat dit bied een van die mees belangrike vorme van kapitaal wat boere instaat gestel het om groot surplusse te produseer.

Dit is hoekom ‘n nuwe artikel in die Journal of Development Economics so verrassend is. Die artikel, geskryf deur Elizabeth Mettetal, vind dat die bou van nuwe damme na 1994 in Suid-Afrika se voormalige tuislande tot ‘n daling in lewensverwagting vir die gemeenskappe wat daar rondom woon gelei het. ‘n Nuwe dam, bereken Mettetal, het gemiddeld tot ‘n styging in kindersterftes van tussen 10 tot 20% gelei. Hierdie kapitaalinvestering was dus sleg vir die omliggende gemeenskappe.

Hoekom sulke vreemde resultate? Mettetal toon dat die konstruksie van damme tot meer besoedeling van die nabygeleë gemeenskappe se drinkwater gelei het. Hoewel landbouproduksie voordeel getrek het uit die nuwe damme (soos mens sou verwag), het mense ook siek geword omdat, volgens haar, daar meer chemikalieë in die water was. Ek kan aan nog ‘n rede dink. Die Antieke Romeine het ook, weens klimaatsverandering en die behoefte aan water vir hulle landerye, damme begin bou. Dit het natuurlik die verspreiding van muskiete aangemoedig. Een teorie vir die val van die Romeinse ryk is die verspreiding van malaria. Dis baie vreemd dat Mettetal nie malaria enigsins in haar artikel noem nie.

Die punt is: damme het hul voor- en nadele. Dit beteken natuurlik glad nie dat mens nie moet belê in nuwe infrastruktuur nie. Hierdie tipe navorsing toon bloot dat mens goeie impakstudies moet doen voor die bou van nuwe infrastruktuur, sodat mens die negatiewe effekte kan keer – soos, byvoorbeeld, deur ‘n watersuiweringsaanleg saam met die dam te bou (as die oorsaak van die hoër mortaliteitskoerse inderdaad besoedeling is).

Hierdie is die soort navorsing wat ek in die toekoms hier sal bespreek. Ekonomiese geskiedenis studies soos Mettetal s’n help ons om te dink oor die dinge wat nodig is om ‘n welvarende samelewing te bou. En al sou ek self maar sukkel as boer, weet ek dat mens nie jou kop soos ‘n volstruis in die sand moet steek as dit by die lesse van die verlede kom nie.

Lees die volledige artikel hier